Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vanoggend sewe rekenaars aan Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsprojek, Ons Plek, oorhandig.
Hierdie skenking is ʼn begin om aan 230 leerders by Ons Plek-naskoolsentrums toegang te gee tot hoëkwaliteit Afrikaanse onderrig deur middel van Die Wolkskool se duisende kort videolesse, assesserings, werkboeke en werkkaarte. Met die rekenaars sal leerders boonop die Internet kan gebruik en kan hulle voordeel trek uit die vele ander opvoedkundige hulpbronne wat daar beskikbaar is.
Die skenking is ʼn belangrike bydrae tot die voortgesette sukses van Ons Plek as ʼn opvoedkundige gemeenskapsprojek, wat kinders van alle agtergronde in Afrikaanse kultuurgemeenskappe dien.
Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, het die skenking verwelkom.
“Hierdie inisiatief is weer eens ‘n bewys dat verskillende instellings in die Solidariteit Beweging, elk met hulle unieke sterkpunte, saamspan om daadwerklik ‘n verskil in gemeenskappe te maak. Een van Ons Plek se hoogtepunte is die SOS se Wolkskool waarop ons naskoolleerlinge kon registreer en hul prestasie merkbaar kon verbeter,” sê Oosthuizen.
“Die uitdaging was egter dat daar nie genoeg rekenaars vir al ons 229 leerlinge by die ses Helpende Hand se Ons Plekke beskikbaar was nie. Ons is opreg dankbaar oor die rekenaars wat vandag aan ons geskenk is om hierdie leemte te vul. Vir ons kinders is dit lewensveranderend, skep dit hoop en maak dit leer makliker.”
Volgens Oosthuizen is ontwikkeling, opleiding en opvoeding vir Helpende Hand noodsaaklik om oor die langtermyn voorspoed in gemeenskappe te verseker.
“Met die nodige wegspring as baba binne ʼn veilige omgewing, die ontwikkeling as kleuter binne ʼn uitkomsgebaseerde program en ondersteuning op skoolvlak, word elkeen se potensiaal volgens sy vermoë ontwikkel en ʼn deur word oopgemaak na verdere kwalifikasies, wat lei tot ʼn eerbare werk en ʼn nodige bydrae tot elkeen in sy eie gemeenskap,” sê sy.
Enige skenkings van toerusting (bv. ou rekenaars/skootrekenaars in werkende toestand) kan aan die SOS gemaak word om sodoende hierdie projek en ander verder te ondersteun.
Stuur gerus ʼn e-pos aan sarina@skole.co.za.
- Ons Plek is ʼn opvoedkundige projek en voldoen aan spesifieke regulasies. Die klem val op Afrikaanse- en gehalte onderrig en versorging van kinders vanuit alle ekonomiese agtergronde ten einde hom/haar in staat te stel om hul maksimum potensiaal te bereik. Hierdie onderrig sluit in die dienste van ʼn kleuterskool en naskool-diens binne ʼn veilige omgewing. Ons Plek is ʼn gemeenskapsprojek waar gemeenskapslede bydra tot die volhoubaarheid van hierdie diens en voorspoed vir elke kind kan help verseker.
Fotobyskrif: Valentyn van der Merwe, SOS se hoof van innovasie, en Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, by die oorhandiging van die skootrekenaars.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/03/2023
Foto verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








