Geskryf deur: dr. Jurie Vermeulen  Artikelbron: febaradio.co.za 

FEBA Pakistan is toegewyd aan die verspreiding van die Goeie Nuus en die geestelike groei van hul
luisteraars. Hulle bedien al sedert 1974 die nasie van 240 miljoen mense, waarvan meeste Moslem
is. Met ’n groot verskeidenheid programme wat in verskillende tale uitgesaai word, het FEBA
Pakistan hul reikwydte uitgebrei met behulp van radio- en digitale platforms. Boonop het hulle die
innoverende Boekewa-projek, waarmee hulle mik om inspirerende boeke gratis te voorsien aan hul
luisteraarklubs en nuwe bekeerlinge oor die hele land.

Ondanks verskeie uitdagings het FEBA Pakistan – in samewerking met FEBA Suid-Afrika en FEBA UK –
35 programme in nege tale ontwikkel, wat nou deur kortgolfsenders uitgesaai word. Dié inisiatief
laat hulle toe om ’n diverse gehoor reg oor Pakistan te bereik.

In 2006 het FEBA Pakistan ’n merkwaardige tree vorentoe geneem deur FM-uitsendings in vier groot
stede, oor twee provinsies, te begin. Die uitbreiding het FEBA Pakistan in staat gestel om meer by
plaaslike gemeenskappe betrokke te raak en hul verkwikkende boodskappe deur ’n meer
toeganklike platform te deel.

Vandag sit FEBA Pakistan hul missie voort deur FM-uitsendings, vier dae ’n week, via vier sekulêre
stasies in die noordelike en suidelike provinsies. Elke stasie stel twee ure per dag beskikbaar vir FEBA
Pakistan se programme, wat optel na agt ure van inhoud wat die lewens van talle luisteraars raak.
Die uitsendings is hoofsaaklik in Urdu, Pakistan se amptelike taal, en word ook regstreeks gestroom
op die internet in al vier provinsies.

In 2020 het FEBA Pakistan ’n gebou aangeskaf in die digbevolkte Punjab-streek, wat sowat tien
miljoen inwoners het. As gevolg van die mag wat digitale media in die moderne wêreld uitoefen, het
die organisasie in ’n nuwe studio vir video- en digitale produksie belê. Die fasiliteit dien ’n dubbele
doel: daar word nuwe uitsaaiers opgelei en jongmense word in mediawerk bemagtig, terwyl die
boodskap van hoop en geloof gelewer word. Die studio kan egter eers ten volle benut word sodra
hulle die nodige toerusting kry, waarvoor hulle nog sowat $25 000 benodig.

FEBA Pakistan verstaan ook hoe belangrik digitale platforms in vandag se wêreld. Die span gebruik
verskeie kanale, soos Facebook, ’n selfoontoepassing, en WhatsApp om na hul gehoor uit te reik vir
’n indrukwekkende ses en ’n half uur elke dag. Hierdie strategiese benadering verseker dat die Goeie
Nuus geografiese grense oorkom en aanklank vind by mense wat geestelike leiding soek.

Die Boekewa-projek
Een van FEBA Pakistan se inisiatiewe wat uitstaan, is die Boekewa-projek wat in 2019 geloods is. Vir
hierdie projek word ’n vervoerwa gelaai met honderde inspirerende en geloofopbouende boeke wat
gratis uitgedeel word aan luisteraarklubs en nuwe bekeerlinge reg oor die land. FEBA Pakistan beoog
om persoonlike groei, dieper begrip, en samesyn onder hul luisteraars te kweek deur hierdie
waardevolle hulpbronne te voorsien.

Die Kweek van Geestelike Groei
FEBA Pakistan doen meer as radio-uitsendings en lektuurverspreiding; hulle bied ook gereelde
seminare aan oor Bybelstudieboeke om mense wat in Christenskap belang stel meer te leer oor die
geloof en om nuwe gelowiges te help op hul geestelike reis. FEBA Pakistan het ook al
Bybelstudieboeke saamgestel, insluitend ’n dieper ontleding van Openbaring wat geskryf is deur ’n
gesiene Bybelkundige in Pakistan. Dié bronne dien as waardevolle hulpmiddels vir diegene wat ’n
dieper begrip van die Skrif soek.

Ondersteuning deur FEBA Suid-Afrika
FEBA Pakistan se impakvolle werk, insluitend die Boekewa-projek, word deurgaans ondersteun deur
FEBA Suid-Afrika. Ruim skenkings het bygedra tot die druk en uitgee van elke boek teen ’n kosprys
van sowat $10. Die samewerking tussen die twee takke beklemtoon die wêreldwye poging om hoop
en geloof te bring aan mense in nood.

“Hierdie boeke het my lewe verander en ek verstaan die Woord nou beter.” – ’n FEBA Pakistanluisteraar.
FEBA Pakistan, met sy ryk geskiedenis en verskeidenheid programme, benut voorwaar die mag van
uitsaaiwerk en letterkunde met groot sukses.

Indien jy hierdie inisiatief wil ondersteun, volg gerus die skakel: febaradio.co.za/donate/

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 23/05/2023
Foto: febaradio.co.za

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here