Geskryf deur: Richard Prinsloo
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

As Christene word ons geroep om goeie rentmeesters te wees van die hulpbronne wat God aan ons toevertrou, ons moet ons geld bestuur en bestee met wysheid en tot sy eer. Goeie, wyse rentmeesterskap is die primêre beginsel wat die Bybel oor geld leer. Geld groei nie aan bome nie, dit groei deur goeie rentmeesterskap (sien Spreuke 13:11). Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om te leer hoe om goeie rentmeesters te wees, en dit is wat ons oor die volgende paar maande sal doen. Met die einde van die belastingjaar in sig, is nou ’n uitstekende tyd om jou jaarlikse bonus of ekstra spaargeld effektief aan te wend. Kom ons kyk na twee effektiewe maniere om dit te doen:

Belastingvrye spaarplan
• Geen belasting word betaal op fonds-groei, kapitaalwins of dividende nie.
• Onbeperkte toegang tot fondse sonder belasting op onttrekkings.
• Beleggingslimiete: R36 000 per jaar (maandpremies en eenmalige bydraes) en ’n leeftydlimiet van R500 000.
• ’n Wye verskeidenheid fondse beskikbaar vir belegging.

Aftreeplan
• Belastingaftrekbaar tot 27,5% van jou salaris (maksimum R350 000 per belastingjaar).
• Geen belasting word betaal op fondsgroei nie.
• Krediteure het geen aanspraak daarop nie, en dit vorm nie deel van jou boedel nie.
• Kan in enige Regulasie 28-fondse belê (maksimum 75% aandele, 25% eiendom en 45% internasionale bates).
• Vanaf 55 jaar oud kan jy een derde kontant onttrek (tot R550 000 is belastingvry), die oorblywende twee derdes moet in ’n annuïteit belê word vir ’n maandelikse inkomste. Hier het jy die opsie van ’n lewende annuïteit en ‘n lewensannuïteit.

Lewensannuïteit:
Hierdie opsie bied ’n gewaarborgde inkomste totdat jy tot sterwe kom. Dit bied sekuriteit – jou inkomste bly konstant, ongeag hoe die markte presteer. Maar met jou afsterwe is daar geen uitbetaling aan jou begunstigdes nie (daar is wel opsies soos om jou eggenote in te sluit).

Lewende annuïteit:
Hiermee bly jou kapitaal in jou eie beheer, jy kies self ’n maandelikse inkomstepersentasie (tussen 2,5% en 17,5%). Die gevaar is dat jy te veel trek en op jou oudag te min geld het. Die oorblywende kapitaal in jou fonds gaan by jou afsterwe aan die begunstigde wat jy in jou plan aangewys het.

Beide ’n belastingvrye spaarplan en aftreeplan vereis tyd om te groei. Dit is nooit te vroeg om te begin belê nie, dit is ook nooit te laat nie. Maak vandag die keuse om 2025 ’n jaar te maak van wyse finansiële keuses!

RICHARD PRINSLOO – finansiële adviseur by Old Mutual. Het jy enige spesifieke finansiële onderwerpe waaroor jy meer wil leer? Stuur gerus ’n e-pos na rprinsloo@oldmutual.com

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 23/01/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here