Artikelbron: JUIG! Nuus 

“Ek sê wat almal te bang is om te sê …” het Shaun Christie, ’n finalejaarregstudent, op die YouTube-video gesê ter verduideliking van sy standpunt. Die student het met durf standpunt ingeneem vir Christen-waardes by die Noorwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom.

Sy protes was weens die eerstejaarstudente wat as deel van hulle oriëntasieprogram na “oortuigings moes sit en luister wat op hulle afgedwing word”.

Volgens Ronald Peters van AfriForum Jeug was Shaun se protes nie soseer gemik teen die LGBTQIA-inhoud wat tydens die oriënteringsessie aangebied is nie, maar omdat die vereniging wat toegelaat is om dit tydens die universiteitsoriënteringsessie aan te bied, glo sedert verlede jaar die enigste vereniging is wat geleentheid gegee word om die studente tydens die sessie toe te spreek. Volgens AfriForum was die standaardpraktyk in die verlede dat verskeie verenigings (Christelike verenigings inkluis) die eerstejaars in verskillende lokale kon toespreek. Studente kon vrywillig kies na watter verenigings hulle wou gaan luister.

’n Woordvoerder van NWU, mnr. Louis Jacobs, het gesê dat die betrokke sessie deel was van een waar verskeie aangeleenthede bespreek is, onder meer geestesfiksheid, die regte van persone wat met gestremdhede leef, LGBTQIA+-gemeenskapsake en bewustheid van omgewingsvolhoubaarheid.

Hy het ook gesê dat ander organisasies wel toegelaat word om gedurende hierdie tydperk stalletjies op kampus op te rig. “Geen student word verplig om afgesien van akademiese sessies, enige ander sessies by te woon nie,” het hy gesê.

Kyk hier na Shaun se video op YouTube waar hy oor die voorval praat.

F#Hope4SA, die Christelike politieke party wat onlangs gestig is, het in hulle persverklaring die volgende gesê:

“In ’n samelewing wat die beginsels van vryheid en demokratiese uitdrukking koester, staan die #Hope4SA Party onomwonde in solidariteit saam met Shaun Christie, ’n finalejaarregstudent aan die Noordwes-Universiteit, wat onlangs skorsing in die gesig gestaar het omdat hy sy reg op vryheid van spraak dapper verdedig het.

“Shaun se onwrikbare toewyding aan sy beginsels en sy weiering om stilgemaak te word, het die kollig laat skyn op ’n kritieke kwessie wat ons aandag dringend benodig. Ons Party glo vas dat elke individu, veral studente, vry behoort te wees om hul menings te lug sonder vrees vir vergelding of sensuur. Ons staan nie net saam met Shaun nie, maar ook saam met al die studente wat staan vir hul geloof en die reg om hulself uit te druk.

“Die voorval by NWU beklemtoon hoe belangrik die bevordering van ’n omgewing is wat vrye dialoog en die uitruil van uiteenlopende perspektiewe aanmoedig. Dit is ontmoedigend om ’n situasie te aanskou waar studente, die bakens van die toekoms, sulke gevolge in die gesig staar vir die uitoefening van een van die fundamentele beginsels van demokrasie.”

Kyk hier na die hoofdienaar (president) van #Hope4SA, John Mathuhle, se verklaring van solidariteit met Shaun. Hy sê onder meer: “Ons kan nie meer as Christene swyg nie. Daar is ’n agenda in hierdie land wat probeer om tradisionele waardes as Christene in hierdie land te erodeer. As ons nie nou staan nie, sal ons in die toekoms niks hê om voor te staan nie.”

We should take a stand for Christianity – John Mathuhle (youtube.com)

Hoewel Shaun tydelik geskors was, is dit opgehef en mag hy nou klasse bywoon en eksamen skryf, maar hy moet elke keer by die kampus se veiligheidsdienste aanmeld en mag nie enigsins aan openbare geleenthede op die kampus deelneem of dit bywoon nie.

Teken die petisie

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 15/02/2024
Foto: Skermskoot YouTube

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here