Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
Solidariteit Helpende Hand en ‘n plaaslike versorgingsentrum vir volwassenes met intellektuele gestremdhede het saamgewerk om ‘n jukskeibaan op te rig wat die gemeenskap bymekaar sal bring.
Uitkoms, ‘n versorgingsentrum in Montanapark in Pretoria, het die jukskeibaan op Uitkoms se perseel in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-streek opgerig en dit is op 12 Maart amptelik geopen vir die gebruik van buite-organisasies en instellings soos skole, tehuise en besighede.
Volgens Bianca Steyn, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-streek, is die hoofdoel van hierdie projek om persone met gestremdhede met die breër gemeenskap te integreer.

Mariana Kriel, streekbestuurder van Helpende Hand, en Christo Topham, bestuurder van Uitkoms, open die jukskeibaan.
“Die hoofdoelwit hiervan is om die breër gemeenskap bloot te stel aan die versorgingsentrum om sodoende bewusmaking te skep van hierdie kwesbare gemeenskap en om te verseker dat hulle nie voel asof hulle geïsoleerd is van die res van die gemeenskap nie,” sê Steyn. Steyn verduidelik dat persone met gestremdhede baie keer geïsoleerd voortbestaan. Daarom hoop die rolspelers dat hierdie inisiatief die broodnodige integrasie na vore sal bring.
Christo Topham, bestuurder van Uitkoms Versorgingsentrum, sê die inisiatief lê hulle baie na aan die hart. Dit laat hulle voel die breër gemeenskap sal hulle nie vergeet nie.
Joe Johnsson, ‘n afgevaardigde van Jukskei Suid-Afrika, het die opening bygewoon en feite oor dié sport gedeel.

Wimpie Botha toets die baan uit.
Jukskei bestaan al sedert ongeveer 1734 toe Goewerneur Jan de la Fontaine die Fort de Rietvallei aan die Buffelsjagtrivier gestig het. Die doel van die fort was om onder andere brand- en timmerhout aan die Kasteel in Kaapstad te verskaf. Die dragonders het hier met jukskeie en houtstompe na ‘n voorwerp in die grond gegooi – ‘n speletjie om die ledige ure te vul.
Die spel is uitgebrei deurdat veral die transportryers by die groot uitspanplekke jukskei tot georganiseerde spel ontwikkel het. Die eerste amptelike wedstryd vind op 4 November 1939 op Keerweder (Klein Drakenstein) plaas tussen Keerweder en die KWV se spanne. Die jukskeivure het daarna hoog gebrand en op 3 Maart 1940 speel die Oos-Kaap en Vrystaat die eerste interprovinsiale wedstryd. Nadat die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad (SAJR) op 25 Oktober 1940 gestig is het die spel tot ‘n volwaardige sportsoort ontwikkel. Dit is noemenswaardig om uit te lig dat die woord “jukskei” die naam is van die voorwerp waarmee die sport aanvanklik beoefen is, naamlik die skei wat uit die juk van ‘n os getrek is.
“Sport is en sal altyd ‘n goeie medium bly om mense van verskillende agtergronde bymekaar te bring. Dit dui op die transformerende krag van ‘n geïntegreerde gemeenskap met sterk waardes se behoefte aan ontspanning en gesonde sosiale verkeer. Dit is vir die gemeenskap deur die gemeenskap,” sê Steyn.
Solidariteit Helpende Hand en Uitkoms Versorgingsentrum nooi organisasies, besighede en individue uit om die jukskeibane te gebruik en terselfdertyd hul kennis van persone met gestremdhede te verbreed.
Kontak Steyn by biancas@helpendehand.co.za of by 084 517 4580 vir meer inligting.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 18/03/2024
Foto: Die jukskeibaan op Uitkoms se perseel in Pretoria.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








