Artikelbron: news.ag.org 

Twee sendelinge wat in die Arabiese wêreld werk, het getuig hoe Moslems op grootskaal drome van Jesus ontvang.

James Bradford en Dick Brogden het in ʼn onderhoud met Assemblies of God News  gesê hulle glo dat hierdie drome bydra tot hulle evangelisasiewerk en Moslems se bekering.

Die twee sendelinge het daarop gewys dat Islamitiese lande gevaarlik kan wees vir Christene, met beperkte geleenthede vir openlike evangelisasie. Hulle het egter ook vertel dat Moslems Jesus in hul drome teëkom en hulle tot die Christendom bekeer.

“Ek sal dit selfs waag om te sê dit is ’n algemene verskynsel,” sê Brogden. “Moslems reageer op Jesus soos nog nooit tevore nie! Baie Moslems verwerp Islam al weet hulle dat dit ’n groot prys sal kos om Jesus te volg. Drome oor Jesus bemoedig en vertroos hulle op hul reis en verseker hulle dat Jesus by hulle sal wees.”

Tydens ‘n byeenkoms van Christelike leiers het Bradford ’n getuienis gehoor van ’n vrou wat ’n droom oor Jesus gehad het. “Sy het Islam verlaat, maar was vol haat en agterdog teenoor Christene. Onseker oor wat om te doen, het sy God om hulp gevra. Een nag het sy ’n droom gehad waar sy ’n Herder met ’n staf om ’n leë graf sien loop het. Die Herder het dit ’n paar keer gedoen, omgedraai en toe die vrou genader. Hy het ’n brood vasgehou, dit gebreek en dit vir haar aangebied en gesê: ‘Neem, eet, dit is my liggaam.’”

Die vrou wat geen kennis van die Bybel gehad het nie, het wakker geword het en iemand gekontak het wat sy geweet het ‘n Christen is. “Hy het vir haar in die Bybel gewys dat Jesus presies daardie woorde gespreek het. Die vrou het Jesus toe as haar Verlosser aangeneem en dien Hom nou,” getuig Bradford.

Brogden het nog ’n storie vertel wat illustreer hoe ver God gaan om Sy liefde aan mense te demonstreer. ’n Saoedi-Arabiese vrou het gedroom sy gaan hemel toe, maar het gevrees dat dit dalk die duiwel is wat haar wil verlei. “Sy het gebid: ‘Jesus, as U die ware God is, wil ek U sien.’”

“Later, terwyl sy besig was om haar skape in die woestyn op te pas, het sy op ’n plas water afgekom. Sy het gebuk om te drink en sien toe in die weerkaatsing ’n massiewe man wat agter haar staan. Hy het ’n herderstaf vasgehou en geglimlag. Sy het omgedraai, maar niemand was daar nie. Toe sy terugkyk in die water, was die enorme skaapwagter steeds daar.”

Brogden verduidelik dat die vrou vreesbevange huis toe gehardloop het om vir haar gelowige suster te sê dat Jesus bewys het dat Hy God is. Die Saoedi-vrou het egter steeds getwyfel en die Here vir verdere bewyse gevra. Haar ma was kreupel, gekluister aan haar stoel, sy kon nie loop nie. Die vrou het gebid: “Jesus, as U waarlik God is, genees my ma en laat haar loop!” Onmiddellik het haar ma opgestaan en geloop. Die suster het haar hande in oorgawe opgelig en uitgeroep: “Jesus, ek glo, ek glo!”

Bradford en Brogden moedig gelowiges aan om aan te hou bid vir die Arabiese wêreld, aangesien baie Moslems Christus nog nooit teëgekom het nie. “Daar is nou meer onbereikte mense as ooit tevore,” sê Brogden. “In 1982 was daar 2,5 miljard mense wat as ‘verlore’ in die wêreld geklassifiseer is, met 1,5 miljard van hulle wat as ‘onbereik’ gekategoriseer is. In 2022 het die wêreldbevolking 8 miljard bereik, met 6 miljard wat as ‘verlore’ geklassifiseer is, en ‘n verbysterende 3,15 miljard van hulle wat as onbereik beskou word.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 12/06/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here