Geskryf deur Dr. Michael Jarvis
Artikel verskyn in die Mei maand van JUIG! Tydskrif

In Junie 2021 het die Amerikaanse Pentagon ’n verslag vrygestel oor voorheen geklassifiseerde waarnemings en video’s deur vegvlieëniers van vreemede vlieënde voorwerpe (VVV’s). Die verslag verwys na hierdie waarnemings as ongeïdentifiseerde lugverskynsels. Ten minste 140 waarnemings toon dat hierdie verskynsels werklik is, maar steeds onverklaarbaar bly. Die voorwerpe beweeg baie vinniger as enige vliegtuig, verander onmiddellik van rigting, kan doodstil hang, roteer, skielik verdwyn en weer verskyn. In Februarie vanjaar, weens die “groot belangstelling wat getoon is”, het die Withuis ingestem om relevante dokumente oor VVV’s en buiteaardse lewe vry te stel. Ons verwag dat hierdie bevindings in die komende maande bekend gemaak sal word, wat beslis gesprekke in die Christelike wêreld sal aanwakker.


Wat as hierdie verskynsels van ’n ander wêreld af kom?
Ek skryf nie hierdie artikel om jou te probeer oortuig dat ons deur “ruimteskepe” uit die heelal besoek word nie. My doel is eerder om te ondersoek hoe ek en jy sou reageer as dit wel waar sou wees. Sal dit ons geloof in God of die Bybel skud? Al noem die Bybel nie spesifiek buiteaardse lewe nie, beskryf dit wel baie bonatuurlike verskynsels en gee dit vir ons wysheid om in ons lewens toe te pas.

Glo Christene in buiteaardse wesens?
Sou God “wesens” in “ruimteskepe” gebruik om sy plan vir die mensdom en die wêreld uit te voer? Ons vind beslis in die Bybel bewyse van bonatuurlike wesens soos engele. Alles wat bestaan is deur God geskep. Die apostel Johannes skryf: “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie” (Joh 1:3). In Kolossense 1:16 lees ons: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.” Ons noem dinge rondom ons “natuurlik” as ons dit kan sien, aanraak en deur wetenskap verstaan. Dinge wat ons nie verstaan nie, noem ons “bonatuurlik” – maar vir die Skepper is alles natuurlik.

God is die Skepper van alles
As daar wel bonatuurlike wesens is wat hierdie aarde besoek in “voertuie” wat op misterieuse maniere optree, is hulle ook deel van God se skepping. Hy het selfs satan geskep. Die Bybel beskryf verskeie kere hoe engele verskyn het. Hulle het dikwels soos mense gelyk, maar kon skielik verskyn en weer verdwyn – soos Jesus ná sy opstanding.

Voorbeelde uit die Bybel
Die Bybel beskryf minstens twee voorbeelde van besoeke deur misterieuse “voertuie”. Een word deur die profeet Esegiël beskryf. In hierdie geval het die “voertuig” ’n figuur bevat “soos saffier met die vorm van ’n troon, en daarop was ’n gestalte met die voorkoms van ’n mens, hoog daarbo. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ’n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ’n helder glans rondom. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ‘n wolk na die reën. Dit was soos die magtige verskyning van die Here” (Eseg 1:26-28).
Dit was duidelik God wat met Esegiël gepraat het deur iemand wat soos ’n mens gelyk het en met Goddelike gesag gepraat het: “‘Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.’ Terwyl Hy met my praat, kom die Gees in my en laat my regop staan. Ek het die stem met my hoor praat. Hy het vir my gesê: ‘Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe …’”

Kyk na Esegiël se beskrywing
Esegiël het God hoor praat vanuit ’n “bonatuurlike voertuig”. Hy gee ’n gedetailleerde beskrywing van hierdie “voertuig” in hoofstuk een. Hierdie merkwaardige ontmoeting is deur Esegiël beskryf, maar hy het gesukkel om woorde te vind vir wat hy gesien het. Die “voertuig” het uit bewegende dele bestaan wat lewendig gelyk het en het ook iemand bevat wat in stralende lig gehul was en gepraat het asof Hy God is. Wanneer ons hierdie beskrywing lees, herinner dit ons aan die apostel Johannes se visioene van die opgewekte Jesus Christus wat in die hemel troon.

Ek glo dat een rede waarom hierdie gebeurtenis in die Bybel opgeneem is, is om ons voor te berei vir die tye waarin ons leef, waar moderne wetenskaplike tegnologie, soos vegvliegtuie, vreemde en onbekende voorwerpe waarneem. As hierdie VVV’s of ander onbekende verskynsels mettertyd in meer besonderhede verklaar word, moet ons vraag wees: Kom hulle van God of van satan af?

Wat sê die Bybel oor die strydwaens van God?
Ons het twee gebeure wat die “strydwaens van God”
beskryf, naamlik:

  1. Elia wat na die hemel opgeneem word
  2. Elisa in die stad Dotan

Daar is ook ander Skrifgedeeltes wat na die strydwaens van God verwys, byvoorbeeld Jesaja 66:15.

Die strydwa van God neem Elia hemel toe
Ons lees: “Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: ‘Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?’ Elisa het geantwoord: ‘Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!’ Toe sê Elia: ‘Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.’ Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters” (2 Kon 2:9-12).
Dit was die begin van Elisa se merkwaardige lewe, vol wonderwerke – hy was by byna dubbel soveel wonderwerke betrokke as Elia.

Elisa in Dotan
Ons lees weer van vurige strydwaens toe Elisa en sy dienaar in die stad Dotan deur ’n vyandige leër omsingel was. Sy dienaar was bang en Elisa het gebid: “‘Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.’ Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur” (2 Kon 6:17).

God is nie beperk nie
Op ander plekke in die Bybel het God direk met mense gepraat sonder enige sigbare “voertuig”. Dit is duidelik dat God Homself op verskillende maniere openbaar. Hy het aan Moses verskyn in die brandende bos (Eks 3:1-6) en op die Sinai-berg waar niemand sy aangesig kon sien en bly lewe nie (Eks 33:20). Tog het God ook na die tent van samekoms gekom en met Moses gepraat. Ons lees: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend” (Eks 33:11).

Abraham se ontmoeting met God
Daarteenoor lees ons van Abraham se ontmoeting met God. Hy is deur drie “persone” besoek wat soos mense gelyk het, maar Abraham het besef hulle is anders. Hy het saam met hulle geëet en met een van hulle gepraat asof hy met God self praat, en gepleit dat Sodom nie vernietig moet word as daar regverdiges in die stad is nie. Die ander twee het toe na Sodom gegaan om Lot uit die stad te gaan haal. Dit is duidelik dat die een God was en die ander twee engele (Gen 18).

Teenstand teen God se plan
Ons moet ook onthou dat die Bybel praat van werklikhede wat teen God se planne vir die mensdom werk. Satan en die gevalle engele is een voorbeeld. Paulus skryf: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.”

Uit gedeeltes soos hierdie word ons gewaarsku dat daar “onsigbare magte” aan die werk is. Met ander woorde, selfs al sou VVV-waarnemings wesens behels, kan ons nie aanvaar dat dit deel van God se werk is nie. Dit kan misleidende invloede wees – moontlik voorberei deur bose magte om die komende antichris te help om mense te mislei. Jesus het gesê: “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei” (Matt 24:23-25).

Geestelike magte van boosheid
Paulus waarsku dat daar, voordat Jesus met mag en heerlikheid terugkeer, ’n “mens van wettel-oosheid” sal wees. Ons lees: “Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk … en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig. Deur die werking van die satan sal die verskyning van die wettelose gepaardgaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders” (2 Tess 2:7-10).
Ons moet dus die moontlikheid in gedagte hou dat hierdie VVV’s nie aan God se kant is in hierdie geestelike stryd nie. Paulus skryf ook: “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug” (Ef 6:10-12).

Sal my geloof in God wankel as dit bewys word dat VVV’s besoekers uit die heelal is?
Ek vertrou dat jou geloof en myne nie geskud sal word deur enige toekomstige openbaring wat wys dat ons wêreld deur “ruimtewesens” of “ruimteskepe” besoek is nie. Ek glo die sleutel om ons geloof in die God van die Bybel te behou, is om sy werklikheid persoonlik in ons lewens te ervaar. Ek is al vir baie jare op ’n reis, wat begin het met vrae uit my kinderdae wat versterk is deur my universiteitsopleiding in die wetenskap.

My begeerte om God op persoonlike maniere te ontdek, het gelei tot ’n reeks ervarings wat my oortuig het van sy werklikheid. Nou, ná baie jare waarin ek God se werklikheid in my persoonlike lewe ervaar het, kan ek dinge soos VVV’s in die oë kyk sonder om my geloof in die God van die Skepping prys te gee. My mees verstommende ontdekking is dat hierdie wonderlike Skepper werklik begeer om ’n persoonlike verhouding met ons te ontwikkel – geleidelik, met ons wat maar stof en sterflik is!
Ek het oortuig geraak van die waarheid van hierdie Skrif: “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb 11:6).

’n Wetenskaplike op soek na antwoorde
God het my ’n passie gegee om sy werklikheid te ontdek en om antwoorde te vind op vrae wat wetenskaplike ontdekkings met my Christelike geloof versoen. Dit is my ervaring dat hierdie “ernstige soeke” na waarheid en werklikheid op baie opwindende maniere beantwoord is en dat dit vir my ’n onwankelbare geloof gegee het in die God van die Bybel en in sy vermoë om die hele menslike geskiedenis te lei na sy finale oorwinning oor satan en sy bose planne en misleidings.
Wat ook al nog oor VVV’s of onverklaarbare verskynsels geopenbaar mag word, Christene hoef nie in vrees te leef nie. Ons vertroue lê nie daarin dat ons elke antwoord het nie, maar daarin dat ons die God ken wat oor die hele skepping regeer. Niks wat aan die lig mag kom, sal God ooit van sy troon verwyder of sy planne in gevaar stel nie. Ons roeping is om in Christus gewortel te bly, gegrond in sy Woord en met vertroue te leef in die wete dat die Here van hemel en aarde volkome in beheer is.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 14/05/2026
Hoofbeeld: Beeld slegs vir illustratiewe doeleindes.
Kunswerk aangepas vanaf oorspronklike artikel gepubliseer in JUIG! Tydskrif

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here