Geskryf deur: Adam Eliyahu Berkowitz Artikelbron: www.prophecynewswatch.com
Australië se linkse Arbeidersregering het verlede week aangekondig dat hulle na Judea en Samaria as die “besette Palestynse gebiede” sal verwys en beskou dit as ’n oortreding van internasionale reg.
“Die Australiese regering versterk sy teenkanting teen nedersettings deur te bevestig dat dit onwettig is ingevolge internasionale reg en ’n beduidende struikelblok vir vrede is,” het Penny Wong, die minister van buitelandse sake van Australië, Dinsdag aan die parlement gesê. “Deur die term aan te neem, maak ons duidelik dat die Wesoewer, insluitend Oos-Jerusalem en Gasa, ná die 1967-oorlog deur Israel beset is en dat die besetting voortduur.”
Ironies genoeg het Wong bygevoeg dat Australië ’n “toegewyde vriend van Israel” sal bly.
In Junie het die Arbeidersparty ’n resolusie aanvaar wat ’n beroep op Australië doen om “Palestina as ’n staat te erken.” Verlede jaar het die Australiese ministerie van buitelandse sake ’n 2018-beleid van die vorige regering, om Wes-Jerusalem as Israel se hoofstad te erken, omgekeer terwyl dit “die aspirasies van die Palestynse volk vir ‘n toekomstige staat met sy hoofstad in Oos-Jerusalem erken het.”
Daar moet kennis geneem word dat dit die eerste Australiese regering in byna 50 jaar is wat deur die linkervleuel van die Australiese Arbeidersparty oorheers is. Die party hou vandeesweek die 49ste nasionale konferensie van die Australia Labour Party (ALP) en die nuwe beleid kan dalk ter voorbereiding van hierdie konferensie wees.
Liberale LP Julian Lesser, wat Joods is, het die nuwe resolusie gekritiseer.
“Hierdie besluit sal nie ’n tweestaatoplossing aanhelp nie, dit sal net terreurorganisasies, soos Palestynse Islamitiese Jihad, aanmoedig,” het hy gesê.
Die Sionistiese Federasie van Australië en die Uitvoerende Raad van Australiese Jodedom het gesê hulle is “diep bekommerd” oor die besluit, en noem dit “onakkuraat, a-histories en teenproduktief”.
“Om Oos-Jerusalem, die Wesoewer en Gasa as ‘besette Palestynse gebiede’ te beskryf, ontken enige Joodse aanspraak op die Wesoewer en Jerusalem. Die belangrikste Joodse heilige plekke van die Tempelberg en die Klaagmuur is in Oos-Jerusalem en daar is oor duisende jare reeds ‘n ononderbroke Joodse teenwoordigheid in die Wesoewer,” het hulle gesê. “Israeli’s en Palestyne het ooreengekom om die verdeling van die Wesoewer tussen hulle te onderhandel. Om die gebiede as ‘Palestyns’ te beskryf, gaan nie net die uitslag van onderhandelinge vooruit nie, maar is teenproduktief.”
Arsen Ostrovsky, die uitvoerende hoof van die Internasionale Regsforum, het die besluit “hoogs gebrekkig en eensydig” genoem, sowel as “strydig met gevestigde beginsels van internasionale reg.”
Hy het ook bygevoeg, “Canberra is eers in 1913 die hoofstad van Australië gemaak, toe die stad van nuuts af gebou moes word, terwyl Jerusalem vir meer as 3 000 jaar die hoofstad van die Joodse volk is.”
Nie minder nie as 30 Christelike groepe in Australië het ’n brief aan hul regering onderteken waarin die nuwe beleide gekritiseer word. Die organisasies, wat “honderdduisende Australiese Christene” verteenwoordig onder die vaandel van die “Southern Cross Alliance for Israel” (SCAFI) – het gesê hulle is “ontsteld” oor die besluit, en het die regering versoek om sy beleid te “heroorweeg en reg te stel”.
Die term “Besette Palestynse Gebied”, het hulle geskryf, “impliseer verkeerdelik dat Israel geen wettige titel in Judea, Samaria of Jerusalem het nie, en dat Gasa deur Israel beset word.”
“Die frase dui daarop dat enige Joodse teenwoordigheid in plekke waar Jode al duisende jare gewoon het, die Joodse Kwartier van die Ou Stad van Jerusalem, insluitend waar Judaïsme se mees heilige, antieke en heilige plek, die Tempelberg geleë is, ‘onwettig’ is, ‘ bloot omdat Jordaanse magte dit tussen 1948 en 1967 etnies van Jode ‘gesuiwer’ het.”
Die Christelike organisasie het “die basis vir Israel se aansprake” op dele van Samaria, Judea en oostelike Jerusalem gelys:
– Die internasionale regsmandate vir die vestiging van ’n Joodse tuisland, onder die Volkebond in 1920 en hernu onder die VN in 1945.
– Die doktrine van opvolging van die territoriale titel binne die grense van die voormalige Britse regering ten tyde van Israeliese onafhanklikheid in 1949.
– Die afwesigheid van ’n mededingende wetlike soewereiniteit in [Judea en Samaria] ten tyde van Israeliese besetting in 1967.
– Die afwesigheid van enige internasionale reël op daardie tydstip wat die verkryging van grond verbied wat in ‘n selfverdedigingsoorlog geneem is.
– Die Joodse reg van selfbeskikking op inheemse grond in Judea en Samaria
– Die veiligheidsvereistes van beheer op die heuwels wat oor Joodse bevolkingskonsentrasies in die kussentrum van Israel uitkyk.
Daar was nog nooit enige wetlike verbintenis, regsdokument, verdrag, ooreenkoms, kontrak of formele bindende resolusie wat bepaal het dat die gebiede aan die Palestyne behoort nie – of dat hulle onder Palestynse soewereiniteit is nie. (UNSC Hoofstuk VI-resolusies is aanbevelings en nie bindend nie, net soos UNGA-resolusies).
Hulle het erken dat Judea en Samaria “beskryf kan word as betwiste gebied omdat Israel beheer daaroor verkry het in ’n verdedigingsoorlog en om afstand van alle beheer te doen sou ‘n eksistensiële bedreiging vir Israel inhou.
“Vir Australië om vredesonderhandelinge te benadeel deur eensydig grense in ‘n betwiste gebied te verklaar, is absurd en sal slegs Arabiese onversetlikheid verskans,” het hulle afgesluit.
“Ons versoek u met respek om hierdie regeringsbeleid te heroorweeg en reg te stel.”
John Lockwood, voorsitter van SCAFI, het aan Israel Today gesê dat die brief direk aan premier Anthony Albanese en Wong afgelewer sal word by die ALP-konferensie, waar amptelike erkenning van “Palestina” oorweeg moet word.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerk aangepas vanaf www.pexels.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








