Geskryf deur: Oasis International* Artikelbron: Artikel verskaf

 

’n Organisasie wat in Afrika werk, sê die grootste tekort aan Bybels in die geskiedenis staar die vasteland in die gesig, met tot 550 miljoen Christene in Afrika wat nie ’n Bybel het nie.

Oasis International, wat hulle toespits op die uitgee en verspreiding van Bybels en Christelike materiaal deur skrywers uit Afrika, noem dit “die versteekte Bybelkrisis”.

Die maatskappy se hoofbestuursbeampte, doktor Matthew Elliott, sê baie gelowiges is bewus van die vraag na Bybelvertaling en dra ruim daarvoor by, maar dat min gedoen word om ’n oplossing te vind vir die behoefte aan ’n sterk verkoops- en verspreidingsnetwerk.

“Ons kan nooit Bybelvertaling verwaarloos nie, maar die verstewiging van die bestaande verspreiding van die Bybel in Engels, Frans en Portugees het meer potensiaal om die huidige Bybeltekort in die kort- en mediumtermyn op te los.

“Statistiek deur die wêreld se gewildste Bybel-toep wys byvoorbeeld dat 98,9% van leesure in Nigerië aan Engelse inhoud bestee word, hoewel die toep die Bybel in agtien van die gewildste inheemse Nigeriese tale bied. Ons eie navorsing staaf dit, met 93% van landelike Nigeriërs wat in ’n opname aangedui het dat hulle vir hul stiltetyd verkies om die Bybel in Engels te lees,” sê dr. Elliott.

Syfers van die Christelike Wêreldensiklopedie wys dat Afrika slegs 7,1% van die Bybels ontvang het wat die afgelope 20 jaar gedruk is, hoewel 26,5% van Christene wêreldwyd op dié vasteland woon. Daarteenoor het Amerika, wat net 11,6% van die wêreld se Christene uitmaak, 27,7% van die Bybels ontvang.

Oasis sê hulle span saam met plaaslike boekwinkels, bedienings en denominasies om verspreidingsinfrastruktuur te skep wat Afrika volhoubaar kan dien. Hulle sê die regte manier om die Bybeltekort aan te spreek, is om plaaslike entrepreneurs te bemagtig en kapasiteit te bou. Die lukrake skenking van Bybels strek dikwels, onbedoeld, tot plaaslike boekwinkels se nadeel, vernietig bestaande verspreidingskanale en vererger die krisis.

Tans woon een uit elke vier Christene wêreldwyd in Afrika. Die verwagting is dat 40% van die wêreld se Christene in 2060 uit Afrika sal kom.

* Oasis International is ’n Christelike uitgewerybediening wie se missie is om dissipelskap in Afrika te bevorder deur die versterking van stemme uit die vasteland self. Hulle is verbind tot die verskaffing van toeganklike, bekostigbare en gekontekstualiseerde Bybelse hulpbronne vir Afrika-inwoners en hul leiers, om uiteindelik hul merk in die kerk wêreldwyd te maak.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/07/2023
Foto: oasisinternational.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here