Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: Artikel verskaf 

Christene in Sentraal-Nigerië hou gebedsbyeenkomste nadat verskerpte aanvalle op hul gemeenskappe in een staat meer as 340 mense dood en 80 000 ontwortel gelaat het. Die volgehoue aanvalle op Christen-boere in Plateau-staat het sedert Mei onverpoosd voortgeduur, met die Nigeriese weermag wat eers op Saterdag, 22 Julie, ingetree het om die orde te probeer herstel. 

 Die plaaslike regeringsgebied van Mangu is die episentrum van die geweld met ekstremistiese Fulani, tradisioneel veewagters, wat die huise van Christene plunder, aan die brand steek en hulle doodmaak wanneer hulle probeer ontsnap.

 Volgens bronne by Geopende Deure, ʼn bedieningsorganisasie wat vervolgde Christene wêreldwyd ondersteun en versterk, gebeur die aanvalle amper daagliks in verskillende gemeenskappe in Mangu. Die nuutste data wys dat altesaam 346 mense die afgelope drie maande in Plateau-staat vermoor is, waarvan 315 Christene is. 

 Markus Artu, ʼn amptenaar in die Mangu-distrik, sê daar is nou na raming 80 000 intern ontwortelde mense in elf vlugtelingkampe in die Mangu-gebied. Nigerië se militêre personeelhoof, majoor-generaal Taoreed Lagbaja, het Mangu verlede Saterdag besoek vir die aanvang van spesiale operasies om die krisis die hoof te bied.

 Plateau-staat is op die skeidingslyn tussen Nigerië se noorde, wat meestal Moslem-gesind is, en die oorwegend Christelike suide en is al jare lank ʼn brandpunt vir konflik. Christen-gemeenskappe in die aangrensende plaaslike regeringsgebiede van Barkin-Ladi en Riyom ervaar ook ʼn toename in geweld deur Fulani-militante. 

Gevaarlik om ʼn Christen te wees
Nigerië is tans sesde op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, ʼn jaarlikse ranglys van lande waar dit die gevaarlikste is om ʼn Christen te wees. Sedert die noordelike state in 1999 getrouheid aan Sjaria (Islamitiese wetgewing) verklaar het, het die afdwinging van Islamisering op beide gewelddadige en ongewelddadige maniere momentum gekry. 

 Christene word deur diskriminasie en uitsluiting as tweedeklasburgers in die gesig gestaar. Gelowiges vanuit ʼn Moslem-agtergrond ervaar verwerping deur hul eie families, druk om hul Christenskap prys te gee en dikwels fisiese geweld.

 Geweld bly die gevaarlikste en algemeenste bedreiging in Nigerië. Aanvalle deur Islamitiese militante groepe het sedert 2015 konsekwent toegeneem, met die regering wat nie daarin kan slaag om die toename in geweld te voorkom nie. Christene word deurlopend lukraak en gewelddadig aangeval in Noordelike Nigerië. Dié geweld het nou na Suidelike Nigerië versprei. 

 Militante groepe soos Boko Haram, Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en Fulani-militante teister hul slagoffers met moord, fisieke beserings, ontvoering en seksuele geweld. Talle Christene word van hul grond en lewensbestaan ontneem en is nou interne ontwortelde mense of vlugtelinge.

 ʼn Donker prentjie
Lynette Leibach, die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Die syfers oor die voortslepende geweld teenoor Christene in Nigerië skets ʼn donker prentjie. Families word ontwrig en talle gelowiges word intern ontwortel. Hulle betaal ʼn hoë prys vir hul geloof in Jesus en hul Christelike identiteit. 

 “Ons moet die plaaslike Kerk in hierdie land ondersteun om te verseker dat ons geloofsfamilie weet dat hulle nie alleen is nie en dat hulle moedige ligdraers in die donker kan bly, ondanks die feit dat hulle weens hul geloof geteiken word.” 

 Geopende Deure werk deur plaaslike kerkvennote om Christene in Nigerië met dissipelskap- en vervolgingsvoorbereidheid-opleiding, traumasorg, noodleniging en sosio-ekonomiese projekte te versterk.

 Arise Africa-veldtog
Volgens die organisasie se nuutste navorsing is daar meer Christene in Afrika as op enige ander plek in die wêreld. ʼn Konserwatiewe beraming is dat 95% van alle Christene wat in 2022 weens hul geloof doodgemaak is, in Afrika suid van die Sahara is – met die oorgrote meerderheid van hulle in Nigerië. 

Daarom het Geopende Deure onlangs die Arise Africa-veldtog bekendgestel om bewustheid te skep oor die ondenkbare geweld teenoor Christene in Nigerië en regoor sub-Sahara Afrika. Hierdie veldtog, wat oor die volgende vier jaar sal strek, is daarop gemik om saam met Christene in die streek suid van die Sahara by te staan. 

Terugvoer van oorlewendes
Simon*, ʼn Nigeriese burger wat op 1 Julie ʼn aanval op hom en sy gesin oorleef het, sê oor hulle beproewing: “Ons is deur Fulani-militante omsingel. Ek het naelskraaps ontsnap, maar twee van my bure is doodgemaak. My vrou en kinders het ook net-net weggekom. Ek het die ekstremiste met my eie oë gesien – hulle het ons kos, matras, kussings en palmolie verbrand. Hulle het alles wat ek besit verbrand. Al wat ek nou oor het, is die klere aan my liggaam.” 

 Nog ʼn Nigeriese oorlewende, Danladi*, beskryf die aanval op sy dorp: “Dit het gedurende die nag gebeur. Ons was by die huis toe hulle die hele gemeenskap omsingel het. Hulle het begin skiet en baie mense doodgemaak, ons het naelskraaps ontsnap. Ons huise is afgebrand; ons leef nog steeds met die spanning saam.” Danladi, wat niks meer het nie omdat al sy besittings verbrand is, voeg by: “Ons doen ʼn beroep op Christene van oral en dié in Nigerië om tot ons redding te kom.” 

 Dominee dr. Gideon Para-Mallam van die Para-Mallam Vredestigting in Nigerië bevestig dat godsdiensgemotiveerde geweld en aanvalle teen Christene die afgelope paar maande drasties toegeneem het. Hy sê: “Die huidige vlaag sterftes in Mangu moet met die uiterste dringendheid wat dit verdien, hanteer word. Hierdie onregverdige moorde hou al vir te lank aan – nie net in Mangu nie, maar ook in ander brandpunte in die Middelgordel-gebiede.” 

 Die Plateau-staatsgoewerneur, Caleb Mutfwang, het aan Nigeriese joernaliste gesê: “Wat ons hier aanskou, is ʼn noukeurig beplande operasie om ons Christelike bevolking uit te dun. Dit is noodsaaklik om te erken dat dit nie net ʼn boere-versus-veewagters botsing is, soos wat dit tradisioneel uitgebeeld word, nie. Dit is ʼn situasie waarin onskuldige dorpsmense gedurende die nag wanneer hulle slaap aangeval word.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 01/08/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here