Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
Meer as 700 gesinne en verskeie instansies in Gauteng kon Paasnaweek voedsame aartappels op hul spyskaarte sit.
Dit volg nadat ’n boer, wat anoniem wil bly, 34 ton oftewel 1 249 sakke aartappels aan Solidariteit Helpende Hand geskenk het.
“Dit was voorwaar ’n welkome seën vir die gemeenskap net voor die Paasnaweek,” sê Chandré Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se projekorganiseerder wat die ontvangs en verspreiding van die skenking behartig het.

Altesaam 34 ton aartappels is aan Solidariteit Helpende Hand geskenk.
Die aartappels is Woensdag 27 Maart by Solidariteit Helpende Hand se sentrum in Derdepoort in Pretoria afgelewer. Talle organisasies wat baat vind by Solidariteit Helpende Hand se voortdurende pogings om gemeenskappe te ondersteun en voedselsekuriteit te bevorder, kon vooraf registreer en hul gedeelte van die skenkings daar afhaal.
Die instansies sorg gesamentlik vir ongeveer 700 gesinne met ongeveer 3 500 individue in Afrikaanse gemeenskappe. Die aartappels sal verder verdeel word onder plaaslike voedselbanke en gemeenskapsinisiatiewe om direk impak te maak op diegene wat dit die nodigste het.
“Hierdie skenking is spesifiek gemotiveer deur die ernstige behoefte aan voedselhulp wat baie gemeenskappe in hierdie tye ervaar. Dit is ’n gebaar wat wys hoe ’n gemeenskap kan saamwerk om ’n verskil te maak waar dit die nodigste is. Strukture en netwerke maak die verskil, en dit kan ’n mens duidelik sien in hierdie geval. Dit is beslis ’n betekenisvolle bydrae tot die voedingsbehoeftes van duisende mense en gesinne in ons gemeenskappe,” sê Oosthuizen.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, help om aartappels af te laai
Solidariteit Helpende Hand het alle rolspelers wat die skenking en verspreiding daarvan moontlik gemaak het, bedank.
“Dit is met gesamentlike pogings wat ons ’n ware impak en verskil kan maak in die lewens van diegene wat dit die nodigste het. Ons is verbind tot ‘n positiewe verandering en sal voortgaan om ons gemeenskappe te ondersteun in hierdie uitdagende tyd,” sluit Oosthuizen af.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer 03/04/2024
Foto’s verskaf deur Solidariteit Helpende Hand: (Lede van die gemeenskap het ook ingespring om die aartappels af te laai.)
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








