Geskryf deur René Roux
Artikel bron: Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand se dienslewering en roeping is gegrond op die beginsel van werksyn bo welsyn. Hierdie uitgangspunt bepaal hoe ons elke dag in gemeenskappe werk – diensbaar, verantwoordelik en roepingsgedrewe, met die oog op ’n vrye en vervulde toekoms. Werksyn word sigbaar wanneer mense hulself nie as slagoffers of passiewe ontvang-ers van hulp sien nie, maar as aktiewe deelnemers in hul eie ontwikkeling. Dit is ’n ingesteldheid van saam bou, saam dra en saam groei. Ware, volhoubare gemeenskapsontwikkeling lê nie in blote voorsiening nie, maar daarin om mense toe te rus, te aktiveer en te bemagtig om hul rol met waardigheid te vervul.

’n Leefwyse van werksyn
Waar welstand fokus op wat ons doen – sorg, beskerming en ondersteuning – fokus werksyn op hoe ons dit doen. Dit vra dat ons ons gawes, tyd en kundigheid doelbewus in diens van ander stel. Werk word nie net ’n taak nie, maar deel van ons menswees. Om by te dra en te dien is deel van ons bestaansrede.

Werksyn begin by die jongstes
Binne hierdie raamwerk speel Ons Plek-kleuterskole en -naskoolsentrums ’n sleutelrol. Hier word werksyn by die jongstes gevestig. Ons Plekke bied nie net versorging nie, maar ’n veilige ruimte waar kinders groei en leer, en waar hul potensiaal ontwikkel word. Kinders word nie net vir skool voorberei nie, maar vir die lewe – met dissipline, verantwoordelikheid en selfvertroue as boustene vir hul toekoms. Wanneer kinders in ’n veilige omge-wing versorg word, word ouers ook bemagtig. Mamma en pappa kan werk en hul rolle vervul met die gemoedsrus dat hul kinders versorg en ontwikkel word. Só word werksyn gevestig by kinders, in gesinne en uiteindelik in die gemeenskap.

Gemeenskapskrag wat groei
Ons Plek is ’n gemeenskapsprojek waar lede dien, skenk en hul tyd en talente gee. Dit is werksyn in aksie – mense wat nie wag vir verandering nie, maar self deel word van die oplossing. Sedert die eerste Ons Plek-naskoolsentrum in 2014 in die Strand vir 20 kinders geopen het, het die beweging gegroei tot agt Ons Plekke wat vandag meer as 400 kinders bedien – ’n bewys van wat saam bereik kan word.
Waar Ons Plek die fondasie lê, bou Ons Sentrum verder. Baie kinders dra swaar laste van verlies, verwaarlosing en geweld, wat hul emosionele welstand, leervermoë en verhoudings raak. By Ons Sentrum word hierdie kinders se stories aangehoor en professioneel hanteer. Deur spelgebaseerde assesserings en terapie word ’n veilige ruimte geskep waar kinders kan groei. Hier word werksyn sigbaar – diens wat lei
tot genesing. Sonder ingryping bly hierdie seer dikwels ’n struikelblok op hul lewenspad.

’n Lewenspad van ontwikkeling
Die krag van hierdie model lê in die ontwikkelingspad wat kinders volg – van kleuterskool en naskoolse ondersteuning tot verbeterde skoolprestasie en uiteindelik tersiêre opleiding deur rentevrye studielenings, met die doel om bydraende lede van die samelewing te word. Soos Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê: “Opleiding is die beste teenvoeter teen onbillikheid en lewenslange leer is die sleutel tot ’n vry en voorspoedige toekoms.” Personeel werk uit roeping en lewer uitnemende diens, wat ’n kultuur van verantwoordelikheid en diensbaarheid skep. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (Mark 10:14). Hierdie woorde herinner ons dat kinders kosbaar is en dat ons ruimte moet skep waar hulle kan groei en hul potensiaal bereik.

’n Wekroep aan die gemeenskap
Een van my kollegas, Lizanne Coetzee, skryf onlangs: Wat mis ons? Hoekom is meer mense nie betrokke nie? Terwyl ons strategies beplan saam met Ons Plek- en Ons Sentrum-bestuurders, besef ons net weer hoe noodsaaklik hierdie diens vir kinders is.

Vir baie is dit:

  1. Die enigste plek waar hulle kos kry
  2. Die enigste plek met water en krag
  3. Die enigste plek waar iemand omgee
  4. Die enigste plek vir ondersteuning en terapie
  5. Die enigste plek waar iemand in hulle glo
  6. Die enigste plek waar hulle huiswerk in Afrikaans kan doen
  7. Die enigste plek waar hulle veilig voel
  8. Die enigste plek waar daar na hulle omgesien word
  9. Die enigste plek waar hulle in Afrikaans kleuterskool toe kan kom

Raak deel van die oplossing

Mense kry swaar, en wanneer mense swaarkry, raak dit kinders die hardste. Wat mis ons, en hoekom is meer mense nie betrokke nie? Raak deel van die oplossing. Moenie net bekommerd wees oor ons kinders nie – raak betrokke. Hierdie kinders het die gemeenskap broodnodig. Skenk by stapsaamfonds.co.za. Die toekoms lê in ons kinders se hande, maar die verantwoordelikheid begin by ons vandag.


Hierdie artikel verskyn in die Junie 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel gepubliseer in die JUIG! Tydskrif; Junie 2026
Datum gepubliseer: 19/05/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here