Artikelbron: www.barnabasaid.org
Barnabas Aid is opgewonde om die vertaling van God se Woord in ’n inheemse Wes-Afrikaanse taal vir die eerste keer ooit te ondersteun.
Daar is meer as 500 000 Flame*-sprekers in Wes-Afrika, waarvan ’n minderheid Christen-bekeerlinge uit Islam is wat tot onlangs nog nie die Skrif in hulle eie taal gehad het nie.
Barnabas Aid se projekvennote het reeds die eerste Nuwe Testament in die taal gepubliseer, deels gefinansier deur Barnabas, wat met groot vreugde deur ons broers en susters begroet is. Met verdere Barnabas-ondersteuning vertaal hulle nou die Ou Testament ook.
Stamhoofde in die streek het toestemming gegee dat die Nuwe Testament in hulle gemeenskappe gebruik mag word, en Flame-kerkleiers word opgelei om die vertaalde Skrif saam met hul gemeentes te gebruik.
Baie Flame-Christene is ongeletterd en daarom vorm geletterdheidsklasse ’n belangrike deel van die werk om gelowiges te help om God se Woord te kan lees.
Daarbenewens is gedeeltes uit die Flame-Bybel op radio uitgesaai, wat baie van hierdie Wes-Afrikaanse gelowiges bemoedig het.
Om die Woord van God in hulle eie taal en in hulle huise, kerke en oor die radio te hê het hierdie klein Christelike gemeenskappie verander.
“Ons luister na julle radioprogramme en ons waardeer die Woord van God wat julle vertaal het baie,” het een nuwe gelowige gesê. “Dit is goed gedoen, dit is duidelik en dit is aangrypend.”
“Ek sien dat wanneer ons getrou en geduldig is, God wonderlike dinge op die regte tyd vir ons sal bewerkstellig”, het een van die vertalers gesê.
Bid:
Dank die vertaalwerk wat reeds gedoen is, en vra die Here om die werk wat nog oor is om te doen, te seën. Bid dat die Woord van God in Flame, hetsy in geskrewe of klankvorm, die gelowiges sal help om in hul geloof, insig en Christelike getuienis te groei.
*Naam van taal weens veiligheidsredes verander
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/09/2023
Foto: Barnabas befonds vir die eerste keer die vertaling van die Bybel in ’n inheemse Wes-Afrikaanse taal.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








