Artikelbron: morningstarnews.org
Twee Christene in Oos-Oeganda is in die hospitaal opgeneem nadat ekstremistiese Moslems hulle aangerand het voor hul aanbieding tydens ’n godsdiensdebat, berig Morning Star News.
Die twee slagoffers is die 32-jarige Musa Kirongosa en die 27-jarige Swidiki Buyinza, wat al twee lede van ’n kerk in Nawiakoke is. Kirongosa en Buyinza was die eerstes wat gepraat het tydens ’n godsdiensdebat wat op 13 November deur Moslems in die dorp Bulumba gereël is.
Deur beide die Bybel en die Koran te gebruik, het die twee Christen-mans aangevoer dat Mohammed ’n valse profeet was en Kirongosa het beweer dat “die waarheid slegs in Christus Jesus gevind word as die enigste Verlosser vir die mensdom”.
Voordat die twee mans nog hulle spreekbeurt kon voltooi, moes hulle vlug en in die nabygeleë huis van ’n Christen gaan skuil. Van die Moslems het hulle gehaas om die pad wat uit die gebied lei, te versper en sowat twee uur later, omstreeks 19:00, toe almal huis toe is en alles stil was, het die twee Christene gedink dit is veilig om te vertrek.
“Toe ons omstreeks 19:30 op ons motorfiets vertrek, is ons ’n paar kilometer verder langs die pad deur Buruhan Musobya, ’n bekende Moslem-ekstremis, en ses ander Moslems voorgekeer,” het Buyinza aan Morning Star News gesê. “Hulle het begin skree: ‘Allah Akbar! Dit is die vyande van ons profeet Mohammed en ons godsdiens!’”
Die aanvallers het die twee slagoffers se motorfiets in stukke gebreek en hul Bybels en ander Christelike lektuur opgeskeur, het hy gesê. “Toe het hulle ons hard begin slaan met stomp voorwerpe, wat veroorsaak het dat Musa sy regterbeen breek,” het Buyinza aan Morning Star News gesê. “Twee van die aanvallers het my styf vasgehou en met stokke geslaan, terwyl vier ander Musa geslaan en geskop het waar hy in die middel van die pad gelê het.”
Gelukkig het ’n taxi verbygekom en sy hoofligte geflits, wat die aanvallers laat vlug het. Die taxi het stilgehou en die passasiers het uitgeklim, insluitend ’n pastoor van Kaliro wat Kirongosa herken en die twee Christene hospitaal toe geneem het. Buyinza het gesê hy is ontslaan nadat hy een nag in die hospitaal deurgebring het, maar Kirongosa is vir vyf dae daar behandel.
“Een van die sjeiks het ons in die geheim in die hospitaal besoek en gesê dat hy belangstel in Christenskap en van plan is om by die Christelike geloof aan te sluit nadat hy na die debat geluister het,” het Buyinza gesê. “Bid asseblief vir die sjeik se redding en hierdie radikale Moslems, asook die voorsiening van die mediese rekening. Al is ons aangerand, weet ons dat alles ten goede meewerk vir diegene wat Jesus liefhet.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 27/11/2023
Foto: morningstarnews.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.