Geskryf deur: Eugene Gunning
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Dis donker hier. Daar is nie kos en water nie. Wat gaan aan? Wat het gebeur? Weet mense daarbuite dat iemand hier onder die betonchaos nog leef? Gabriel Guambe (32), ’n teëllêer van Thembalethu in George, het Maandagmiddag 6 Mei net ná 14:00 laas behoorlik lig gesien hier waar hy gewerk het.
Dit is al vandag die sesde dag en meer as 100 uur nadat die onvoltooide woonstelgebou dramaties ineengestort het. Sommiges het selfs gedink George beleef ’n aardbewing.
Gabriel weet dit nog nie, maar binne ’n paar uur van nou af gaan hy miljoene Suid-Afrikaners voor hul televisieskerms vasgenael hou. Hy en reddingswerkers gaan vir miljoene Suid-Afrikaners en ook mense wệreldwyd, ’n simbool van hoop en inspirasie word; dat ’n mens moet aanhou en nooit opgee nie.
Reddingswerkers by Gabriel Guambe kort nadat hy onder die bourommel verywyder is.
’n Wedloop teen tyd
Nooddienste en reddingswerkers het sedert Maandagmiddag onverpoos gewerk op die ramptoneel reg oorkant die George-munisipaliteit. Hulle is in ’n wedloop teen tyd gewikkel. Bekommerde families van werkers wag steeds in die nabygeleë stadsaal op nuus van geliefdes wat vermis word. In die week het hoop opgeflikker soos oorlewendes wel uit die puin gehaal is. Ofskoon reddingswerkers dié Saterdagoggend nog steeds soek, begin mense twyfel of dit moontlik is dat iemand nog lewend uitgehaal kan word.
’n Donker prentjie
Teen 9:00 op Saterdagoggend 11 Mei, 115 uur na die ramp, skilder die nuutste rampsyfers ’n donker prentjie: 41 mense gered, verskeie word nog vermis en 13 is dood. Dit was die somber situasie daar in Victoriastraat in die hartjie van George, maar ’n wonderwerk wat almal weer nuwe hoop sou gee, het gewag.
Reddingswerkers se vreugde ken geen perke nie omdat Gabriel lewe.
118 uur onder beton vasgekeer
Die eerste aanduidings dat iets groots en wonderlik besig is om te gebeur, kom kort voor 10:00. ’n George-stadsraadslid sê so in die verbygaan aan my: “Bly net hier!” ’n Rukkie later verklaar Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, glimlaggend by die toneel: “Almal wou ’n wonderwerk hệ. Die wonderwerk het gebeur!” Colin Deiner, die hoof van Wes-Kaap-rampbestuur, bevestig dat reddingswerkers ’n man lewend onder die bourommel gevind het. Die nuus oor die “wonderwerk” versprei vinnig en almal gaan met hernude energie voort.
Reddingswerkers bevry Gabriel kort ná 12:00 versigtig uit die bourommel en neem hom op ’n draagbaar na ’n ambulans – hy was ’n ongelooflike 118 uur lank onder die beton vasgepen.
Mense het spontaan hande geklap, gejuig en daar was uitroepe van: “Prys die Here!” Daar was trane van vreugde, want aanwesiges was getuie van ’n hedendaag-se wonderwerk. Selfs vir geharde reddingswerkers was dit ’n besonderse en aangrypende oomblik.
Ao. Riaan le Roux met sy hond, Lex (links), en sers. Willie Visser met sy hond, Abby (regs).
Groete uit sy hospitaalbed
Later groet Gabriel die mense uit sy hospitaalbed in ’n Facebook-boodskap: “Hallo mense. Ek is reg nou. Ek is reg. Alles is reg. Dankie. God seën julle mense.” Sy pa, Cardoso, het ’n paar dae ná die gebeure getuig: “Dis ’n wonderwerk. Dit kom van God. My seun beskou dit ook as ’n wonderwerk.”
Twee spesiale helde
In die ure en dae ná die reddingspoging het meer besonderhede oor die “wonderwerk” bekend geword. Dit was in alle opsigte ’n spanpoging, maar iets wat tog uitgestaan het, was die rol van twee onbesonge helde, Abby en Lex. Dié twee snuffelhonde het Gabriel in samewerking met hul hanteerders, sers. Willie Visser en adjudant-offisier (ao.) Riaan le Roux van die polisie se honde-eenheid, opgespoor en die weg vir die reddingspoging gebaan.
Meer as 6 000 ton bourommel is verwyder.
Met die Here se hulp
Volgens Visser was dit ’n wonderlike gevoel om iemand lewend onder die puin te kry. Bonita Conrad, ’n brandbestryder en reddingswerker van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit wat deel was van die reddingspan wat Gabriel uitgehaal het, het later haar gevoelens gedeel. Hulle het omstreeks 10:00 met Gabriel kontak gemaak, het sy vertel. Hulle het hom gevra om teen iets te klop, wat hy gedoen het. “Dit was so oorweldigend om te hoor daar is iemand; die trane het geloop.”
Sy beskou dit as die Here se hulp. “Dit is net die Here wat dit moontlik gemaak het. Ek kan Hom net prys… Ek sal hierdie oomblik altyd onthou.”
Premier Alan Winde kort na die reddingspoging afgehandel is saam met van die reddingswerkers.
Sy kanse was minder as 5%
Gerhard Otto, die hoof van Tuinroete-rampbestuur, bestempel dit ook as ’n wonderwerk: “Hou in gedagte dat die kanse in die eerste 24 uur 80% is om iemand lewend uit so ’n situasie te haal. Daarna verminder dit. Ná 96 uur is die kanse minder as 5% om iemand lewendig uit te haal waar ’n gebou ineengestort het.”
Dis beslis ’n wonderwerk
Pastoor Johan du Toit van die Nuwe lewe-bediening in George en ’n stadsraadslid van George, sệ tonne beton en staal het op Gabriel gelệ. Hy was in ’n uiters klein ruimte vasgepen. “Dat hy lewend daaruit gekom het, kan absoluut as ’n wonderwerk van die Here beskryf word. Daar was net sentimeters tussen hom en die beton, tog het hy feitlik ongeskonde daaruit gekom. Dit is wonderbaarlik.”
EUGENE GUNNING – woon sedert 2008 in George. Hy het ’n loopbaan van meer as 38 jaar in die joernalistiek waartydens hy onder meer by Die Vaderland, Beeld, Finansies & Tegniek, Rapport, Die Burger en George Herald gewerk het. Deesdae hou hy hom besig met vryskutwerk.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/06/2024
Foto’s: Eugene Gunning
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.
Dit is absoluut wonderlik. Een van die paramedikuste, Louwtjie (hoop ekt sy naam reg – afkomstig van Piketberg) het by die NG kerk Piketberg Pinkster rescue 911 byeenkomste van die kinders kom getuig hoe absoluut GROOT God is en het vertel van hul reddingswerk by George met die reddingspoging daar by juis die woonstelblok wat ineengestort het. Hy het spesifiek vertel van hierdie man. Wat die honde die Maandag uitgesnuif het. Hoe hul in die algemeen vir hom gesê het, in die absolute chaos, van wie is veiliger om eerste uit te haal en die prioriteits lys van die reddingspogings, ons kan jou nie nou uithaal nie. Die beton by jou gesig is te onstabiel ons moet dit eers versterk voor dit jou plat druk in die reddingspoging. Toe hul hom 3 na 4 dae later uithaal, soos genoem. Onthou die man was in ‘n opwaartse fetusposisie vasgedruk. Bene opgetrek teen sy bors. Paar sentimeter bo sy gesig oop. Niks water. Niks kos. Arms is vas. Geen beweging. Kan nie toilet toe gaan nie. Toe hul hom uittrek… “Wow, ons kan nie glo jy leef nog nie. Waaraan het jy was gehou. “What kept you “going”? Wat het jou hoop gegee … die man antwoord verward: “Julle het gesê jul kom weer terug!” Maar ‘n absolute wonderwerk van Bo! Hoe die geloofsgesange van die familie buite die sperlyne, om die ineengestorte gebou, wat wag op nuus van hul geliefdes: lewend of dood, die reddingswerkers moed en hoop gee om aan te hou graaf, aan te hou soek. Hoe elke lewe soos ‘n “sin” is. Jou lewe begin met ‘n Hoofletter, groot gebeurtenis, soms het jou lewe ‘n uitroepteken of komma as jy in God begin glo of jou lewe verander. Maar almal se lewe eindig met ‘n punt. Jou punt kan enige tyd kom. Gee jou hart vir God voor jou “sin” eindig. Hierdie man wat bly leef het, se sin word nog geskryf…