Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Nuus
‘n Paralimpiese atleet het ‘n uitdaging aangepak, wat sy nie seker was sy sou kon voltooi nie, om fondse in te samel om in Mei aan die internasionale Fietsryfederasie (UCI) se Paralimpiese Wêreldbekertoernooie in Europa deel te neem. Sy het die 42 km-fietstoer 20 minute voor die afsnytyd voltooi.
Skaars ’n week voor die Kaapstad-fietstoer het die atleet met voorbereidings gesukkel. Die lang ure in die saal het sy tol op haar spiere geëis en erge spasmas en pyn veroorsaak. Tog het hierdie vasberade atleet volgehou en die fisieke uitdagings en knaende twyfel dat sy haar eerste Kaapstad-fietstoer ooit sou kon voltooi te bowe gekom.
Met die hulp van God, deursettingsvermoë en ‘n wonderlike span wat haar ondersteun het, het sy aan haarself en ander T1-atlete bewys dat dit wel moontlik is om aan hierdie byeenkoms deel te neem. (T1 is ‘n Parafietsry-klassifikasie vir atlete met ernstige motoriese disfunksies en onvoldoende balans om ‘n gewone fiets te gebruik.)
Toni het serebrale gestremdheid wat veroorsaak is deur komplikasies tydens die geboorteproses. Dit beïnvloed haar balans, spraak en al haar motoriese vaardighede.
Sy het die afgelope nege jaar aan vyf Wêreldbekertoernooie deelgeneem (twee in Suid-Afrika, twee in België en een in Italië) en drie Wêreldkampioenskappe (Suid-Afrika, Italië en Nederland). Sy het verskeie Nasionale Kampioenskaptitels en een Wêreldkampioenskap-silwermedalje verower.
In 2021 het sy ’n lewenslange droom verwesenlik om na die Paralimpiese Spele (Tokio 2020) te gaan en het 10de in die tydtoets en 8ste in die padren geëindig.
“Nadat sy my by die Paralimpiese Spele gesien het, het my afrigter, Carol Cooke (Tokio-silwermedaljewenner en driemalige Paralimpiese atleet) gesê ek het soveel verbeter oor die afgelope twee jaar. Maar ek is nie klaar nie! Ek is honger om weer aan ’n resies deel te neem. In 2022 het ek die hele internasionale seisoen misgeloop weens ‘n gebrek aan finansiering, maar in 2023 het ek die Wêreldbeker in België bygewoon,” sê Toni.
“Fondse wat deur hierdie veldtog ingesamel word, sal in 2024 vir my opleidings- en kompetisie-uitgawes in beide Suid-Afrika en oorsee gebruik word. Weens my gestremdheid moet ek ’n vriend as assistent op al my kompetisiereise saam neem om my te help met daaglikse take, soos eet, aantrek en rondbeweeg. Dit is van die redes waarom dit vir my so duur is om mee te ding.”
Help asseblief vir Toni om haar finansiële doelwit van R200 000 te bereik deur haar te ondersteun op backabuddy.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/03/2024
Foto: backabuddy.co.za
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.