Geskryf deur: Gerda Potgieter
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Afrikaans is steeds welkom en floreer by die multitalige Domino Servite Skool (DSS) in Kranskop, KwaZulu-Natal. Die skool verskaf ’n Christelik-gebaseerde omgewing waar leerders aangemoedig word om met respek en verantwoordelikheid uitstekende akademiese prestasies en gesonde morele waardes na te streef. DSS streef daarna om hul leerders nie net akademies te ontwikkel nie, maar ook toe te rus om met integriteit hul onderskeie rolle in die samelewing te vervul.
Uitstekende prestasies
Twee van die skool se leerlinge het onlangs in die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se 2024-olimpiade ’n eerste en tweede plek verower in die top 4-nasionale afdeling se Eerste Addisionele Taal-kategorie. Avon Williams het die eerste prys verower terwyl Ludwig McGill die tweede plek behaal het. Ludwig het die posisie met twee ander leerders van ander skole gedeel. Albei die leerlinge het meer as 90% behaal.
Multikultureel en multitalig
DSS is ’n multikulturele skool van die KwaSizabantu-sendingstasie. Die meeste van die leerders kan gemaklik deur middel van verskillende tale (Zoeloe, Engels, Afrikaans en Duits) met mekaar kommunikeer. Anneli du Preez, ’n Afrikaanse onder-wyseres by die skool, is trots op die leerders se prestasie. “Deur die bank geniet ons leerders hulle Afrikaans. Dis lekker om vir leerders wat lief is vir die taal, skool te hou. By DSS respekteer ons elke volk en sy taal, en daar bestaan nie iets soos ’n gesindheidsversperring by ons teenoor enige taal nie. Dit maak die leerders se koppe oop om ander tale soos Afrikaans te leer en te geniet.”
Liefde vir die Afrikaanse taal
Dit was verblydend om eerstehands Avon en Ludwig se goedversorgde taalgebruik en goedgemanierde interaksie te kon beleef. Avon se ouers bly in Uitenhage in die Oos-Kaap. Hy is lief vir die Afrikaanse taal en het aan die olimpiade deelgeneem in ’n poging om te help voortbou aan dit wat die voorouers gedoen het om Afrikaans op te hef en te beskerm. Hy het tot onlangs tuisskoolonderrig ontvang en het vanaf die begin van hierdie jaar sy skoolopleiding by DSS voortgesit. Die aanpassing vanaf tuisonderrig na voltydse skoolbywoning is nie altyd vir Avon maklik nie, maar die Vermaak-gesin by wie hy tans tuisgaan as hy skool bywoon, maak die aanpassing makliker.
Engelse huistaal, Afrikaanse hart
Ludwig is van Smithfield in die Vrystaat. Hy bly ook by die Vermaaks op KwaSizabantu. Engels is sy gesin se oorheersende huistaal. Hy is egter baie lief vir Afrikaans en luister graag na RSG. Hy hou van rugby, maar luister eerder na die Afrikaanse kommentaar, omdat Afrikaans ’n meer beskrywende taal is.
Afrikaans het steeds ’n huis
Die aanslag op Afrikaans steek gereeld sy kop uit en kom van alle kante, maar veral van regeringskant. Dat die toekoms van Afrikaans oral bedreig word, veral by universiteite, is nie ’n geheim nie. Daarom is dit verblydend dat skole die voortbestaan van Afrikaans ondersteun en dat leerlinge hulle kant bring deur geleenthede aan te gryp om die taal te bevorder.
Die uitslag van die 2024-olimpiade verskyn op die amptelike webwerf van die ATKV (www.atkv.org.za).
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 28/09/2024
Foto’s: LINKS: Ludwig McGill (graad 11). REGS: Avon Williams (graad 10). Die twee jongmanne gee God die eer vir die prestasie en hulle gaan die kontantprys, wat as deel van die beloning vir harde werk kom, spaar. Hulle is beslis op die regte pad.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.