Geskryf deur: Lynette Leibach | Geopende Deure
Artikelbron: www.opendoors.org.za

Net soos ons binnekort na die stembus gaan, gaan ons familie in Indië ook binnekort stem. En hulle verkiesingsuitslag is deurslaggewend vir die Kerk daar.

Ajay* is een van ons vennote. Sy getuienis wys hoe vervolging in Indië oor generasies strek. Maar ook hoe God die Kerk in Indië toerus met besonderse geloof!

Ajay het grootgeword met ʼn duidelike prentjie van wat vervolging is…
Sy broer was die eerste een in hul Hindoe-gesin wat Jesus begin volg het. Toe sy pa, ’n Hindoe-priester, sy seun se nuwe geloof ontdek, het hy hom meedoënloos vervolg. Uiteindelik is Ajay se broer uit hul huis gedwing. Op pad uit het sy broer belangrike afskeidswoorde vir sy pa gesê: “Jesus is steeds lief vir pa.”

Die woorde het Ajay se pa se hart deurboor en oor die volgende paar jaar is sy hart verander. Die hele gesin het Jesus as hulle Verlosser aangeneem.

Prys die Here! Stories soos hierdie spoor my aan om voort te gaan met my werk en aan te hou bid.

Kyk hier vir gebedspunte vir Indië>>
Maar nou was die vervolging teen Ajay se hele gesin. Hulle is voortdurend onderdruk en uiteindelik uit hul dorpie verjaag.

Hulle het hul in ’n nabygeleë dorp gevestig en hier het hulle ’n kerk begin. Maar die gesin kon nie die vervolging afskud nie… Hul nuwe dorpie is in Indië se Manipoer-staat. En in Mei 2023 het Ajay gesien hoe gewelddadig vervolging kan wees toe Hindoe-ekstremiste hul dorpie aangeval het.

Ekstremistiese groepe het hul huis en die huise van ander Christene aangeval. Ajay onthou hoe hulle geskree het vir die Christene om uit te kom. “Die ekstremiste het kerkgeboue gevandaliseer en die glasvensters en die deure gebreek,” onthou Ajay. “Nadat hulle die kerk aan die brand gesteek het, het hulle huise begin aanval, bakstene en klippe gegooi en die deure met byle stukkend gekap. Al die voertuie wat aan Christen-gesinne behoort, is aan die brand gesteek.”


Duisende Christene is aangeval en moes vlug. Sommige pastore was gedwing om ’n ooreenkoms te onderteken wat verklaar dat hulle na hul vorige geloof sou terugkeer en nie hul kerke sou herbou nie. As hulle weier, is hulle met verskriklike gevolge gedreig.

Jy het saam met hulle in gebed en ondersteuning gestaan. Dit het beteken dat hulp onmiddellik beskikbaar was.

Al het hy sy eie gesin gehad om voor te sorg, het Ajay ’n bykomende verantwoordelikheid vir die pastore en ander gelowiges gevoel. Die hulp wat Ajay en sy gesin ontvang het, het hom gehelp om sy werk met Geopende Deure voort te sit, vervolgingsgereedheid-opleiding aan te bied en praktiese hulp aan ander vervolgde gelowiges te verskaf.

Tydens die geweld het Ajay aan sy geloof vasgeklou: “Matteus 5:10-11 inspireer my: ‘Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.’”
En sy besonderse geloof inspireer my.

Gereelde geweld in Manipoer-staat duur voort. Ajay woon steeds in dieselfde area. Hy gaan voort met die bediening en help pastore met hul bedienings. Hy is daartoe verbind om gelowiges te help om sout en lig te wees, ongeag die situasie.

“God beskerm ons,” sê hy. “Hierdie mense kan ons geboue vernietig, maar hulle kan nooit God se mense vernietig nie.”

Wanneer mense in Indië Christus vind, sal vervolging sekerlik volg. Jou ondersteuning beteken dat hulle ondersteun word, nooit alleen is nie en versterk word om staande te bly.
Dankie vir jou ondersteuning en gebede vir ons vervolgde familie. Dít is wat ons die volgende paar weke voor bid en ondersteun! Klik hier om te sien hoe jy kan bid en ondersteun>>

Saam kan ons die besonderse geloof van ons familie in Indië, soos Ajay aanvuur.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 18/04/2024
Foto verskaf: Geopende Deure

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here