Geskryf deur: CfaN
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Christ for all Nations (CfaN), die massa-evangelisasie-bediening wat deur wyle Reinhard Bonnke gestig en nou deur evangelis Daniel Kolenda gelei word, vier 50 jaar van die verkondiging van die Evangelie in Afrika asook meer as 90 miljoen gedokumenteerde besluite om Christus te volg. Hierdie verstommende prestasie getuig van die bediening se toewyding, passie en gehoorsaamheid aan die Gees se leiding. Om hierdie fenomenale mylpaal te vier, het CfaN onlangs ’n fondsinsamelingsbanket in Kaapstad aangebied, met spanlede wat van oral uit die wêreld na die Moederstad gevlieg het. Die gaste is geïnspireer deur Daniel Kolenda wat van ’n paar van sy kragtigste bedienings-herinneringe oor die jare vertel het en ook die bediening se visie vir hierdie volgende dekade met die gehoor gedeel het.

50 veldtogte in een jaar
Om hierdie merkwaardige herdenking te vier, sal CfaN harder werk as ooit tevore en vanjaar 50 Evangelie-veldtogte hou! Dit oortref verreweg die maksimum aantal evangelisasieveldtogte wat CfaN nog in ’n jaar gehou het. Dit is nietemin moontlik danksy die intense uitbreiding van die bediening wat sedert die begin van hierdie dekade plaasgevind het – alles deel van Daniel se “Dekade van Dubbele Oes”-visie, wat streef om 150 miljoen gedokumen-teerde bekerings te bereik teen 2030.

Ambisieuse evangelisasiedoelwit
In ’n onderhoud met JUIG! Tydskrif het ons met Daniel gesels oor die ambisieuse doelwit om binne een jaar 50 Evangelie-veldtogte oor Afrika te hou. “Ja, dit is ambisieus!” het hy gesê. “Sover ek bewus is, is daar nog nooit so iets aangepak nie. Histories sou ’n goeie jaar vir CfaN ongeveer sewe of agt Evangelie-veldtogte insluit. Verlede jaar het ons daardie rekord gebreek deur 11 veldtogte aan te bied. Die doelwit om dit te probeer vermenigvuldig tot 50 veldtogte in een jaar is reusagtig. Elke veldtog behels vier tot vyf aande, ons praat dus van 200 tot 250 aande van Evangelie-veldtogte. Dit is in alle opsigte baie ambisieus – in terme van beplanning, logistiek, fondsinsameling en tyd op die pad. Ons sal perke op elke denkbare manier toets. Tog glo ek die Here moedig ons aan om dit te doen, gegrond op die oorspronklike woord wat die Here voor 1974 aan evangelis Bonnke gegee het – ‘Afrika sal gered word, van Kaapstad tot Kaïro.’ Ek voel sterk dat die Here ons in ons 50ste jaar nooi om Hom in geloof vir die belofte te vertrou en iets uitsonderlik te doen. Ek kan opreg sê dat hierdie visie ons geloof toets. Ons vertrou met alle mag en die Here is getrou om te voorsien. Ek glo ons gaan aanskou hoe geskiedenis gemaak word en beloftes in vervulling gaan.”

Evangelis Daniel Kolenda (links) saam met wyle evangelis Reinhard Bonnke.
’n Visie vir massa-redding
Teen die einde van die jaar sal CfaN veldtogte in suidelike, oostelike, westelike en noordelike Afrika uitgevoer het, insluitend sommige gebiede wat voorheen buite perke was. Hulle begeerte is om te sien dat die gedokumenteerde bekerings die 100 miljoen-kerf bereik teen die einde van 2024. Om meer oor CfaN en hul veldtogte vir 2024 te wete te kom, besoek cfan50.org. Doen asseblief voorbidding vir dié bediening en oorweeg ’n finansiële skenking om hul evangelisasiepogings te ondersteun. Die Groot Opdrag beveel elkeen van ons om die Evangelie te verkondig en dissipels te maak. As jy dit nie self kan doen nie, oorweeg dit om dié te ondersteun wat dit wel kan doen.
“Die visie vir 2024 gaan vereis dat almal moue oprol, nie net die CfaN-spanne wêreldwyd nie, maar ook elke finansiële vennoot van die bediening. Saam sal ons profesieë in vervulling sien gaan en ’n groter oes as nog ooit tevore insamel.” – Daniel Kolenda
Akkurate getalle
CfaN, wat bekend is vir sy massiewe Evangelie-veldtogte in Afrika, dokumenteer bekeringsbesluite deur kaartjies te gebruik wat deur bekeerlinge ingevul word en hulle dan met plaaslike kerke te verbind vir opvolging en dissipelskap.

In 1984 het CfaN die “grootste tent in die wêreld” gehad met sitplek vir 34 000. Volgens die Guinness Book of Records was dit die “grootste mobiele struktuur ter wêreld”.
Die befaamde groot tent
Evangelis Reinhard Bonnke was bekend vir sy profetiese kreet waarmee hy mense aangevuur het: “Afrika sal gered word, van Kaapstad tot Kaïro!” Ter ere van daardie mandaat is vanjaar se veldtogte op
18 Februarie in Kaapstad bekendgestel. Hierdie datum hou historiese betekenis in vir die CfaN-span, want dit was die dag toe hul befaamde “groot tent” (destyds die grootste mobiele struktuur ter wêreld met sitplek vir 30 000) in 1984 aan God opgedra is. Binne slegs twee jaar het die bediening die tent ontgroei en het die era van ware massa-evangelisasie vir CfaN begin, met meer as 100 000 mense wat in 1986 ’n enkele diens in Malawi bygewoon het. CfaN het sedertdien nog nooit teruggekyk nie, en gaan van krag tot krag en getuig van oomblikke soos ’n miljoen mense wat in 2000 ’n enkele diens in Lagos bygewoon het.
‘Afrika sal gered word, van Kaapstad tot Kaïro!’ – Reinhard Bonnke
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 15/03/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









