Artikelbron: vision.org.au
’n Paartjie met die langste huwelik in die Amerikaanse deelstaat Arkansas het baie eenvoudige raad vir ’n suksesvolle huwelik – Soek die Here se aangesig en bid.
Cleovis en Arwilda Whiteside, wat al 84 jaar getroud is, gee God openlik krediet vir hul langdurige huwelik.
Arwilda was 9 en Cleovis 13 toe hulle ontmoet het. Hulle is binne vyf jaar getroud. Cleovis Whiteside is nou 102 en sy vrou Arwilda is 98. Tydens die viering van hul huweliksherdenking het hulle hul ervaring en wysheid gedeel: “Bid en weet hoe om op jou knieë te gaan, maak seker jy het ’n Bybel, want daardie Bybel sal jou deur allerhande storms lei,” het Arwilda aan USA Today gesê.
Die egpaar is nou van alle inwoners in die staat Arkansas die langste getroude en is daarom deur die Arkansas Family Council, ’n stigting wat gesinsbelange bevorder, vereer.
Charisse Dean, wat by die organisasie betrokke is, sien die ouerpaar as ’n uitstekende voorbeeld. “Kinders wat in ’n gesonde, stabiele twee-ouer-huishouding grootword, doen soveel beter in die lewe. Getroude paartjies vaar finansieel beter, hulle is gesonder, hulle leef langer en is geestelik gesonder. Ons glo dit is belangrik om gesinswaardes uit te lig en die belangrikheid daarvan vir die samelewing te beklemtoon.”
Volgens Arwilda het God hulle bymekaar gebring “om mekaar lief te hê.” Sy is baie beskeie oor die mylpaal wat hulle saam bereik het. “Ons kan skaars glo dat dit met ons gebeur het, want ons het onsself as die minste gesien. Maar God het gesê: ‘Nee, julle bring eer aan my Naam deur mekaar lief te hê.’
Die egpaar het 12 kinders en het oor die jare ook plek gemaak vir pleegkinders wat ‘n gesin nodig gehad het. Hulle word dus as “pilare binne die gemeenskap” gesien. Volgens Arwilda is dit te danke aan haar man se vriendelikheid. “Hy is altyd bereid om mense te help.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/10/2023
Foto: Arkansas Family Council
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.