Geskryf deur: Gerda Potgieter
Artikelbron: Artikel verskaf 

Die beplanning vir die weeklange Kwasizabantu Jeugkonferensie is goed op dreef. Die konferensie
vind van 28 Junie tot 5 Julie by die Kwaizabantu-sendingstasie plaas. Die tema vir hierdie jaar is, Kom
ons lig Jesus hoër (Masimphakamise uJesus) en dit het die potensiaal om die nasionale Jeugmaand
op ’n hoë noot af te sluit.

Sedert die sendingstasie meer as 52 jaar gelede gestig is, het Kwasizabantu se talle
uitreikprogramme ook die jongmense van die onmiddellike omgewing ingesluit. Twee keer per jaar,
en elke tweede jaar, hou Kwasizabantu ’n jeugkonferensie om vir die jeug lewens- en ander
waardevolle vaardighede te leer. Hierdie konferensies was oor die jare ’n bron van baie seëninge en
het hoop verskaf aan duisende jongmense wat die konferensies oor die jare bygewoon het. Dit het
hulle lewens ten goede verander nadat hulle hul harte vir die Here gegee het.

Vir diegene wat nie die konferensie self kan bywoon nie, is daar ander geleenthede om by die
konferensie in te skakel. Radio Kwezi en ook die stromingplatform op die webtuiste, www.ksb.org.za
sal daagliks al die dienste uitsaai. Dienste sal in isiZulu, Engels, Duits, Frans, Sesotho en Portugees
uitgesaai word. Die dienstye is daagliks om 10:00; 15:00; en 19:00 behalwe op Sondag (2 Julie)
wanneer die oggenddiens om 11:00 sal begin.

Die Kwasizabantu-sending is ’n Christelike sendingstasie wat nie aan enige spesifieke denominasie
behoort nie en wat uitreik na mense van alle rasse- en kultuurgroepe. Kwasizabantu bring geestelike
leiding, ondersteuning en berading vir enigeen wat dit nodig het. Sedert die sending meer as 52 jaar
gelede begin het, het dit sy deure wyd oopgemaak vir die jeug – om meer van die Here te hoor, hulle
hoop te bied, vir hulle vaardighede aan te leer, op te hef en met verskeie uitdagings te help.

Christen-leiers en predikers van oral uit die wêreld word uitgenooi om die Evangelie aan die
jongmense te verkondig. In die verlede en tydens hierdie konferensie het baie van die jongmense
wat dit bygewoon het, besluit om hul lewens ten goede te verander en die Here Jesus as hul
verlosser te aanvaar. Baie van hierdie inspirerende en lewensveranderende stories kan op die
sending se amptelike webwerf gelees word.

Dit is belangrik om jongmense by volhoubare ontwikkeling te betrek en daarom het Emseni Farming
hande gevat met die sending om die jeug waardevolle landbouvaardighede aan te leer soos om ’n
groentetuin in hulle eie agterplaas te kweek. Dit is ’n uitstekende manier om die jeug te motiveer om
na hul eie behoeftes om te sien. Die projek is sedertdien wyd uitgebrei. Dietmar Joosten, die
plaasbestuurder van Emseni het die program tydens die vorige jeugkonferensie geïmplementeer en
gesê hy hoop dat dit die jongmense sal motiveer om te kyk na werkgeleenthede in die
landbousektor. “Ek wil julle aanmoedig om met groentetuine te begin sodat julle kan help om vir
julle families te sorg,” het Dietmar tydens die vaardigheidsopleidingsessie aan die jongmense gesê.
“Op hierdie manier kan jy jouself help en kan jy ook ander help. Miskien kan jy later ’n loopbaan in
die landbousektor volg en so ’n waardevolle bydrae tot voedselsekerheid maak”.

Jongmense maak ’n groot deel van Suid-Afrikaanse gemeenskappe uit. Hoe vroeër hulle begin dink
aan die toekoms en hulleself voorberei, hoe meer suksesvol sal hulle wees. Dit is ’n uitstekende idee
om vir jongmense praktiese vaardighede te leer wat hulle in staat stel om hulself te help en wat
hulle hoop vir ’n beter toekoms gee.

(Inligting verskaf deur Devoted tydskrif. Lees inspirerende artikels van jongmense wat hulle lewens vir
die Here gegee het op die webtuiste: www.devotedmag.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 22/06/2023
Foto: twitter.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here