Geskryf deur: dr. Pearl Kupe Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Time2RiseSA is ’n inisiatief onder die leiding van die Heilige Gees wat gelowiges in Suid-Afrika verenig en hulle aanmoedig om te hoop op ’n beter nasie en te mobiliseer vir verandering. Die beweging het voortgespruit uit ’n aanvanklike vergadering toe 300 mense einde Januarie in Bloemfontein byeengekom het. Een van die vernaamste doelwitte van hierdie beweging is om die kultuur van negatiwiteit in een van liefde en hoop te verander. Van groter belang: Dit het ’n duidelike plan vir hoe om binne ’n jaar ware verandering in Suid-Afrika te aktiveer.
Time2RiseSA-projekte
Die inisiatief het verskeie veldtogte en projekte wat reeds van stapel gestuur is, waarvan een die SA Connect-projek is. Met hierdie projek word gepoog om gelowiges met mekaar te verbind deur bloudrukoplossings en goeienuusprojekte vir Suid-Afrika met hulle te deel. Die bedoeling is om burgers te motiveer, te mobiliseer en aan te spoor om op die goeie dinge te fokus wat in die nasie gedoen word en dat hulle self ook meer in daardie verband doen en betrokke raak.
Die Time2RiseSA se #SimunyeChallenge
Suid-Afrika is die tuiste van diverse kulture en rassegroepe. Hierdie nasie is ’n pragtige tapisserie van God se kreatiwiteit. Dit verteenwoordig verskillende rasse, kulture, etnisiteite en tale. Ons is divers in eenheid en een in ons diversiteit. In Zoeloe sê ons, Simunye, ons is een!
Die #SimunyeChallenge is ’n veldtog onder die vaandel van Time2RiseSA. Die doelstelling is om ons nasie op sy eenheid te laat fokus en dit wat ons almal gemeen het, terwyl ons steeds ons diversiteit vier. Simunye beteken dat ons ons verskille opsy skuif en ons gemeenskaplike menswees op die tipies ubuntu-wyse vier. Die Simunye-uitdaging behels dat ons alle negatiewe stereotipes oor mekaar, die wantroue en vooroordele, laat vaar en begin om wedersydse vertroue, respek en liefde vir mekaar te koester.
Die Simunye-uitdaging is waar die wantroue en agterdog gestop word. Ons koester gewoonlik slegs vooroordele en negatiewe stereotipes uit onkunde en omdat ons nie bewus is van die rykdom van mekaar se kulture nie.
Leer mekaar ken
In die Simunye-uitdaging moedig ons almal in Suid-Afrika aan om mekaar te leer ken deur:
• ’n ander Suid-Afrikaanse taal (nie jou moedertaal nie) te leer;
• ’n ander kultuur (nie die een waarin jy gebore is nie) te bestudeer en te leer ken; en
• doelbewus mense buite jou eie rasse- en etniese groep
te bevriend.
Deelnemers word aangemoedig om:
• video-getuienisse van hulle vriendskappe oor kultuurgrense heen te deel;
• videoboodskappe te stuur waar hulle in ’n Suid-Afrikaanse taal praat wat nie hulle moedertaal is nie; en
• boodskappe van hoop aan die res van Suid-Afrika en Afrika te stuur.
Meer inligting oor die uitdaging kan verkry word by time2rise.co.za en op die Simunye Challenge-Facebook-blad.
In vennootskap
Time2RiseSA erken die goeie werk wat deur talle ander Koninkryksinisiatiewe gedoen word en is nie van plan om die wiel weer van voor af uit te vind en te herhaal wat reeds gedoen is nie. Daarom werk die beweging baie nou saam met ander netwerke soos One SA, Unashamedly Ethical, Devoted Citizens, African Enterprise, Tribe en gebedsbewegings in Suid-Afrika wat reeds gevestig is.
Time2RiseSA-konferensie
Die Time2RiseSA-konferensie sal van 6 tot 8 Oktober by die Wilde Als-plaas buite Bloemfontein gehou word waar die eerste It’s Time-byeenkoms destyds gehou is. Ons nooi ALLE gelowiges om te kom. Vir meer inligting oor die konferensie, die visie, missie en doelwitte van hierdie beweging, besoek asseblief time2rise.co.za
Kom ons vervul ons rol
Kom ons vergader en ontmoet mekaar by die konferensie en bou bande om ons nasie aan die hand te neem en te lei om sy verlossingsdoel te vervul!
DR. PEARL KUPE – prokureur en konsultant vir wêreldleiers/internasionale organisasies. Pearl is die internasionale president van die Global Forum for Women Entrepreneurs. Besoek pearlkupe.co.za of stuur ’n e-pos na pearl.kupe@gmail.com
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 28/08/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








