Geskryf deur: Jeremiah Goddard www.incontextinternational.org Artikelbron:
Op 16 September 2023 was dit een jaar sedert die dood van Mahsa Amini in polisieaanhouding nadat
sy na bewering die wet oor die verpligte dra van ’n hoofbedekking oortree het. Die dood van die 22
jarige Koerdies-Irannese vrou verlede jaar het ’n vloedgolf van protes teen die moraliteitspolisie, sowel
as betogings teen onderdrukking aangevuur. Na ’n stilte vroeër hierdie jaar het die herdenking van
haar dood gelei tot hernude protes in stede in Iran, asook in die res van die wêreld, met mense wat
“vroue, lewe, vryheid” geskree en die land se godsdiensleiers uitgedaag het.
Betogers het geëis dat haar dood en dié van baie ander nie tevergeefs moet wees nie. Volgens
menseregtegroepe is meer as 500 mense gedood en meer as 22 000 ander aangehou weens hulle
betrokkenheid by die opstande wat gelei het tot die ernstigste onrus wat sedert die Islamitiese
Revolusie van 1979 ondervind is. Terwyl owerhede vanjaar ’n herlewing probeer verhoed het, het
Amini se pa die herdenking van sy dogter se dood in aanhouding deurgebring nadat hy haar graf
besoek het.
In die jaar na Amini se dood was daar ook positiewe gevolge. ’n Brief is deur 125 Iranse Christelike
organisasies en kerke van verskillende lande opgestel waarin gesê word: “Ons onthou hoe dapper
vroue, mans en selfs kinders van ons land die regering van godsdienstige tiranne oor die afgelope jaar
uitgedaag het. Met slagspreuke soos ‘vroue, lewe, vryheid’ en ‘ons almal is Mahsa’ het die mense van
Iran soos een familie, met ’n buitengewone gevoel van solidariteit, teen onregverdigheid en
onderdrukking opgestaan.” Met so ’n gevoel van eensgesindheid tussen Christene en ander Iranse kan
talle deure vir betrokkenheid en die deel van die Evangelie oopgaan.
Ondanks hierdie geleentheid en ander getuienisse wat uit hierdie tydperk na vore kom, was die
afgelope jaar nie maklik nie. Afgesien van die voortdurende ekonomiese probleme wat deur baie
Irannese in die gesig gestaar word en onderdrukking deur die moraliteitspolisie wat Islamitiese reëls
afdwing, het Christene en nuwe bekeerlinge met toenemende druk, arrestasies en teregstellings te
kampe.
Article18, ’n menseregteorganisasie wat vir Iranse Christene en godsdiensvryheid veg, het rapporteer
dat tientalle Christene aangehou is ná betogings ten tye van die herdenking van Amini se dood. Ná die
arrestasies is mense gedwing om verklarings dat hulle nie by Christelike aktiwiteite betrokke sal raak
nie, te onderteken, of andersins die gevolge dra om gevange gehou te word. Party Christene wat in
hegtenis geneem is, het boetes van meer as $8 000 betaal, terwyl ander nie borgtog gekry het nie. Die
herdenking van Amini se dood was ’n wekroep ten opsigte van die toenemende onderdrukking deur
die Iranse regering, maar ook ten opsigte van die onderdrukking wat Christene in die land in die gesig
staar.
Article18 het hul jaarlikse menseregteverslag vrygestel waarin ’n skerp toename in die vervolging van
Persies-sprekende Christene uitgelig word. Daar was hoop dat Amini se dood ’n katalisator vir
verandering in Iran sou wees. En dit was. Die verandering was egter nie ’n verslapping van Islamitiese
godsdienswette nie, maar eerder ’n verstewiging van die wette wat op die Iranse volk afgedwing word.
Hoewel ons met swaar harte aan Iranse gelowiges dink, weet ons dat ons hoop nie van regerings,
politici of godsdiensleiers afhang nie. Ons hoop is daarop gevestig dat die Evangelie steeds gedeel sal
word, ondanks die uitdagings waarmee Irannese te kampe het. Ons het bemoedigende verslae
ontvang wat meld dat die ondergrondse Kerk in Iran voortdurend groei terwyl mense die reddende
hoop en ware vryheid wat in Christus te vinde is, ontdek.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat God leiers wat ’n balans in die regering te weeg sal bring, in Iran sal oprig;
• dat God vrymoedigheid en wysheid om die evangelie te deel aan Iranse Christene sal gee; en
• dat God die gebeure in Iran sal gebruik om ’n groter geestelike herlewing te weeg te bring, sodat
vele die liefde en hoop van Jesus Christus en die ware vryheid wat in Hom gesetel is, kan leer
ken.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/09/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.