Deur: FEBA Radio Suid-Afrika
Artikelbron: febaradio.co.za

Ek wil julle uit die diepte van my hart bedank vir die radio wat julle aan my gegee het. Ek is baie dankbaar dat ek nou elke dag na God se woord kan luister.” – Thien – Viëtnam

In April 1951 is die eerste vergadering tussen FEBA en die Evangeliese Kerk van Viëtnam gehou en die onderwerp onder bespreking was die byvoeging van ʼn Viëtnamese uitsending skedule tot FEBA se bestaande program. ʼn Jaar later is die eerste Viëtnamese radioprogram vanaf Manila uitgesaai as “Vien Dong Radio”, met boodskappe wat in Viëtnamees opgeneem is. In 1966 het die eerste Viëtnamese persoon by die FEBA-personeel in Manila aangesluit, gevolg deur nog drie in 1969. Teen 1974 het daar ʼn span voltydse personeel en vrywilligers in Viëtnam gewerk.

Ontruim
Toe Noord-Viëtnam egter die Suide oorneem, is die Viëtnamese personeel ontruim en Amerika toe verplaas. In 1975 het FEBA VSA in La Mirada ʼn FEBC Viëtnamese Departement gestig, en sedertdien word daar ononderbroke na Viëtnam toe uitgesaai. Vanaf 2008 tot op hede word Christelike programme in beide Viëtnam en ander lande vervaardig vir die mense in Viëtnam.

Viëtnamese programme wat honderd persent evangelisties van aard is, word meestal in La Mirada (VSA) vervaardig en dan ʼn uur en ʼn half lank per dag deur kortgolfuitsendings vanuit Manila uitgesaai.

Slim planne om vervolging te vermy
As gevolg van die swaar Christen-vervolging uit die Noorde van die land, is luistertoestelle met geheuekaarte of IUMT (Internet Uitsendings via Mobiele Toestelle) noodsaaklik om die Goeie Nuus van Christus aan te hou versprei. Die Viëtnamese span het ook SD-kaarte vir selfone ontwikkel wat geprogrammeer is met sowat 120 uur se Christelike boodskappe.

Getuienisse van God se goedheid
Ondanks die vervolging wat Viëtnamese Christene ervaar, ontvang FEBA jaarliks steeds duisende getuienisse van God se goedheid teenoor Sy mense, en hoe die uitsendings hulle elke dag seën.

Hier is slegs ʼn paar van die getuienisse wat ons onlangs ontvang het: 

Hart-tot-Hart – Van Ateïs-kuberkraker tot Christen-uitsaaier
Mnr. N was ʼn jong Viëtnamese man in Ho Chi Minh-stad. Hy was ʼn bekwame kuberkraker en het rekenaarspeletjies ontwerp. Alhoewel sy gesin Boeddhisties was, het hy homself as ʼn ateïs beskou. ʼn Vriend gee eendag vir hom ʼn luistertoestel met ʼn oudio-Bybel op en die eerste ding wat mnr. N daarop hoor, is vir hom heeltemal nuut: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”

Vir die volgende twee jaar luister hy na FEBC se programme, op soek na die waarheid. Iemand gee vir hom ʼn Bybel en hy begin kerk bywoon saam met sy vriend, wat later daartoe lei dat hy bid om Christus te ontvang, ʼn daad wat sy lewe verander. “Ek was besig om in ʼn nuwe persoon te verander,” sê hy.

Met behulp van die luistertoestel getuig mnr. N teenoor sy ma, broers en susters, en goeie vriende oor dit wat hy gevind het, en hulle almal kom tot bekering.

Mnr. N was tot in daardie stadium ʼn suksesvolle programmeerder, maar hy wou sy vaardighede gebruik om Jesus met ander te deel. Uiteindelik het hy aangesluit by ons tegniese span in Viëtnam – teen baie laer vergoeding!

Mense wil weet hoekom, waarop hy antwoord: “Die werk hier het ewigheidswaarde.”

*Skuilnaam weens veiligheidsredes.

Van Dwelmverslaafde tot Kerkleier
Voordat ek God leer ken het, was ek iemand wat nie geweet het hoe om lief te hê nie,” deel mnr. Toue Tang. Hy was vir ses jaar lank verslaaf aan dwelms en alkohol, maar het dit volstrek ontken. “As enigiemand my probeer oortuig het ek is verslaaf, het ek so kwaad geword vir daardie persoon dat ek gevoel het ek wil hulle vermoor.”

Toe kry mnr. Toua Tang ʼn beroerte. “Ek kon my lyf nie roer nie. Ek het ʼn invalide geword. Ek kon niks doen nie en was meestal bewusteloos.”

Mnr. Toua Tang se familie het hom Laos en Viëtnam toe gebring. Hulle het etlike maande lank probeer om iemand te vind wat hom kon behandel. Hulle het al hul geld spandeer en selfs skuld gemaak, maar sy toestand het nie verbeter nie. Uiteindelik het hulle besluit om hom huis toe te neem.

Al my familielede het verskillende godsdienstige rituele en metodes probeer, sonder sukses. Ek het hoop opgegee en gewag om dood te gaan,” onthou mnr. Toua Tang. “In daardie tyd het ek na FEBC se radioprogram begin luister. Die aanbieder het gesê dat God sondaars en siekes kan help. Selfs verlamdes kon loop. Dit laat my toe besluit om in God te glo. Nadat ek Jesus as my Verlosser aanvaar het, het ek gebid en gevra dat Hy my genees. Ek het op ʼn wonderbaarlike manier begin versterk. Ek het selfs weer leer loop. En toe is ek volkome genees! Ek het gedink, ‘Sjoe! Hierdie is die ware God! Ek wil meer van Hom weet.’”

So het mnr. Toua Tang besluit om na FEBC in Chiang Mai toe te gaan vir Bybelopleiding.

Ek het geleer dat God die Skepper is, en Hy is liefde. God het my lewe verander. Nou dien ek God as ʼn pastoor in my dorpie se kerk, waar ek die gemeente lei en na hulle omsien.”

Om meer mense soos mnr. N en Mnr. Toua te help, kan jy ʼn skenking maak deur die skakel te volg: www.payfast.co.za/donate/go/febaradiosouthafrica

verbode-hoop-bereik-noord-korea

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 22/03/2023
Foto: verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here