Media Verklaring: Elizabeth Botha
Artikelbron: Verskaf deur Geopende Deure Afrika

Meer as 388 miljoen Christene regoor die wêreld staar nou hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof in die gesig (op met 8 miljoen sedert verlede jaar se syfer van 380 miljoen) – ʼn rekordgetal, wat een uit elke sewe Christene wêreldwyd (op vanaf een uit agt vyf jaar gelede), een uit elke vyf Christene in Afrika en twee uit elke vyf Christene in Asië verteenwoordig. ʼn Skokkende 13 Christene regoor die wêreld word elke dag weens hul geloof doodgemaak.

Dít is die ontstellende bevindings van Geopende Deure Internasionaal se 2026 Wêreldwaarnemingslys (WWL), wat op 14 Januarie 2026 bekendgestel is. Hierdie jaarlikse lys, wat nou in sy 33ste jaar is, bevat die top 50 lande wêreldwyd waar Christene die ergste vervolging en diskriminasie ervaar en skep bewustheid van die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag in die gesig staar. Lande word gelys volgens die erns van vervolging en diskriminasie wat Christene wat daar bly, moet verduur.

Die algehele tendens in hierdie wêreldwye opname wys dat die vervolging van Christene regoor die wêreld teen ʼn kommerwekkende tempo toegeneem het. In die WWL top 50 lande alleenlik ervaar 315 miljoen Christene baie hoë of uiterste vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof. Talle skokkende voorvalle van vervolging in Afrika en elders het die afgelope jaar die nuusopskrifte gehaal.

Sommige van die grootste bekommernisse op vanjaar se lys is die gewelddadige oplewing in vervolging in Sirië, die godsdienstig gemotiveerde moorde op Christene in Nigerië, die enorme skaal van vervolging regoor sub-Sahara Afrika, en die globale patroon van kerke wat deur monitering en streng regulasies ondergronds gedryf word.

Rommel by die Saint Elias-kerk in Dweilaa, Damaskus, ná ʼn aanval in Sirië.

Top 5 lande
Noord-Korea is vir die vierde agtereenvolgende jaar en vir die 24ste keer sedert die eerste WWL in 1993 weereens in die nommer een-posisie op die Wêreldwaarnemingslys. Dié land is al vir 29 van die afgelope 30 jaar een van die gevaarlikste plekke vir Christene om te bly, met Christene en hul gesinne wat na arbeidskampe gedeporteer of tereggestel word. Hierdie land is sedert 2002 elke keer in die nommer een-posisie, behalwe vir 2022, toe dit na die tweede plek afgeskuif het ná Afganistan in nasleep van dié land se Taliban-oorname.

Vanjaar het die geweldstelling in Noord-Korea nog verder gestyg, met Christene wat moontlike openbare teregstelling in die gesig staar as hulle ontdek word. Ten spyte hiervan arresteer en repatrieer China (15) honderde Noord-Koreaanse (1) vlugtelinge as “onwettige immigrante” sonder inagneming van die lot wat hulle in die gesig staar – ʼn lot wat nóg ernstiger vir Christen-bekeerlinge is.

Somalië is weereens in die tweede plek – dieselfde as verlede jaar. Jemen volg in die derde plek, Soedan in die vierde plek en Eritrea in die vyfde plek.

 Geweld teen Christene vlam op in Sirië
Sirië (6), die enigste nuweling in die top 10, het vanjaar die grootste styging op die WWL getoon deur twaalf posisies te spring vanaf nommer 18 in 2025 tot nommer 6 in 2026. Sirië het tot in die top 10 gespring weens ʼn enorme opvlamming in gerapporteerde geweld teenoor sy Christen-minderheid. Dit volg op die val van Bashar al-Assad se presidentskap in Desember 2024 en het daartoe gelei dat duisende Christene uit die land vlug.

Die drastiese toename in geweld en vervolging van Christene is grootliks veroorsaak deur ʼn sterk verhoging in die aantal Christene wat doodgemaak is, kerke wat aangeval is en Christelike skole wat toegemaak is. Altesaam 27 Christene is gedurende die rapporteringstydperk doodgemaak, met ʼn selfmoordaanval op ʼn kerk in Damaskus in Junie 2025 wat 22 lewens geëis het.

Sirië se tussentydse grondwet vestig Islamitiese regspraak as die hoofbron van wetgewing. Voertuie wat met luidsprekers toegerus is, beweeg nou in die Christelike woonbuurte rond terwyl hulle inwoners aanmoedig om na Islam oor te skakel. Intussen is dreigende boodskappe op verskeie kerke se mure geverf. Die Christelike bevolking neem skerp af, met slegs 300 000 Christene wat volgens Geopende Deure se beramings in die land oor is – wat ʼn afname vanaf 1,1 miljoen in 2015 is.

Ontwikkelende tragedie in Nigerië
Die godsdienstig gemotiveerde moorde op Christene in Nigerië (7) het in vanjaar se rapporteringstydperk skerp toegeneem. Die data wys duidelik dat Christene geteiken word as deel van ʼn groter prentjie wat regoor verskeie nasies in sub-Sahara Afrika weerspieël word. Uit die totaal van 4 849 Christene wat gedurende die rapporteringstydperk wêreldwyd weens hul geloof doodgemaak is, was 3 490 in Nigerië – ʼn toename vanaf 3 100 die vorige jaar en 72% van die totaal. Altesaam 3,4 miljoen Nigeriërs is intern ontwortel.

Nigerië is al sedert 2021 in die top 10 op die ranglys en is die afgelope agt agtereenvolgende jare as die gewelddadigste land vir Christene aangewys. Verskeie terreurgroepe soos Lakurawa, Mahmuda, Ansaru, Boko Haram, Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en die Fulani-militante is in die land aktief.

Die land het internasionale aandag getrek ná ʼn reeks dodelike aanvalle op Christelike gemeenskappe, die massa-ontvoering van 303 skoolkinders en 258 mense (meestal vroue en kinders) wat in Junie 2025 in ʼn Yelwata-aanval doodgemaak is. Dit het gelei tot veroordeling en gevolglike ingryping deur president Donald Trump van die Verenigde State van Amerika (VSA), wat op 26 Desember 2025 ʼn aanval op terreurgroepe in Nigerië geloods het.

Die data wat in vanjaar se rapporteringstydperk aangeteken is, wys dat Christene in die meeste noordelike state ooglopend onregverdig geteiken is. Dit sluit die volgende in:

  • Benue-staat in noord-sentraal Nigerië, waar 1 310 Christene doodgemaak is.
  • Plateau-staat in noord-sentraal Nigerië, waar 546 Christene doodgemaak is.
  • Taraba-staat in Noordoos-Nigerië, waar 73 Christene doodgemaak is.
  • Noordwestelike Kaduna-staat, waar 1 116 Christene in 2025 ontvoer is.

ʼn Naambord buite ʼn kerk in China wat minderjariges verbied om hierdie godsdienstige perseel te betree.

Donker prentjie in sub-Sahara Afrika
Die omvang van vervolging regoor sub-Sahara Afrika (SSA) is verbysterend, met 14 nasies in hierdie streek op die 2026 WWL en een uit elke agt Christene wêreldwyd wat in dié 14 lande woon. Drie van dié lande, Soedan (4), Nigerië (7) en Mali (15), het die maksimum moontlike telling vir geweld – die enigste drie nasies in die wêreld wat dit behaal het. Vier van die top 10 lande op die lys is nou in sub-Sahara Afrika.

 Die geweldstellings regoor SSA het drasties toegeneem. Die twaalf lande in sub-Sahara Afrika wat tien jaar gelede op die lys was, het ʼn gekombineerde geweldstelling gehad wat 49% van die maksimum moontlike telling was. In 2026 verteenwoordig die gekombineerde geweldstelling van die 14 lande in sub-Sahara Afrika wat op die lys is altesaam 721 miljoen mense (waarvan sowat die helfte Christene is), wat 88% van die maksimum moontlike telling verteenwoordig.

ʼn Soortgelyke patroon kan regoor die streek gesien word: Islamitiese militante betree die vakuum in wet en orde wat deur swak bestuur, oorloë en burgerlike konflikte veroorsaak word. Dit beteken dat hulle met straffeloosheid kan optree regoor dele van Nigerië (7), Burkina Faso (16), Mali (15), die Demokratiese Republiek van die Kongo (29), die Sentraal-Afrikaanse Republiek (22), Somalië (2), Niger (26), Mosambiek (39), Soedan (4), Ethiopië (36), Eritrea (5) en Comore (43). Hulle verklaarde doelwit is om “Sharia-state” te skep wat onder hul dodelike vertolking van Islamitiese wetgewing opereer.

Geopende Deure is tans besig met die Arise Africa-veldtog, ʼn meerjarige reaksie op die aanhoudende geweld wat teen Christene in dié streek plaasvind. Dié veldtog, wat saam met Christen-leiers regdeur sub-Sahara Afrika werk, is daarop gemik om die Afrika-kerk in staat te stel om sterk te staan in hul geloof wanneer uiterste vervolging plaasvind.

Kerke ondergronds gedryf
Die 2026 WWL wys ook ʼn ander kommerwekkende wêreldwye patroon: Kerke en Christene wat deur streng monitering en verlammende regulasies ondergronds gedryf word, met voorbeelde wat Algerië (20) en China (17) insluit.

In Algerië is al 47 Protestantse kerke gedwing om te sluit, wat Christene in isolasie dwing. Die druk word ook aanlyn gevoel, met die owerhede wat ʼn Christelike Facebook-groep met meer as 50 000 volgelinge gesluit het en kerklike aktiwiteite verbied. Meer as 75% van die Algeriese Christene het hul verbintenis met kerklike gemeenskappe verloor.

Soortgelyke dinamika kan in China gesien word. Regulasies vir aanlyn gedrag wat in September 2025 ingestel is, verbied Bybel-toepassings, fondsinsameling en uitreiking na die jeug, en vereis dat godsdienstige leiers die Chinese Kommunistiese Party openlik moet ondersteun. Intensiewe monitering, beide menslik en deur tegnologie, het China se onafhanklike huiskerke gedwing om te fragmenteer en om af te skaal van groot kommersiële byeenkomste tot geheime groepe van 10 tot 20 mense in private huise.

Hierdie patroon kan ook in Mauritanië (21), Tunisië (31) en Vietnam (55) gesien word, waar strenger burokratiese beheer, monitering en vae regulasies Christene stelselmatig isoleer van alle maniere van aanbidding, Bybelstudie of lofprysing. In Mauritanië kan mense die doodstraf kry vir afvalligheid van Islam. In Tunisië het die terugkeer na outoritêre bewind in 2021 tot verskerpte monitering, klopjagte op kerkbyeenkomste en die arrestasie van buitelandse Christene gelei.

Christen-huise in Chibok, Nigerië, wat deur Boko Haram-militante afgebrand is.

Belangrikste algemene tendense
Die belangrikste algemene tendense van die 2026 WWL is:

  • Die aantal Christene wat weens hul geloof doodgemaak is, het toegeneem van 4 476 gevalle in die WWL 2025 tot 4 849 in die WWL 2026-rapporteringstydperk.
  • Die aantal kerke of openbare Christen-eiendomme wat in verskillende vlakke van erns aangeval is, het afgeneem van 7 679 tot 3 632 gevalle.
  • Die aantal Christene wat weens hul geloof aangehou is, het afgeneem van 3 604 tot 3 414 gevalle.
  • Die aantal Christene wat weens hul geloof gevonnis is, het toegeneem van 1 140 tot 1 298 gevalle.
  • Die aantal Christene wat vir geloofsverwante redes ontvoer is, het afgeneem van 3 775 tot 3 302 gevalle.
  • Die aantal gevalle waar Christene verkrag is of op ander maniere seksueel geteister is, het toegeneem van 3 123 tot 4 055 gevalle.
  • Dieselfde geld vir gevalle van gedwonge huwelike tussen Christene en nie-Christene: Dié syfer het toegeneem van 821 tot 1 147 gevalle.
  • Die aantal gevalle waar Christene weens geloofsverwante redes op ander maniere fisies of geestelik mishandel is (insluitende aanrandings en doodsdreigemente), het toegeneem van 54 780 tot 67 843 gevalle.
  • Daar was 20 084 gevalle van huise of ander eiendomme (uitsluitende winkels) wat aan Christene behoort, wat in die WWL 2025-rapporteringstydperk aangeval is. Dié syfer het afgeneem tot 17 609 in die WWL 2026-rapporteringstydperk.
  • Die aantal gevalle van winkels of ondernemings wat aan Christene behoort wat aangeval is, het afgeneem van 8 284 tot 8 185 gevalle.
  • Die aantal Christene wat weens geloofsverwante redes deur geweld – en ook druk (veral waar bekeerlinge hul huise en gemeenskappe moes verlaat) – gedwing is om hul huise te verlaat of permanent binnelands weg te kruip, het toegeneem van 183 709 tot 201 427 gevalle.
  • Die aantal Christene wat weens geloofsverwante redes gedwing is om hul land te verlaat, het afgeneem van 26 062 tot 22 702 gevalle.

Bybel-toegangslys
Die Bybel-toegangslys is op 2 Oktober 2025 deur Geopende Deure Internasionaal en die Digitale Bybelgenootskap, in samewerking met ander eendersdenkende organisasies, gepubliseer. Dié lys, wat 88 lande dek, identifiseer die lande waar toegang tot die Bybel die ergste beperk word en waar die grootste Bybel-tekorte ervaar word.

Die navorsing wys dat daar ʼn noue verbintenis tussen vervolging en toegang tot die Bybel is. Onderdrukkende regerings, ekstremistiese groepe en uitgebreide families besef dat gelowiges se geloof verswak word en frakture met hul gemeenskappe geskep word deur hulle toegang tot die Bybel af te sny. In lande waar Christene die ergste vervolging ervaar, staar hulle ook die grootste struikelblokke in die gesig om toegang tot God se Woord te kry.

Geopende Deure se WWL-data is gebruik om te help bepaal waar vervolging ʼn omgewing skep wat toegang tot God se Woord bemoeilik. Baie van die lande wat hoog op die WWL is, is ook hoog op die Bybel-toegangslys se beperkingslys, wat die realiteit bevestig dat gelowiges in talle van die wêreld se gevaarlikste plekke weens vervolging van God se Woord afgesny word. Die verslag beraam dat Christene wat die Bybel wil bekom aansienlike toegangsbeperkings in meer as 50 lande het.

Godsdiens- en geloofsvryheid
Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Afrika, sê: “Godsdiens- en geloofsvryheid is ʼn basiese reg – maar nogtans word Christene se kwesbaarheid vir diskriminasie en vervolging beduidend verhoog deur hul godsdienstige identiteit.

“Die 2026 WWL plaas die kollig op brandpunte soos Sirië en Nigerië, terwyl die tendense wys hoe wydverspreid vervolging en diskriminasie teen Christene is. Die 388 miljoen verteenwoordig individue, gesinne en gemeenskappe – elkeen met ʼn konteks, storie en gesig – hulle is nie net ʼn getal nie. Elkeen benodig vertroosting en moed om hul realiteit in die gesig te staar. Geopende Deure en ons vennote werk daaraan om dit te verwesenlik.”

Oor die WWL en hoe die syfers ingesamel is
Die eerste WWL is in Januarie 1993 bekendgestel. Lande se algehele vervolgingstellings is ʼn samestelling van ses verskillende tellings: Vervolgingsvlakke in die privaatlewe, familielewe, gemeenskapslewe, nasionale lewe en kerkgemeenskappe, saam met die geweldvlakke. Regeringsbeperkings en die hoeveelheid sosiale vyandigheid teenoor Christene word ook in ag geneem. Vanjaar se lys dek die tydperk vanaf 1 Oktober 2024 tot 30 September 2025.

Die lys, wat aan die begin van elke jaar bekendgestel word, gebruik omvattende navorsing, data vanaf Geopende Deure-veldwerkers, hulle netwerke in die verskillende lande, eksterne kundiges en vervolgingsanaliste om die vervolging wêreldwyd te kwantifiseer en analiseer. Elke uitgawe word deur die Internasionale Instituut vir Godsdiensvryheid geoudit en geverifieer.

Meer inligting
Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2026 Wêreldwaarnemingslys af te laai en die top 50 lande se profiele en vervolgingstatistieke te besigtig.

Vir enige vrae oor die 2026 Wêreldwaarnemingslys, die navorsingsmetodologie of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, mediabeampte, by elizabethb@od.org, 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Afrika is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande wêreldwyd ondersteun en bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha
Mediabeampte: Geopende Deure Afrika
Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341
E-pos: elizabethb@od.org

*WWL-lande se ranglysposisies in hakies regdeur die dokument.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 14/1/2026
Foto’s verskaf: ʼn Groep ontwortelde vroue in Benue-staat, Nigerië, sit hulpeloos rond nadat 200 mense doodgemaak en duisende haweloos gelaat is in ʼn aanval in Junie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here