Geskryf deur: Mark Hitchcock
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Kunsmatige intelligensie (KI), China se invloed op globale gebeure, groot verwikkelinge in Israel en nog vele ander gebeure is besig om die wêreld in 2024 te vorm. Ek wil graag ’n kort oorsig gee van ses “megatendense” vir die komende jaar wat belangrike profetiese betekenis het.

1 Kunsmatige intelligensie
Die eerste profetiese megatendens wat ek waarneem, is KI wat werklik die afgelope jaar die toneel op ’n dramatiese manier betree het. Dit gaan voort om in 2024 eksponensieel toe te neem. Alles wat deur KI ingelei word, sal instrumente in die hand van die Antichris wees. Dit is duidelik dat hy hierdie soort tegnologie in sy oorheersing van die wêreld sal ontgin; daarom is dit belangrik om op hoogte te bly van die ontwikkeling van KI.

2 China se invloed op globale gebeure
Ek glo dat China die leier van die konings van die Ooste sal wees (Op 16) wat deel van die slag van Armageddon gaan uitmaak. Die land praat oor die “hereniging” van China, wat beteken dat dit Taiwan sal inneem om weer deel van die kommunistiese regime te wees. Talle mense glo dat China Amerika se swakheid aanvoel en voor die volgende verkiesing die geleentheid sal aangryp om Taiwan aan te val.

3 Digitale geldeenhede
Nog ’n profetiese megatendens is digitale geldeenhede, wat die weg baan vir die eenwêreldekonomie van die Antichris.

4 Narratiewe rakende klimaatsverandering
Klimaatsverandering word grootliks oordryf om groter beheer oor mense se lewens uit te oefen. Klimaatsverandering word voortdurend voorgehou as ’n “eksistensiële krisis” vir die wêreld – dit is doodeenvoudig nie waar nie. Ek het onlangs die boek, False Alarm, oor klimaatsverandering gelees. Die skrywer sê dat die mens met sy aktiwiteite wel bydra tot klimaatsverandering en die koolstofdioksiedinhoud, maar sê dit is grootliks oordrewe. Wat ons weer eens hier sien, is dat die skep van ’n krisis daartoe lei dat mense inskiklik raak en hulle beheer oorgee. Dit is wat die klimaatsverandering-agenda behels en dit baan die weg vir die globale beheer wat die Antichris sal uitoefen.

5 Rusland
Rusland het gekies om hom in hierdie Israel-Gasa-oorlog by die Palestyne te skaar. Gevolglik is Rusland se verhouding met Israel feitlik op ’n totale laagtepunt – die laagste punt sedert die val van die Sowjetunie. ’n Onlangse artikel het dit die “einde van ’n vriendskap” genoem. Hierdie verwikkeling dui op die toekomstige oorlog wat in Esegiël 38-39 beskryf word.

6 Israel en die Midde-Ooste
Die belangrikste en gewigtigste megatendens is Israel en die Midde-Ooste. Dit is die gevaarlig wat flikker. Die Israel-Gasa-oorlog is al honderde dae aan die gang en onlangse gebeure kan daartoe lei dat hierdie plofbare konflik in ’n meer omvattende stryd ontaard. Israel se missie om Hamas uit te wis, is besig om vrese aan te blaas dat hierdie oorlog kan uitbrei. Israel het onlangs een van die topleiers van Hamas, volgens talle mense glo die tweede in bevel, in ’n sluipmoord gedood. Saleh al-Arouri is in Beiroet, Libanon, vermoor en was ’n kernrolspeler in betrekkinge tussen Hamas, Iran en Hezbollah. Natuurlik is dit deur Hezbollah, Iran, Libanon en ander gekritiseer, maar Israel het hom voorgeneem om die leiers van Hamas te neutraliseer – ’n mooi woord vir sluipmoord – deur hulle op te spoor waar hulle ook al is, selfs nadat die oorlog verby is. Die meeste van hulle bevind hulle in Libanon, Katar en Turkye. Israel voer ook sluipmoorde op leiers van Iran uit. Intussen het Turkye 33 mense gearresteer wat vermoedelik Mossad-agente is en glo dat ’n Israelse spioennetwerk oopgekrap is. Die land het dit duidelik gemaak dat indien Israel enige Hamas-leiers op Turkse grondgebied aanval, daar ernstige gevolge sal wees. Turkye het ook sy steun aan Gasa verskerp.

Die vonk wat die lont aan die brand steek
Iran is uiteraard ’n veteraanvyand van Israel, maar ons kan nou ook sien hoe Rusland en Turkye se verhouding met Israel versleg. Dit is die drie sleutelspelers in die Esegiël 38-inval. Al drie hierdie verhoudings met Israel het ’n allemintige laagtepunt bereik. Hierdie wêrelddeel beleef deesdae voortdurende kleiner taktiese aanvalle wat toenemend olie op die vuur gooi. In die agtergrond woed die Israel-Gasa-oorlog wat geen tekens van ’n afname toon nie. Tel daarby wat in die Rooi See gebeur met die Houthi-rebelle van Jemen wat op Amerikaanse oorlogskepe skiet en Iranse oorlogskepe wat die Rooi See binnevaar. Al hierdie gebeure, of ’n kombinasie daarvan, kan maklik die vonk wees wat die buskruit aan die brand steek om hierdie Midde-Oosterse kruitvat op te blaas – dit kan so maklik die oorlog van Esegiël 38 voorafgaan.

“Amen! Kom, Here Jesus!”

“Ons is bevoorreg om op die kruin van golwe van profesie te staan, om in ’n tyd te lewe wat nader aan die wederkoms van Jesus Christus is as enige vorige geslag in die wêreld se geskiedenis. Ons voel aan hoe naby sy wederkoms is; ons sien die tekens van die tye; ons weet die wêreld is besig om ’n hoogtepunt van ’n ongeëwenaarde krisis te bereik.” – Dr. David Jeremiah

MARK HITCHCOCK – skrywer en hoogleraar by Dallas Teologiese Seminarium. Hierdie artikel is deur Harbingers Daily gepubliseer en is met toestemming herdruk. Besoek harbingersdaily.com

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 08/03/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here