Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
“Die Helpende Hand Studietrust het die afgelope 15 jaar reeds R337 miljoen in die vorm van rentevrye studielenings uitbetaal om 6 935 studente in staat te stel om ‘n tersiêre kwalifikasie te bekom.”
Solidariteit Helpende Hand en die Helpende Hand Studietrust se bestuur is bekommerd oor ‘n ondersoekverslag wat deur OUTA uitgereik is. Outa het uitgelekte klankopnames beskikbaar gestel wat grootkoppe soos die minister van hoër onderwys en die voorsitter van NSFAS se raad by ‘n uitgebreide patronaatnetwerk betrek.
Die Helpende Hand Studietrust se bestuurspan is ernstig bekommerd oor die bewerings wat onlangs na vore gekom het en wil dit duidelik maak dat ons die toenemende korrupsie in die onderwysstelsel ten sterkste veroordeel. Ons besef al meer hoe groot die impak van die onetiese praktyke op ander instellings is en dat dit druk plaas op die versekering van ‘n gesonde opleidingsomgewing.
“Die bewerings van korrupsie en wanpraktyke in die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) en die betrokkenheid van leierskapsfigure soos minister Blade Nzimande en ander is skokkend. Ons vra die volgende vrae: Wie steel nou by studente? Wie het so ‘n onetiese voorneme dat hulle die land se toekoms vir eie gewin steel? Ons veroordeel hierdie optrede ten sterkste,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Die Helpende Hand Studietrust verleen hulp aan studente en lewer ‘n bydrae tot die bevordering van ‘n regverdige en toeganklike onderwysstelsel.
“Ons is van mening dat die verantwoordelikheid van instellings soos die Studietrust al hoe groter word, veral in ‘n klimaat van toenemende korrupsie,” sê Noëth.
Die onthullings van ongerymdhede en die beweerde betrokkenheid van leierskapsfigure plaas ‘n ernstige vraagteken oor die integriteit van ons onderwysstelsel. Ons doen ‘n beroep op die relevante owerhede om hierdie aantygings deeglik te ondersoek en enige vorm van korrupsie uit te wis. Verslae oor die ondersoek moet ten volle deursigtig wees, en die betrokkenes moet verantwoordelikheid neem vir alle onetiese gedrag.
Solidariteit Helpende Hand erken die belangrike rol van die media in die blootstelling van hierdie sake en die handhawing van ‘n demokratiese samelewing. Ons moedig verdere ondersoek en beriggewing aan om die volle omvang van die korrupsie te onthul.
“Die Helpende Hand Studietrust wil graag weet wat die impak van die korrupsie is op die studente wat afhanklik is van finansiële hulp vir hul studies. Ons is verontrus oor die moontlike nadelige uitwerking op die studente,” sê Noëth
Solidariteit Helpende Hand en die Helpende Hand Studietrust dring daarop aan dat die relevante owerhede vinnig en doeltreffend optree om die saak te ondersoek en die nodige regstellende stappe te neem. Ons handhaaf ons standpunt dat korrupsie in die onderwys onaanvaarbaar is en die toekoms van ons land in gevaar stel en sal die situasie dophou.
“Die Helpende Hand Studietrust bly toegewyd aan die bevordering van ‘n regverdige en toeganklike onderwysstelsel vir ons jeug. Ons vertrou op die regstelsel om te sorg vir geregtigheid vir die onderwysstelsel en die studente wat daarby betrokke is,” sluit Noëth af.
“Nie net ontneem die korrupsie studente van die geleentheid om te studeer nie, maar maak ook ‘n toekoms onmoontlik vir die generasies wat nog kom. Ons weet almal dat ‘n kwalifikasie nie net vir een generasie ‘n toekoms bied nie maar die armoedesiklus help verbreek sodat die volgende generasies ‘n beter toekoms en geleenthede kan hê. Nie net word daar van studente gesteel nie, maar dit sal die regering eeue neem om die skade te herstel (indien dit enigsins moontlik is). Ons veroordeel die druk wat individue se geldgierigheid plaas op organisasies wat studiehulp bied,” sê Yolandi Theron, administratiewe hoof van die Helpende Hand Studietrust.
“Deursigtigheid, rentmeesterskap en ‘n uitstekende bestuurspan stel die Helpende Hand Studietrust in staat om in 2024 weer nagenoeg R60 miljoen toe te ken aan behoeftige en verdienstelike studente.
“Die Helpende Hand Studietrust het die afgelope 15 jaar reeds R337 miljoen in die vorm van rentevrye studielenings uitbetaal om 6 935 studente in staat te stel om ‘n tersiêre kwalifikasie te bekom. Dit is moontlik gemaak deur gemeenskappe wat saamstaan om studiefondse te stig, onafhanklike donateurs se bydraes en studente wat getrou hulle studielenings aan die Helpende Hand Studietrust terugbetaal,” sluit Theron af.
Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust doen ‘n ernstige beroep op die gemeenskap en sakelui om deel te vorm van hierdie noodsaaklike inisiatief deur hulle eie studiefondse te stig en skenkings te maak. Sodoende kan ons voortgaan om verdienstelike studente te help om te studeer.
Indien u as individu, trust of besigheid ‘n skenking wil maak, stuur ‘n e-pos na studietrust@helpendehand.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/01/2024
Foto slegs ter illustrasie: freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.