Geskryf deur: Errol Naidoo
Artikelbron: www.familypolicyinstitute.com 

Ek het op 17 Augustus deelgeneem aan ’n virtuele werkswinkel oor die Huwelikswetsontwerp –  aangebied deur die departement van binnelandse sake. Die geneder neutrale enkele Huwelikswetsontwerp het kwaadwillig alle verwysings na man en vrou weggelaat. Dit dui in wese die dood van die Godgegewe en God-gedefinieerde instelling van die man-vrou-huwelik in die Suid-Afrikaanse reg aan.

Die ANC-regime beweer valslik dat die doel van die huwelikswetsontwerp is “om die huwelikswette wat op verskeie tipes huwelike betrekking het, te rasionaliseer en om voorsiening te maak vir die erkenning van huwelike wat deur gades gesluit word, ongeag hulle godsdienstige, kulturele, geslags-, gender of seksuele oriëntasie of enige ander oortuiging van die gades; dit maak voorsiening vir die vereistes om ’n huwelik aan te gaan.”

Die voorgestelde nuwe Huwelikswet sal die volgende wette vervang:

  • Die Huwelikswet van 1961 (Marriage Act of 1961).
  • Die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike van 1998 (Customary Marriage Act of 1998).
  • Die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 (Civil Union Act of 2006).

Hoewel die direkteur-generaal van die departement van binnelandse sake beklemtoon het dat die huwelikswetsontwerp gemotiveer is deur die uitspraak van die konstitusionele hof wat betrekking het op vroueregte in Moslem-huwelike, het Moslem-deelnemers aangevoer die huwelikswetsontwerp versuim om die tersaaklike kwessies wat in die uitspraak geopper is, aan te spreek.

Dit is egter betekenisvol dat die erkenning en regulering van Moslem-huwelike maklik in die Huwelikswet van 1961 en die Die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike van 1998 (vir poligame huwelike) geïnkorporeer kon word. Ons het nie ’n enkele Huwelikswet vir hierdie doel nodig nie.

Die primêre rede waarom die ANC-regime die nuwe enkele Huwelikswet geformuleer het, is om die huwelik te herdefinieer om dit gelyk te stel aan selfdegeslag- en transgender -verbintenisse. Ná die uitspraak van die grondwetlike hof in 2005, het LGBTQ-aktiviste geëis dat die regering die “Huwelikswet van 1961” wysig om selfdegeslagverbintenisse in alle opsigte gelyk te stel aan die man-vrou-huwelik.

Die Kerk het beswaar gemaak teen hierdie wysiging. Die parlement het die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 ingestel om selfdegeslag- (en heteroseksuele) verbintenisse te erken en te reguleer. Godsdienstige huweliksbeamptes is vrygestel van die verpligting om burgerlike verbintenisse te beëdig indien hulle nie onder hierdie spesifieke Wet geregistreer is nie.

LGBTQ-aktiviste het beswaar gemaak teen die afsonderlike wetgewing wat selfdegeslagverbintenisse erken en reguleer omdat dit na bewering geïmpliseer het dat dit ondergeskik is aan man-vrou-huwelike. Hulle het verder aangevoer die eksklusiewe onderskeiding van man-vrou-huwelike in die wet diskrimineer teen selfdegeslagverbintenisse.

Die ANC-regime het geswig voor die eise van LGBTQ-radikales, maar in plaas daarvan om die “Huwelikswet van 1961” te wysig om die terme “man en vrou” af te skaf en dit te vervang met die nie-binêre term, “gades”, het die regering al drie Huwelikswette geskrap ten gunste van ’n enkele gender neutrale Huwelikswet.

Die ANC-regime het probeer om sy ware bedoelings te verdoesel – die herdefiniëring van man-vrou-huwelik is bloot om aan die eise van minderheids-LGBTQ-groepe te voldoen en hulle te paai. Gevolglik sal die huwelik – ’n instelling wat vir duisende jare bestaan en wat talle nasionaliteite en kulture gedien het – ophou bestaan in die Suid-Afrikaanse reg, om ’n kulturele tendens te bekragtig wat skaars 22 jaar bestaan en deur slegs 34 van die 193 nasies wêreldwyd wetlik erken word.

Die huwelikswetsontwerp sal weens die volgende redes verwoestend wees vir mans, vroue, kinders, die gesinslewe, godsdiensvryhede, die Kerk en die algemene samelewing indien dit in werking gestel word:

  1. Suid-Afrika is die enigste nasie ter wêreld wat die ongekende stap geneem het om mans en vroue van die eksklusiewe wetlike definisie van monogame heteroseksuele huwelik te stroop vir geen ander rede as om aan die irrasionele eise van ’n klein militante groep seksueleregte-radikales gehoor te gee nie.
  2. Monogame huwelike in die voorgestelde huwelikswetsontwerp sluit teenoorgestelde geslag, selfdegeslag- en transgender -verbintenisse in. Hierdie Wet sal die Bybels-gedefinieerde instelling van man-vrou-huwelik in die Suid-Afrikaanse reg nekomdraai en sal uiteindelik die ware en heilige doel daarvan ondergrawe.
  3. Nog meer diabolies: die huwelikswetsontwerp maak groephuwelike (polyamory) moontlik. ’n Verteenwoordiger van die “genderqueer”-groep het beswaar gemaak dat die departement van binnelandse sake se regsadviseur na die term “man” (husband) verwys het toe hy die poligame bepalings van die wetsontwerp verduidelik het. Omdat hierdie wetsontwerp gender neutraal is, sal dit goedkeur dat manlike, vroulike of transgender individue met veelvuldige lewensmaats van teenoorgestelde of verskillende geslagte kan “trou” volgens die poligame bepaling.
  4. Verskeie deelnemers het navraag gedoen of godsdienstige huweliksbeamptes verplig sou word om selfdegeslag- of transgender -verbintenisse te beëdig. Die regsadviseur se reaksie was vaag. Hy het verduidelik dat LGBTQ-burgers as huweliksbeamptes kan registreer onder die nuwe, enkele Huwelikswet om sulke verbintenisse te beëdig. Die huwelikswetsontwerp sluit egter nie spesifiek ’n vrystellingsklousule in vir godsdienstige huweliksbeamptes met gewetensbesware nie.
  5. As onlangse gebeure ons iets geleer het, is dit dat die beskikbaarheid van LGBTQ-huweliksbeamptes nie sal waarborg dat LGBTQ-burgers hulle uitsluitlik sal gebruik nie. Talle huweliksbeamptes is onder die Die Wet op Burgerlike Verbintenisse geregistreer om selfdegeslagverbintenisse te beëdig, maar dit het egter nie LGBTQ-aktiviste verhoed om godsdienstige persone en instellings vir beweerde onbillike diskriminasie te dagvaar nie.
  6. LGBTQ-aktiviste sal godsdienstige huweliksbeamptes, kerklokale, huwelikskapelle en verwante Christelike besighede teiken om hulle te dwing om daaraan te voldoen. Omdat die nuwe, enkele Huwelikswet geen onderskeid tref tussen man-vrou- en selfdegeslag- en transgender -verbintenisse nie – sal dit regsgronde wees vir duur diskriminasiegedinge in die hof as iemand weier om LGBTQ-verbintenisse te beëdig.
  7. Die huwelikswetsontwerp is onnodig. Die huidige huwelikswette wat (1) man-vrou-huwelike, (2) poligame huwelike en (3) burgerlike verbintenisse reguleer, is die mees praktiese wetgewende oplossing vir Suid-Afrika, gegewe die verskille tussen die onversoenbare wêreldbeskouings.
  8. Dit is betekenisvol dat LGBTQ-burgers steeds al die voordele en voorregte van die huwelik geniet soos vervat in die Die Wet op Burgerlike Verbintenisse. Die staat se verpligting om monogame heteroseksuele huwelike te beskerm en te handhaaf, ontken of minag geensins burgerlike verbintenisse nie. Dit weerspreek die regering se bewering dat die enkele Huwelikswet geformuleer is om die waardes van vryheid, gelykheid en waardigheid vir almal te bevorder.
  9. Die huwelikswetsontwerp diskrimineer onbillik teen die meerderheid burgers wat die huwelik as die eksklusiewe verbintenis tussen een man en een vrou beskou en wil hê dat hul huwelike so in die wet gedefinieer word. Ons Skepper het die mensdom manlik en vroulik geskape en hulle in heilige huwelik saamgebring met die doel om die menslike geslag te propageer.
  10. Die huwelik is ’n hoeksteeninstelling van die samelewing en die gom wat dit bymekaar hou. Elke mens wat ooit geleef het, het sy bestaan te danke aan ’n man en ’n vrou se unie. Die huwelik diskrimineer dus nie teen enigiemand nie. Dit dra by tot die samelewing se welsyn in alle mensegroepe ongeag nasionaliteit, kultuur, etnisiteit en godsdiensoortuiging. Die huwelikswetsontwerp sal katastrofiese gevolge vir die samelewing inhou.

Die huwelikswetsontwerp is die mees verraderlike en sosiaal-vernietigende beleid wat nog ooit deur die ANC-regime uitgedink is. Dit ondermyn en ontheilig die fondamente van die menslike beskawing. Wanneer die staat die huwelik en die gesin herdefinieer, ontrafel dit die skeppingsorde.

Gesinsverbrokkeling en vaderlose huise het reeds die Suid-Afrikaanse samelewing vernietig. Die herdefiniëring van die God-geordende instelling van die huwelik sal uiteindelik lei tot ’n minagtende siening van hierdie fundamentele instelling. Tragies genoeg ly onskuldige kinders die meeste wanneer die huwelik gedevalueer word.

Die langtermynimplikasies van die herdefiniëring van die man-vrou-huwelik sal nadelig wees vir die gesondheid en welsyn van kinders, die stabiliteit van die gesin, sosiale samehorigheid en ekonomiese welvaart.

Die Kerk en leierskap van die burgerlike samelewing in Suid-Afrika MOET die Godgeordende instelling van die huwelik aktief verdedig. LGBTQ-burgers geniet reeds al die voordele en voorregte van die huwelik onder die Die Wet op Burgerlike Verbintenisse. Dit is dus verregaande dat die regering beplan om die unieke onderskeid van man-vrou-huwelik in die wet af te skaf wanneer daar geen regverdiging is om dit te doen nie.

Lewer asseblief kommentaar oor die huwelikswetsontwerp deur teen 31 Augustus 2023 ’n e-pos te stuur aan Moses.Malakate@dha.gov.za of Agnes.Molefe@dha.gov.za. Die huwelikswetsontwerp sal daarna in die parlement ter tafel gelê word – wat ’n verdere openbare deelname proses sal noodsaak.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 24/08/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerk aangepas vanaf www.freepik.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

1 COMMENT

  1. Absoluut tragies is nie dat dit voorgestel word nie, maar dat geen NG lidmaat sal mag kapsie aanteken nie. Die NG Sinode het amptelik (na 2019) geen probleem met gay-verbintenisse nie. Die ‘herders’ wat die ‘skape’ moet lei het self verdwaal. Mense dink dat met die kennis van “moderne wetenskap en sielkunde” hulle nou meer weet oor homoseksuele gedrag as wat God duisende jare gelede daarvan geweet het toe Hy dit verbied het.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here