Geskryf deur: Helpende Hand

Invoertariewe hou verreikende gevolge in
Solidariteit Helpende Hand waarsku dat die jongste invoertariewe wat Amerika op Suid-Afrikaanse produkte ingestel het, verreikende maatskaplike gevolge kan hê. Helpende Hand sê die 30%-verhoging is nie net ’n ekonomiese terugslag nie, maar ’n krisis wat die werksmark, werkloosheid, voedselsekuriteit en die breër welsyn van gemeenskappe negatief gaan beïnvloed.

Werkloosheid verhoog afhanklikheid
“Wanneer werksgeleenthede verdwyn, volg maatskaplike probleme. ’n Samelewing sonder werksgeleenthede moet later staatmaak op welsyn, en Suid-Afrika is reeds gevaarlik naby daaraan om ’n welsynstaat te word,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Noëth sê Helpende Hand bevorder welsyn deur welstand, en welstand word gebou op werksyn – nie op afhanklikheid van die staat nie.

 Sleutelbedrywe in die spervuur
“Ons is bekommerd dat hierdie tariefverhoging werksgeleenthede in sleutelbedrywe soos landbou, vervaardiging en mynbou ernstig gaan knou. As mense nie meer werk het nie, skuif die las na die maatskaplike sektor, en dan loop ons reguit in ’n stelsel van afhanklikheid in,” sê Noëth.

 35 000 werksgeleenthede op die spel
Volgens die Sitruskwekersvereniging kan die nuwe tariefverhoging tot 35 000 werksverliese in slegs daardie landbousektor lei, wat volgens Noëth, welstand en sosio-ekonomiese welvaart in daardie gemeenskappe in gedrang gaan stel. Noëth sê dit is maar net een voorbeeld van die verreikende gevolge wat die invoertariewe op Suid-Afrika kan hê.

 Regering moet verband tussen ekonomie en stabiliteit erken

Helpende Hand doen ’n dringende beroep op die regering om die verband tussen ekonomiese besluite en maatskaplike stabiliteit te erken. “Wanneer jy nie welstand met werksyn beskerm nie, gaan die rooi ligte in die maatskaplike omgewing een vir een aan. Dit moet ernstig opgeneem word.”

 Voedselsekerheid in gevaar
Noëth waarsku verder dat voedselsekerheid ook ’n toenemende risiko raak. “Tot dusver – selfs tydens Covid – het Suid-Afrika darem daarin geslaag om voedselsekerheid te handhaaf. Maar as tariefverhogings die landbou tref, kan dit ’n kettingreaksie ontketen wat uiteindelik die kos op mense se tafels raak, en dit gaan ’n groot maatskaplike impak hê.”

Oproep tot strategiese ingryping

Solidariteit Helpende Hand roep die regering op tot daadwerklike ingryping om die situasie te beredder. “Ons het ’n strategiese, toekomsgerigte beleid nodig wat werk beskerm, voedselsekerheid versterk en welstand met werksyn verseker,” sluit Noëth af.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 16/07/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here