Geskryf deur: Philip de Jager Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

“Koop die tyd uit…” is wyse raad in Efesiërs 5:16 en Kolossense 4:5. Dit is in die lig hiervan dat ons oor ’n “oorbruggingsjaar” (gap-jaar) gesels. Vir sommiges is dit ’n wegbreek van roetine – selfs van reëls – om iewers (soms in die buiteland) asem te gaan skep. Vir baie van die Gen Z, Zoomers of iGen is dit ’n geleentheid om noodsaaklike oriëntasie rakende ’n sinvolle lewe te verkry en begin dit die avontuur van ’n doelgerigte lewe. Is dit nie wat ouers vir hulle kinders as volwassenes begeer nie? ’n Betekenisvolle en doelgerigte lewe tot eer van God.

Gen Z is waardevol
Jongmense beleef enorme druk omdat van hulle verwag word om groot besluite te neem oor hulle toekoms en wat hulle ná graad 12 gaan doen. Maar hoe dikwels word hulle die kans gegun om uitdrukking te gee aan hulle onsekerhede oor hulself, hul drome of ideale of om antwoorde te vind oor hoe om ’n doelgerigte lewe te leef en vir hulle Christelike waardes standpunt in te neem in ’n progressiewe en vloeibare samelewing?

Ons kan nie navorsing ignoreer dat Gen Z ’n hoë premie op emosionele welstand plaas, ’n dringendheid beleef om aan hulle unieke self uitdrukking te gee en aan verdienstelike sake te verbind nie. Ons kan nie bekostig om Gen Z te verloor nie en durf nie die positiewe uitwerking onderskat wat hulle op ’n siek en seer samelewing kan hê ten opsigte van die Groot Opdrag nie (Matt 28:19).

Help Gen Z om hulle doel te vind
Daarom is Koinonia Discipleship Training Academy (KDTA) se diensjaar vir Christus ’n wonderlike geleentheid vir hulle om sinvolheid te ontdek, ontwikkel en ontplooi. In plaas om te frons oor Gen Z se oënskynlike onvermoë om aan die gang te kom; laat ons hulle die geleentheid bied om sinvolheid en doelgerigtheid te ontdek – terwyl hulle voluit en enduit vir Jesus leef. KDTA-diensjaar vir Christus staan in die gaping om Gen Z te ondersteun. Die program fokus op die volgende:

Dissipelskapsopleiding
• Wat dit behels om nou in die samelewing ’n Christen te wees (kontekstuele missiologie).
• Wat ons fundamentele Christelike geloofsoortuigings is (geloofsvorming).
• Emosionele gesondheid en leierskapsontwikkeling.
• Onvergeetlike avontuuruitstappies.

KDTA is dié plek vir Gen Z! Saam sal ons die generasie van lig en lewe tot eer van God wees (1 Pet 2:9).

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/09/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here