Artikelbron: Artikel verskaf
Die boek, LUISTER, God se stem in my lewe, is ’n moet-lees-boek vir elke Christen wat ook ’n sportliefhebber is. In hierdie boek deel verskeie van ons land se voorste en bekendste sportpersone hul ervaringe met God se stem in hul lewe. Die leser kry die geleentheid om kennis te maak met die karaktereienskappe van ’n lewende God deur die oë en lewenservaringe van dié individue wat oop en eerlik oor uitdagings, teleurstellings, hoogte- en laagtepunte in hulle lewe gesels en getuig van God se rol in daardie ervaring.
Die voormalige Protea-krieketspeler Vernon Philander deel: “Mislukking laat jou die harde vrae vra. Dit dwing jou grond toe. Dit breek die eie ek af. En voordat jy jouself weer kan vind, moet jy God vind.”
Stormers-rugbyheld Angelo Davids vertel: “Ek kon nie God se plan vooruit hardloop nie. Hy moes my ‘seën’ met ’n besering. My stilmaak. Rustig maak. Sodat ek kon luister en weet dat dit nie nou die tyd was nie.”
Die skrywer Karien Basson deel die passievolle stories van liefde vir sport, uitdagings en persoonlike ontmoetings met God uit die monde en harte van bekende sportlui soos Duane Vermeulen, Neil Powell, voormalige Springbok-rugbyspeler Schalk Brits, Stormers- en Blitsbok-rugbyspeler Angelo Davids, voormalige Springbok- en Leeus-afrigter Swys de Bruin, Anruné Weyers, Vernon Philander en Zoë en Bella Kruger (dogters van die legendariese Springbok, Ruben Kruger) om net ’n paar te noem.
Karien is ’n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter en deel van die span van die Finesse Voelgoed-tydskrif as redakteur van Vroue wat Glo. Sy is al 20 jaar lank in die media en het ook reeds ’n paar titels saam met CUM Boeke en Carpe Diem Media uitgegee.
“Ek nooi jou uit om saam te stap deur die lewens van 41 uiteenlopende persoonlikhede wat onvoorwaardelike erken (en leef) ‘God is net goed. Ons is almal onvolmaakte mense wat ’n volmaakte God dien en sonder nog ’n kans sou ons verlore gewees het’. Dié boek is vir elke mens wat een of ander tyd getwyfel het in hom/haarself en die genade van ’n lewende God,” sê Karien.
Karien het die boek in samewerking met Tanya Powell geskryf. Tanya se pad met sport kom al lank aan met legendariese Springbok-rugbyspeler Uli Schmidt as peetpa! Sy is ’n gekwalifiseerde biokinetikus. Sy is ook ’n spreker en organiseerder van vrouegeleenthede waar haar belangrikste boodskap is oor die opregtheid van mens en vrouwees en jou lewensdoel in God se hande. Sy is bekende rugby-afrigter Neil Powell se vrou en ma vir hulle twee seuns, Joshua en Caleb.
“Suid-Afrikaners van alle ouderdomme het nodig om te lees én te beleef dat God steeds in sport ’n realiteit is. Die helde waarna ons opkyk is gewone mense met buitengewone talent. Maar ook net ’n mens met ’n lewensverhaal, uitdagende situasies en ’n lewende verhouding met God. Elke onderhoud wat ons gedoen het, het ek by aanklank gevind. Ek weet dit gaan tot die harte van al die Suid-Afrikaners spreek. LUISTER, God se stem in my lewe is ’n hartsprojek wat lewens sal raak,” vertel Tanya.
Wat LUISTER, God se stem in my lewe uniek maak, is dat dit ware lewensverhale en getuienis van ’n wye verskeidenheid sportpersone bevat, hulle deel teksverse wat hulle staande hou en spreek hul spesiale boodskap aan die mense van Suid-Afrika uit.
’n Uitsonderlike bonus is die QR-kode aan die einde van elke hoofstuk wat die leser die geleentheid gee om na ’n eksklusiewe video van die onderhoud met ekstra inhoud wat nie reeds in die hoofstuk gedeel is nie, te kyk.
Die boekbekendstelling in samewerking met InterCape, PretoriaFM, Finesse Voelgoed Tydskrif en ander media vennote vir LUISTER, God se stem in my lewe is op Woensdag 26 Julie 2023 in Gauteng en die Wes-Kaap is op 27 Julie 2023 aan die beurt.
Die boek is reeds beskikbaar in Engels en Afrikaans. Te koop aanlyn by www.godinsport.com of by uitgesoekte boekwinkels.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/07/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.