Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: incontextinternational.org
Die Noorweegse Vlugtelingraad (NRC) het op 1 Junie hul jaarverslag, waarin die kollig op die wêreld se mees geïgnoreerde vlugtelingkrisisse val, vrygestel. In 2022 was sewe uit die tien lande in Afrika, naas Colombië, Venezuela en El Salvador in Sentraal- en Suid-Amerika. Burkino Faso is vir die eerste keer bo-aan die lys. Die rangorde word op drie kriteria gegrond: die gebrek aan humanitêre befondsing, die gebrek aan media-aandag en ’n gebrek aan internasionale politieke en diplomatieke inisiatiewe.
Die wêreld se mees verwaarloosde vlugtelingkrisisse in 2022:
1. Burkina Faso
2. Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)
3. Colombië
4. Soedan
5. Venezuela
6. Burundi
7. Mali
8. Kameroen
9. El Salvador
10. Ethiopië
Die regering van Burkino Faso het gerapporteer dat geweld, wat meestal aan die Islamitiese Staat en al-Kaïda toegeskryf word, meer as twee miljoen mense in die land ontheem het. Dit het tot ’n ernstige humanitêre krisis gelei. Talle mense het uit landelike gebiede gevlug en leef nou in oorbevolkte stedelike areas en in opslaankampe. Vroue en kinders vorm die meerderheid van die binnelandse ontworteldes. Meer as ’n kwart van die bevolking is afhanklik van humanitêre hulp en ongeveer 800 000 woon in gemeenskappe wat omring word deur gewapende groepe, sonder toegang tot die mees basiese dienste. Ander het oor die grens na buurlande gevlug.
Volgens die NRC het die herleiding van aandag op, en hulp aan, die Oekraïne bygedra tot die verwaarlosing van sommige van die mees kwesbare mense in die wêreld. Die sekretaris-generaal van die NRC glo “Verwaarlosing is ’n keuse; dit is nie onvermydelik dat miljoene ontheemde mense jaar na jaar opsy geskuif word sonder die ondersteuning en bronne wat hulle so desperaat benodig nie.” Dit word gedemonstreer deur die dringendheid en skaal van die reaksie op die oorlog in die Oekraïne. “Daar is verlede jaar meer as vyf keer soveel artikels oor die Oekraïense vlugtelingkrisis geskryf as oor die hele wêreld se tien mees verwaarloosde krisisse. Vir elke dollar wat in 2022 per persoon vir behoeftiges in Oekraïne ingesamel is, is slegs 25% per persoon vir behoeftiges in die wêreld se tien lande met die mees verwaarloosde krisisse ingesamel,” volgens die NRC.
As gelowiges weet ons dat God vir ons sê om nie die mees kwesbare mense (soos die armes, die wese en die weduwees) in hul lyding te verwaarloos nie, selfs al is dit ongerieflik en duur (Jakobus 1:27; Matteus 25:35-45; Galasiërs 2:10; Lukas 3:10-11). In die Ou en Nuwe Testament is God se hart deurlopend vír hierdie groepe wat so maklik opsygeskuif kan word. In die Ou Testament het God stelsels geskep wat kon verseker dat die Israeliete nie die vreemdeling en ander wat van hulp afhanklik is, afskeep nie (byvoorbeeld Deuteronomium 14:28-29).
Ondersteuning vir krisisse wat die wêreld se aandag aangryp, is goed omdat sulke behoeftes geldig en dringend is. Wanneer dit egter geskied om deur ander gesien te word, sê Matteus 6:1-4 dat jy jou beloning reeds op aarde ontvang. Wanneer iemand gee, nie om mense te beïndruk nie, maar ter wille van God en in gehoorsaamheid, nederigheid en opregtheid optree, sal die Vader so iemand in die Hemel beloon. Soms sal ons bydraes, gebede en besoeke aan hierdie lande wat in krisis verkeer, ongemerk by ander verbygaan, maar dit sal God tevrede stel. Dit mag ook wees, in ’n poging om hierdie nasies nie te verwaarloos nie, ons rol daarin lê om groter bewustheid oor die krisisse waarin hulle verkeer, te skep, sodat meer mense kan bid, bydra en gaan, soos God hulle lei.
Die NRC deel ’n aanhaling van ’n dame, Halimata (35) wie se familie van die gevegte in die ooste van Burkino Faso gevlug het en nou in Kaya woon: “Vertel aan die wêreld hoe swaar ons gekry het. Ons het baie gely. Ons bure het gely. Ons vriende het gely. Ons familie het gely. Ons het baie mense aan die dood afgestaan. Ek dank God dat niemand van my familie daar agtergebly het nie. Ons is almal veilig. Ek wil nie teruggaan nie, maar ek vra God vir vrede. Vrede op hierdie plek.”
In Burkino Faso, ’n oorwegend Moslem-land (ongeveer 55%), maak Christene ongeveer 21,17% van die bevolking uit. Die evangeliese groeikoers is 4,1%, wat hoër is as die jaarlikse gemiddeld van 2,6%. Ondanks die tradisionele reputasie as ’n godsdienstig vreedsame land, word dit al moeiliker om ’n Christen te wees, hoofsaaklik as gevolg van die groei van djihadisme en die feit dat Christene toenemend geteiken word. Die wêreldwye Kerk kan die Kerk in Burkino Faso aan God opdra, dat hulle nie in vrees sal leef of ontmoedig sal word nie, maar dat hulle sal weet dat God by hulle is en hulle nooit sal verlaat nie, al voel dit vir hulle asof die wêreld hulle vergeet het (Deuteronomium 31:8-18. Josua 1:9).
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die wêreld en veral die wêreldwye Liggaam van Christus nie die “mees verwaarloosde vlugtelingkrisisse”, insluitend Burkino Faso, oor die hoof sal sien nie,
- dat die regering en nasionale weermag groter militêre beheer en politieke stabiliteit oor die land sal verkry en dat orde en vrede in Burkino Faso sal heers, en
- dat die Kerk in Burkino Faso bemoedig en versterk sal word deur die wete dat God by hulle is en Hy hulle nooit sal verlaat of versaak nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 10/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.