Onderhoud deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
As persoonlike stilis, spreker en styl-influencer, is Marilize de Clercq op ’n missie om vroue van alle ouderdomme te help om hul ware waarde en identiteit in Christus te ontdek. Hierdie passie is diep gewortel in haar eie storie.
V Marilize, hoe het God jou lewenspad gebruik om jou toe te rus vir die werk wat jy vandag doen?
Ek kom van ’n plek waar my selfbeeld glad nie goed was nie. Ek het my identiteit in klere gevind. As ek nie reg gelyk het of mooi aangetrek was nie, kon ek nie uit die huis gaan nie. Dit was verskriklik. Maar die Here het vryheid gebring – sy waarheid oor jou maak jou vry.
Ek het dit nie gaan swot nie. Hy het my gevorm om te kan doen wat ek doen. As jong meisie moes ek kreatief wees, ek het nie die hulpbronne gehad om net te koop wat ek wou hê nie. Dit het my oog geleer. Vandag kan ek binne vyf minute ’n vrou se stylpersoonlikheid identifiseer. Fashion is die doel wat Hy vir my gegee het, en ek doen dit tot sy glorie.
V Vertel ons meer oor jou werk as stilis en waarom dit dieper betekenis het as om iemand net mooi te laat lyk.
Daar is soveel aspekte aan my werk. Mense dink dalk ek shop net, maar daar gaan baie agter die skerms aan. Baie mense sien dit as ’n oppervlakkige ding. Dit is nie, dit is jou visuele kommunikasie. Voordat jy jou mond oopmaak, praat jou kleredrag reeds namens jou.
Soos ’n uniform ’n mens toegang gee tot plekke, of ’n sekere posisie of beroep verteenwoordig, verteenwoordig jou uiterlike voorkoms ook wie binne-in jou leef – en vir my is dit Jesus en sy Koninkryk. Ek trek aan om Hom te verteenwoordig, ’n mens moet met daai begrip aantrek. Vra jouself: Vir wie trek ek aan? Vir wie maak ek my mooi? Wie verteenwoordig ek?
Wat sal jy doen as Jesus aan jou voordeur kom klop? As jy weet Jesus kom vanaand vir ete sal jou huis blink. Jy sal nuwe handdoe-kies neersit en die toiletpapier mooi vou. Nou hoekom sal jy nie jou fisiese voorkoms ook versorg nie? Binne en buite is jy sy tempel.
Ons moet besef dit gaan nie net oor ons nie, ek trek aan om Hom te verteenwoordig. Jou klere moet wys wie jy is as kind van die Here. Dit het niks met geld te doen nie – dit gaan oor jou hart en jou intensies.
V As ’n Christenvrou in die skoonheid- en modebedryf, ervaar jy enige teenkanting? Hoe bly jy steeds geanker in jou geloof?
In elke beroep is daar teenstand. Jou karakter word gevorm en gebou, en jou fokus moet op die Here bly. Mense gaan jou teleurstel, en jy gaan mense teleurstel. Maar jou intensies maak saak.
As jy in die modebedryf is, moet jy weet wie jy is en wie jy in Christus is. As jy nie weet wat jou waarde is en dat jy iets het om te bied nie, is dit ’n baie moeilike bedryf om in te wees. ’n Mens kan gou verwerp voel, ek het verwerping al op alle vlakke ervaar. Beskerm en bewaak jou denke. Wanneer gedagtes opkom wat nie in ooreenstemming is met God se Woord nie, moet jy versigtig wees. Die vyand gaan altyd probeer vir jou sê jy is nie goed genoeg is nie. Ons moet ons gedagtes voortdurend vernuwe met God se Woord.
Alhoewel dit uitdagend kan wees, is daar ook soveel mooi in die bedryf. Ek kies om daarop te fokus.
V Waar is die lyn tussen mooi wil lyk en ydelheid? Hoe voel jy behoort Christen-vroue oor uiterlike skoonheid te dink, anders as die wêreld?
Vir my gaan dit oor jou motief. Dit is goed om mooi te lyk, maar vra jouself: Betaal ek my tiende, of koop ek eerder die toppie wat ek wil hê? Hoe spandeer ek op my klere? Is ek bereid om iets vir iemand anders te koop wat ek eintlik self graag wil hê?
Skoonheid is van binne na buite. Daar is ongelooflike skoonheid in ’n vrou wat die Here werklik ken, teenoor iemand wat nog haar Skepper moet ontmoet. Die Here het skoonheid geskep, maar die vyand probeer dit vernietig deur wellus, misbruik en vergelyking.
Nie een van ons hou van vuil hare of puisies nie. Solank jou skoonheid nie jou identiteit word nie, is dit nie verkeerd om mooi te wil lyk nie. Maar as jou uiterlike voorkoms jou identiteit word, is dit ’n afgod in jou lewe.
As vroue moet ons ook leer om mekaar te komplimenteer, en dit opreg bedoel. Moenie iets sê wat jy nie bedoel nie. As jy iets mooi van iemand sien, sê dit vir hulle. Ons kan so vinnig oordeel of afgunstig raak. Of jy grimering dra of nie – albei is mooi. Daar is vroue wat daarvan hou om bietjie in te kleur, en ander verkies ’n skoon gesig. Albei is okay. Ek hou van grimering, en daar is vroue wat nog meer daarvan hou – ek vier dit! Ek vind ook vroue wat nie ’n druppel grimering dra nie ongelooflik mooi. En ek sê dit vir hulle.
Baie vroue wil nie die roete van botox of fillers volg nie, en dit is ook reg. Dit is ’n persoonlike keuse, maar bewaar jou hart. Dis maklik om in die gat van ydelheid of jaloesie te val. Omring jouself met vrien-dinne wat jou help om gegrond te bly in wie jy in Christus is.
VOLG MARILIZE op haar Instagram – @marilizedc
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 21/04/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.