Geskryf deur: FEBA Suid-Afrika
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Natuurgode, vergoddelikte mense, beskermgeeste, halfgode en honger geeste veg almal vir die siel van Taiwan. Niemand weet presies hoeveel voorwerpe van aanbidding daar in Taiwan is nie, maar ongeveer 93% van Taiwan se bevolking van sowat 24 miljoen mense aanbid hierdie voorwerpe. Daar is meer as 12 000 tempels en heiligdomme wat voorsiening maak vir Boeddhisme, Taoïsme of sogenaamde Chinese volksgods-diens, wat die eerste twee met Konfusiaanse ideale kombineer.

“Waar daar verering is, is daar beskerming”
Hierdie Taiwannese gesegde som die algemene houding en motivering agter hul aanbidding op. Van goeie punte op skool, tot goeie gesondheid, tot gemoedsrus in die oudag – mense volg die talle godsdienstige rituele om iets in ruil daarvoor te kry. Aanbidding is ’n transaksie met die gode.

Maar hoe lyk hierdie aanbidding?
Benewens die offer van wierook en gebede by ‘n tempel, maak volgelinge van die drie hoof- Taiwannese godsdienste offers van kos en blomme op die eerste en 15de dag van elke maanmaand om die “[goddelike] leërs” wat die gemeenskap beskerm, te beloon. Hulle vier gode se verjaarsdae, gaan op pelgrimstogte, verbrand “geestesgeld” vir gode en geeste om te gebruik, dra beelde van die gode rond om hulle te wys wat in die plekke gebeur wat hulle moet beskerm, en maak seker dat hulle hul respek betoon aan dwaalspoke by die deur van hul huis of besigheidsplek – anders kom die geeste in.

‘n Terugkeer
Volksgodsdiens het sedert die 1980’s en 1990’s, toe dit meestal in landelike gebiede gevind is, ’n oplewing beleef. Die New York Times berig dat een van die twee jaarlikse pelgrimstogte ter ere van die seegodin Mazu in 2010 sowat 5 000 geregistreerde deelnemers gelok het; vanjaar was daar 180 000. Al hoe meer jong Taiwannese word aangetrokke tot Boeddhisme, Taoïsme en volksgodsdiens. Dit blyk dat die praktyk van waarsêery ‘n groot rol speel: hulle wil weet wat die toekoms inhou.

Deel die goeie nuus van genade
Vryheid van godsdiens vorm deel van Taiwan se grondwet. Die vraag is nie hoe om die Evangelie aan Taiwannese luisteraars beskikbaar te stel nie, maar hoe om hul belangstelling te prikkel. Die belyning tussen kultuur en godsdiens skep ‘n situasie waar mense nie eers bewus is dat hulle verlossing nodig het nie – hulle dink hulle kan dit met vroomheid en offers koop. Wat meer is, sosiale en gesinsdruk word ‘n wesenlike probleem vir potensiële nuwe gelowiges. Die feit dat slegs sowat 4% van die bevolking Christene is, al is die Christendom sedert die 17de eeu in Taiwan, dui aan hoe groot die struikelblokke tussen Taiwannese en die Goeie Nuus is.

Die uitsaai van die Evangelie
FEBA Taiwan, ook bekend as die Far East Evangelical Association (FEEA), is sedert 1988 al in werking. Dit dien hoofsaaklik as ‘n produksiehuis vir programme wat na die vasteland van China uitgesaai word, maar sommige van die programme word plaaslik in Manda-ryns, Taiwannees en Hakka (die taal van die Hakka- etniese groep, wat tussen drie en vier miljoen mense omvat) uitgesaai.

Manna in die wildernis
Die FEBA Taiwan-span (36 voltydse en deeltydse werknemers) produseer elke maand 39 programme en sewe nuwe Bybelskool-kursusse. Hul gewildste program is Manna in die Wildernis, ‘n daaglikse oordenkingsprogram wat in Taiwannees en Hakka vir plaaslike gehore vertaal word. Een luisteraar skryf: “Dank God vir hierdie ryk voorsiening van lewe. Ek is so dankbaar vir die lewensgroeiprogramme, veral Manna in die Wildernis, wat my elke oggend vergesel. My jong geestelike lewe word vernuwe deur daarna te luister.”

Hou tred met die tye
In Mei vanjaar het FEBA Taiwan ‘n projek geloods om voortdurende verbetering van sy digitale platforms te verseker. Met mense, veral jongmense, wat al hoe meer tyd aanlyn spandeer, het dit ‘n noodsaaklike metode van evangelisasie geword. Soos een FEBA Taiwan-spanlid dit stel: “Kommunikasiemetodes word dag tot dag verbeter en verander vinnig. Hoe kan ons tred hou met die tye en effektief kommunikeer?”

Die Evangelie is onstuitbaar
Ten spyte van die teenwoordigheid van dosyne ander see-, vegter- en kulturele gode, het die Evangelie homself al telkemale as onstuitbaar bewys. God se transformerende krag kan nie ontken word deur diegene wat dit ervaar nie, en die waarheid van die Evangelie maak almal vry wat deur ander gode gevange gehou word. FEBA Taiwan se ywerige werk en strewe na verbetering hou hulle in ‘n toestand van gereedheid om enige geleentheid wat God mag bied aan te gryp om die nuus van sy genade met die Taiwannese mense te deel.

‘n Uitdaging vir evangeliste
Die mate waartoe hierdie godsdienste met Taiwannese kultuur verweef geraak het, stel ‘n uitdaging vir evangeliste. Tempels is nie net godsdienstige plekke nie, maar ook sosiale ruimtes waar mense bymekaarkom om in ‘n rustige omgewing te lees of skaak te speel. Die transaksionele aard van hierdie godsdienste het deel geword van ‘n manier van dink – ek kan net iets kry as ek iets gee. Vir diegene wat in hierdie “prestasiegedrewe” kultuur grootgeword het, is dit moeilik om Christenskap se mees basiese beginsel te begryp: dat jy nie deur jou dade gered word nie, maar uit genade deur geloof (Ef 2:8-9).

VAT HANDE MET FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webtuiste febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 29/09/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here