Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand Artikelbron: artikel verskaf
Die sanger en liedjieskrywer, Prop, en Edwin Nelson, die 18-jarige wat onlangs albei sy voete in ʼn gru-ongeluk verloor het, is die afgelope naweek as hoopdraers vereer.
Die Mathys Roets-toekenning van Hoop is Vrydag tydens Solidariteit Helpende Hand se Afrison Liefde In Gestremdheid (LIG)-konsert by Sol-Tech se Monumentpark-kampus in Pretoria aan Prop en Edwin oorhandig. Vernon Barnard, Prop en Drie van die Bestes (Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys) het by die geleentheid opgetree.
Dié toekenning word opgedra aan mense met gestremdhede wat ʼn inspirasie vir die gemeenskap is. Helpende Hand het dit in 2022 na Mathys vernoem toe hulle dit aan hom oorhandig het vir sy deursettingsvermoë. Sy motor het op ʼn grondpad naby Richmond in die Noord-Kaap gaan staan en hy het manalleen die res van die pad in sy rolstoel aangedurf het om by ʼn vertoning uit te kom. Veiligheidswagte het hom op kameras gesien en iemand gestuur om hom te help.

Mathys Roets en Prop
Prop, wat met pseudoachondroplasie (oftewel semidwergisme) leef en ook ʼn argitek is, is veral vereer vir sy positiewe geaardheid en omdat hy iemand is wat uitdagings aanpak en volhard.
“Dit is nie net ʼn erkenning van my gestremdheid nie, maar van al die mense wat met gestremdhede leef,” het Prop oor sy toekenning gesê.
“Dit bring vir my rustigheid dat daar op ʼn mooi manier erkenning gegee word aan mense wat anders is. Ons is nie spesiaal of vreemd nie, maar ons waardeer die erkenning dat ons elke dag moet leef in ’n wêreld wat nie by ons leefstyl aangepas is nie. Ja, ons is wel anders as ander mense, maar ons doen ons bes en gaan aan. En as ons kan, kan jy ook.”
ʼn Emosionele Edwin het by die geleentheid gesê hy het reeds op die ongelukstoneel waar sy lewe in ʼn oogwink verander het, begin om die trauma te verwerk. Hy was hy op 28 Mei van Potchefstroom na sy huis in Vaalpark op pad toe hy beheer oor sy voertuig verloor en teen versperrings langs die pad gebots het. Hy was vir twee uur in sy voertuig vasgekeer voor hulp opgedaag het.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, saam met Edwin Nelson.
“Die ondersteuning wat ek van geliefdes en vreemdelinge, selfs van oorsee, ontvang het, was en is steeds oorweldigend. Dit het my aangemoedig om op te staan en nie te bly lê nie. Ek wou so gou as moontlik weer mobiel raak, en ses weke ná my ongeluk het ek begin om prosteses te gebruik,” het hy gesê.
Edwin sê hy hoop hy kan ander mense inspireer en die ondersteuning bied wat hy gekry het. Daarom het hy by die geleentheid besluit om R10 000 aan Helpende Hand se studiefonds vir gestremde persone te skenk.
“Ek het nie geweet ek gaan ’n toekenning kry nie, veral nie van Mathys Roets af nie, so dit is baie spesiaal vir my. Dit gee my meer selfvertroue omdat dit wys mense glo in my. Ek wil vir ander jongmense wys dat ek in hulle glo en ek hoop ek kan ʼn verskil in hul lewens maak. Dit is maar net die begin van groot dinge,” het Edwin gesê.

Vernon Barnard
Nog ʼn hoogtepunt van die LIG-konsert was ʼn fakkelseremonie waartydens konsertgangers fakkels aangesteek het om hulde te bring aan persone met gestremdhede.
“Mense met spesiale behoeftes moet erkenning kry omdat hulle waardevolle lede van ons samelewing is en omdat hulle unieke perspektiewe en talente het. Deur aan hulle erkenning te gee, word inklusiwiteit bevorder, wat die fondament van ʼn regverdige samelewing is,” sê Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en die Forum vir Persone met Gestremdhede.
Die wenner van Helpende Hand se Sê jou Sê-kultuurkompetisie vir leerders met gehoorverlies is ook tydens die geleentheid bekendgemaak en Afrison, die hoofborg van die konsert, het ʼn skenking aan Helpende Hand se LIG-studiefonds vir persone met gestremdhede gemaak.

Prop
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 01/08/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








