Geskryf deur: dr Pearl Kupe
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die Bybel beskryf die laaste dae as ’n tydperk wanneer ons ’n opkoms sal sien van ’n generasie en mense wat “net hulleself en hulle geld (sal) liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle ouers en ondankbaar wees. Hulle sal niks as heilig beskou nie” (2 Tim 3:2, NLV). Ons is tans in daardie seisoen – ons sien ’n toename in mense wat hulleself liefhet, geld aanbid en deur gierigheid gedryf word. Hulle beskou niks as heilig nie en sal enigiets doen om geld in die hande te kry.

Swendelaars oral!
Ons leef in ’n tyd waar ons baie swendelaars sien – beide in persoon en aanlyn – wat probeer om vinnig geld te maak deur mense te mislei. Swendelaars neem gewoonlik valse identiteite aan van mense wat hulle as invloedryk of bekend beskou. Dié wat op sosiale media werk, gebruik dikwels die identiteit van mense wat baie aanhangers het. Hoe meer aanhangers, hoe groter is die teiken vir swendelaars. Daar is baie swendelaars wat gelowiges teiken omdat hulle voel ons is meer kwesbaar, naïef en minder oordeelkundig.

Gekul deur ’n ‘leraar’
Ek het onlangs ’n boodskap ontvang van iemand wat ek gementor het, waarin sy haar hartseer verhaal vertel van hoe sy bedrieg is. Sy het op ’n gereelde basis oor ’n lang tydperk geld gegee aan iemand wat sy geglo het ’n internasionale pastoor is. Die swendelaar het beweer dat hy ’n kerk in Suid-Afrika bou en het foto’s van die leraar wie se identiteit hy gebruik het as “bewys” aan haar voorgelê. Dit het my lank geneem om haar te oortuig dat sy bedrieg is. Swendelaars het hulle taktiek so verfyn dat dit moeilik is vir mense om te glo dat hulle mislei word. Met die opkoms van KI het dit nog moeiliker geword om misleiding raak te sien.

’n Teiken vir swendelaars
Ek het onlangs self ’n ernstige teiken vir swendelaars op TikTok en Facebook geword. Die swendelaars gebruik my naam en foto’s op ’n bedrieglike wyse om mense te mislei om hulle te volg en lok volgelinge om “donasies” te maak. Dit het my aangespoor om my Facebook-rekening te laat verifieer om dit ’n bietjie moeiliker te maak vir swendelaars om mense met my profiel te bedrieg. Die meeste swendelaars is egter aanhoudend in hul pogings om mense te kul en laat hulle nie maklik afskrik nie. Ongelukkig is die meeste sosialemediaplatforms, soos Facebook en TikTok, traag om op te tree teen swendelaars, selfs nadat hulle gerapporteer is.

Kyk na die Woord
Die dryfkragte agter swendelary is gierigheid en die liefde vir geld. Die Bybel praat oor die liefde vir geld in 1 Timoteus 6:9 (NLV): “Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.”
Swendelaars sal uiteindelik die prys betaal vir hul hebsug en kriminele dade. Die Woord van God sê die volgende oor geld wat oneerlik verkry is: “Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie” (Spr 13:11, NLV). “Kos wat gesteel is, proe aanvanklik lekker. Agterna word dit klippies in jou mond” (Spr 20:17, NLV). “Goed wat onwettig verkry is, bring geen blywende voordeel nie. Om reg te lewe, red ’n mens van die dood” (Spr 10:2, NLV).

Dinge om voor op te let
• Taalgebruik – baie swendelaars het swak woordeskat en spelling. Vergelyk hul kommunikasie met dié van die persoon wat hulle voorgee om te wees, en jy sal ’n groot verskil in die manier van kommunikasie sien.
• Is daar ’n versoek vir geld? Die meeste geloofwaardige bedienaars van die Evangelie sal nie geld aanvra deur privaat boodskappe aan individue nie. Hulle sal die rekeningbesonderhede van die bediening wat hulle verteenwoordig op ’n openbare manier deel.
• Baie swendelaars sal ook beweer dat hulle ‘n “profetiese woord” vir jou het. Dit is gewoonlik ’n lokval om jou te lok sodat hulle jou kan kul en mislei. Wees baie versigtig vir uitnodigings tot privaat kommunikasie.

Mense wat gewoonlik die prooi van hierdie swendelary word
Swendelaars is mense wat hul teikens goed bestudeer het. Hulle soek kwesbare mense. Hulle lees jou profiel op sosiale media en volg jou om te sien of jy eensaam, kwesbaar of geïsoleerd voel. Kwesbare mense soek gewoonlik aandag en word maklik die prooi van swendelary. Hulle sal jou uitsoek en jou vlei om jou spesiaal te laat voel. Wees waaksaam, oplettend en biddend om te verseker dat jy nie ’n slagoffer word nie. Reik ook uit na iemand wat geloofwaardig is in die bediening om raad te vra as jy nie seker is nie. Kry leiding by jou plaaslike kerkleiers en wees versigtig om aanlyn verhoudings te ontwikkel.

Spesiale gebed
Ek bid vandag vir twee kategorieë mense. Vir diegene wat gekul is, bid ek vir genade en vir die herstel van wat jy verloor het. Mag God jou vergoed vir dit wat die sprinkaanswerm verteer het (Joël 2:25-27). Mag jy in wysheid wandel en groei in onderskeidingsvermoë. Aan diegene wat die bedrog pleeg, bid ek vir oortuiging en dat jy tot bekering sal kom voordat oordeel jou bereik en jy die bose wat jy gesaai het, sal maai.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 30/10/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here