Geskryf deur: Alex Pollock
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Donderdag, 9 November, het leiers van Pakistan, Turkye, Iran en Rusland lande in Sentraal-Asië besoek ten einde bestaande verhoudinge te versterk en nuwe bande te smee, aangesien hierdie streek wat voorheen deur Rusland gedomineer is, vir nuwe globale vennootskappe ontvanklik is.
Die Russiese president, Vladimir Poetin, het die president van Kazakstan, Kassym-Jomart Tokayev ontmoet, terwyl Pakistan se eerste minister, Anwaar ul Haq Kakar, die president van Turkye, Recep Tayyip Erdogan en die president van Iran, Ebrahim Raisi, in Oezbekistan geland het vir die bywoning van die 16e Ekonomiese Samewerkingsorganisasie (ECO) se beraad.
Pres. Poetin se besoek aan Kazakstan het slegs ’n week ná dié van die Franse president, Emmanuel Macron, aan Tokayev plaasgevind, om “samewerking op sleutelgebiede te versnel”. Die voormalige Sowjet-lande in Sentraal-Asië het onlangs meer bereidwilligheid getoon om met lande buite Rusland saam te werk, aangesien Rusland se invloed weens die voortdurende konflik met Oekraïne kwyn.
Amerika, die Europese Unie (EU) en China ding ook mee om bronne in Sentraal-Asië, wat nog ’n faset tot die voortgaande “Oos versus Wes”-narratief toevoeg. Besprekings by die ekonomiese beraad het gesentreer rondom handel, humanitêre samewerking en vervoer. Sentraal-Asië, wat volkome van die see afgesny is, probeer toegang tot die see deur Pakistan verkry, met vele nuwe handelsgeleenthede wat daardeur tot stand sal kan kom. Terwyl Rusland se invloed nie so sterk is soos dit eens was nie, speel die land steeds ’n prominente rol in die streek en pres. Poetin se besoek aan Kazakstan is daarop gemik om die verhouding tussen die twee lande te versterk deur nuwe energieprojekte te loods en nuwe kernkragstasies te beplan.
As voormalige Sowjetstate het baie lande in Sentraal-Asië (’n streek met tien lande – Afghanistan, Azerbeidjan, Armenië, Iran, Kazakstan, Kirgisië, Tadjikistan, Turkye, Turkmenistan en Oezbekistan, soos deur die Joshua-projek gedefinieer) nie uitgebreide toegang tot of deurdringing t.o.v. die evangelie ervaar nie. Volgens statistiek wat deur die Joshua-projek gepubliseer is, word 96% van die streek se bevolking van meer as 307 miljoen as “onbereik” deur die evangelie, beskou.
’n Kontak van INcontext in Sentraal-Asië het gedeel dat daar reeds baie geleenthede is om kerke in die streek te plant. Meer arbeiders is nodig om die miljoene “onbereiktes” in Sentraal-Asië te bereik, aangesien daar tans baie min getuienis van die evangelie is. Indien lande met groot Christelike bevolkings, insluitende dié in die Europese Unie en die Verenigde State, of diegene met ’n groeiende sendingmag, soos China, handel kan dryf en groter samewerking met lande in Sentraal-Asië kan bewerkstellig, kan dit daartoe bydra dat die miljoene “onbereikte” mense in die streek blootstelling aan Christus kry.
Talle Sentraal-Asiese lande is oorheersend Moslem-nasies, hoewel nominale Moslems algemeen voorkom. Daar word aanvaar dat talle mense wat Jesus Christus tydens Pinkster in 33 n.C. as hul Saligmaker op daardie dag aanvaar het, na die Ooste wat hedendaagse Sentraal-Asiese nasies insluit, teruggereis het.
Daar was besoekers uit Asië, Arabië en Mesopotamië, bekend as die Parthiërs, Mede en Elamiete. Hierdie nasies het dus ’n historiese Christelike teenwoordigheid. Ná die verspreiding van die Christendom het die opgang van Islam uiteindelik daartoe gelei dat die Christelike teenwoordigheid in die streek feitlik uitgeroei is. Moderne wette in verskeie van hierdie lande het die deel van die evangelie tot misdaad verklaar, of het dit uiters moeilik vir godsdienstige instansies gemaak om by die regering te registreer, wat sodoende hul vermoë om die evangelie te versprei, belemmer het.
Die meeste Christene wat in Sentraal-Asië oor is, behoort aan die Russiese Ortodokse Kerk. Ons kontak in die streek het gedeel dat mense se opvatting m.b.t. Christenskap gevorm word deur wat hulle van die Russiese Ortodokse godsdiens weet, sowel as wat mense in Hollywood sien – wat met amoraliteit geassosieer word. Daar is dus ’n behoefte om Sentraal-Asiërs te wys wat dit beteken om ’n getroue volgeling van Christus te wees. ’n Baie nuttige hulpmiddel om plaaslike inwoners te ontmoet wat meer van Jesus wil weet, is sosiale media, aangesien internettoegang baie bekostigbaar is. Dit bly ’n uitdaging om akkurate inligting oor hoe om Jesus te volg, te verskaf, aangesien baie Christelike webwerwe gereeld geblokkeer word, en die internet gebruik word om propaganda te versprei. Ondanks hierdie uitdagings, word netwerkwebwerwe gebruik om mense met mekaar te verbind om geleenthede te skep waar die evangelie in persoon gedeel kan word.
Ons kontak het ook genoem dat ’n bykomende uitdagende dimensie wat voorkom, is om verhoudings te bou in ’n kultuur van wantroue wat voortspruit uit ’n lang geskiedenis van spioenasie onder gemeenskappe. Selfs jou bure kon op jou spioeneer. Dus, hoewel Sentraal-Asiërs gasvry kan wees, neem dit tyd om vertroue op te bou.
Boonop bring die besluit om Jesus te volg “skande” oor jou familie in Sentraal-Asië se oorheersende eer-en-skande-kultuur. Dit het soms tot gevolg dat eremoorde en ander vorme van familie- en samelewingsvervolging geregverdig word. Nie net kan jou werk in gedrang wees nie, maar ook dié van jou gesin, wat klaarblyklik misluk het om ’n “goeie lid van die samelewing” te produseer. As gevolg van hierdie en ander redes is baie gelowiges geïsoleer en is daar ’n gebrek aan dissipelskap en gemeenskap. Die wêreldwye Kerk moenie van hulle vergeet nie en vir hulle intree terwyl hulle moeilike omstandighede die hoof moet bied – dat hulle sal volhard en in staat sal wees om die onderrig en ondersteuning te ontvang wat hulle nodig het.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat nuwe geopolitiese verhoudings die nasies van Sentraal-Asië sal versterk en dat die mense in die streek die bronne wat benodig word, sal verkry
- dat nuwe geleenthede vir die verspreiding van die evangelie sal ontstaan en die klein Christelike bevolkings in elke individuele nasie in Sentraal-Asië versterk sal word, en
- vir meer arbeiders in die streek en vir goeie grond waarop die saad kan val, terwyl die Woord aan harte verkondig word, dat baie mense die gawe van verlossing sal aanvaar.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/11/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.