Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Dinsdag, 30 Mei, het Irak se minister van buitelandse sake, Fuad Hussein, en Amerika se Ambassadeur na Irak, Alina L. Romanowski maniere bespreek om Irakse families te hervestig, wat met die Islamitiese Staat-groep (IS) verbind word.
Na raming word 27 000 individue, hoofsaaklik vroue en kinders, tans in die al-Hol-kamp in die noord-ooste van Sirië aangehou. Die toekoms van die weduwees, vrouens en kinders van die IS-vegters bly ’n onopgeloste en netelige saak. Die IS-ekstremiste het ’n barbaarse militêre veldtog in Irak en Sirië gevoer wat gekenmerk is deur grootskaalse menseslagting, marteling, verkragting en slawerny.
Al-Hol-kamp is ’n aanhoudingskamp vir mense wat deur die IS-oorlog (2013-2019) ontwortel is – wagte laat nie die inwoners toe om by die hekke uit te gaan nie. Daar is omtrent 51 000 mense in aanhouding in die kamp, die grootste meerderheid, rondom 90%, vroue en kinders, insluitend die vrouens, weduwees en ander familielede van IS-militante. Die meeste is Siriërs en Irakkese, maar daar is ook omtrent 8 000 vroue en kinders van 60 ander nasionaliteite wat in ’n gedeelte van die kamp, bekend as die Anneks, woon – algemeen beskou as die mees verbete IS-ondersteuners onder die kampbewoners.
Tydens sy piektyd het die kamp meer as 70 000 mense gehuisves, maar baie Irakkese en Siriërs – diegene wat beskou is as ontwortelde persone, maar nie noodwendig verbonde is aan die IS-groep nie – is toegelaat om terug te gaan na hulle huise. Die meste van die buitelanders se lande van herkoms het egter vasgeskop teen die moontlikheid van repatriasie. Volgens Human Rights Watch is “meer as 60% van die aangehoudenes in die kamp kinders. Byna 80% van die kinders is onder 12 jaar oud, en 30% is vyf jaar oud en jonger. Ongeveer 5 000 ander buitelanders word aangehou in tronke en “rehabilitasie” sentra, waarby etlike honderde kinders ingesluit is.” Ondanks die feit dat baie van hierdie kinders hopeloos te jonk is om ’n aktiewe rol in IS te kon speel, weier baie van die regerings om hierdie jong burgers terug te neem en hou vrese vir nasionale veiligheid asook openbare teenreaksie as verskoning voor.
Die meeste waarnemers stem saam dat die situasie ongewens is, met baie van die kinders wat grootgemaak word in ’n atmosfeer waar die groep se radikale ideologie steeds in omloop is en waar hulle bykans geen kans op opvoeding het nie. Minder as die helfte van die 25 000 kinders in die kamp woon die lees- en skryfklasse by die onderwyssentra by. Steeds is daar geen grootskaalse en volhoubare oplossings in sig nie. Amptenare in die Koerdies-geleide noord-ooste van Sirië waar die aanhoudingskampe geleë is, het probeer om van sommige van die dringendste sake werk te maak deur allereers deur die tienerseuns te verskuif na rehabilitasiesentra ’n ent weg van al-Hol. Daar word gevrees dat hierdie jong seuns/mans nog ’n generasie van radikale ekstremiste kan voortbring, en daarom word hulle vir ’n onbepaalde tyd van hulle families geskei en aan die kunste, musiek en ander vaardighede blootgestel. Hulle kan ook aan sport deelneem. Hierdie “oplossing” word beswaarlik as ideaal beskou, soos Letta Taylor, die mededirekteur van die Crisis and Conflict Division at Human Rights Watch, verduidelik het: “Hoewel die oorplasing van hierdie seuns na aparte aanhoudingsentra goed bedoel mag wees, is dit nie rehabilitasie nie. In werklikheid is dit onbepaalde aanhouding van kinders wat self slagoffers van IS is.”
In Julie 2022 het Timothy Betts (Acting Coordinator for Counterterrorism and Acting Special Envoy for the Global Coalition to Defeat IS – Bureau of Counterterrorism) gesê: “Ons glo die enigste volhoubare oplossing op die vraagstuk wat ons in die noord-ooste van Sirië in die gesig staar, is dat elke land sy eie burgers moet terugneem uit die aanhoudingsfasiliteite en kampe vir ontwortelde persone. Dit sluit diegene in wat vir IS geveg het, sowel as hulle wat in kampe vir ontwortelde persone in die noord-ooste van Sirië agtergebly het.”
Juis hierin lê ’n kritieke komponent waar die Liggaam van Christus ’n beslissende en kragtige rol kan speel. Die Woord toon ons duidelik God se Vaderhart, nie net vir hulle wat Hom volg nie (Rom 8:14-17, Gal 4:4-7, Ef 1:4-6, 1 Joh 3:1-2), maar ook spesifiek vir die weduwee en die weeskind (die vaderlose in hierdie spesifieke geval), soos Psalm 68: 6-7 sê: “’n Vader vir die weeskinders en ’n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning. God laat eensames in ’n huisgesin woon en lei gevangenis uit na vryheid, maar wie teen God in opstand is, woon in ’n kaal woestyn.” Daar is baie ander verwysings na hierdie eienskap van God, soos Hosea 14:3: “By U alleen is daar liefde vir ’n weeskind.” Of Deuteronomium 10:18: “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.” As die Liggaam van Christus, kinders van God, is dit ons verantwoordelikheid om Sy Vaderhart teenoor hierdie weduwees, vrouens en kinders van die S-vegters te toon. Daar word beweer dat individue uit sowat 60 nasies in al-Hol-kamp verteenwoordig word. Wát as Christene uit hierdie nasies na vore sal tree en voorspraak maak vir hierdie desperate, veragte en miskende mense, van wie baie kinders is? Wát as Christene die kans sal waag om sommige van hierdie gesinne te huisves (let wel, gesinne, nie net kinders wat van hulle moeders, en soms ook vaders verwyder geraak het nie), of opleiding, onderwys, werk, rehabilitasie, aanvaarding en so meer, te bied. Wat ’n impak sal dit nie maak nie, nie net om verdere radikalisasie of barbarisme te stuit nie, maar om in werklikheid die uitbreiding van die Koninkryk van lig in hierdie “donker” plekke te bevorder. Weet jy of enige van jou medeburgers in al-Hol (soms na verwys as al-Hel!) wegkwyn? Gee jy genoeg om om uit te vind?
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat diegene wat in die posisie is om ’n verskil te maak, die nodige stappe sal neem om ’n oplossing vir hierdie situasie te vind, en hierdie kamp en ander verwante rehabiliterings- en aanhoudingsentra leeg te maak,
- dat die wyer Liggaam van Christus konkrete stappe sal neem om God se Vaderhart teenoor hierdie persone wat geraak is, uit te leef, en
- dat gelowiges in gasheer-lande geleenthede sal soek om ’n impak te maak op die lewens van mense wat deur IS se ideologie mislei en verkneg is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 09/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit pixabay.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.