Geskryf deur: Geopende Deure SA 
Artikelbron: opendoors.org.za 

Broer Andrew, beter bekend as “God se Smokkelaar” en die stigter van Geopende Deure, was bekend daarvoor dat hy ontmoetings gereël het met mense wat deur die wêreld as terroriste en vyande beskou is. Net omdat iemand die volk van God gewelddadig aangeval het of gewelddadige veldtogte gelei het, het nie beteken dat broer Andrew nie die Evangelie met hom wou deel nie – om die waarheid te sê, dit het veroorsaak dat hy die liefde van Jesus nog meer met daardie leier wou deel!

Van guerrillavegters in Suid-Amerika tot gewelddadige burgermagleiers in Afrika tot die hoofde van terreurorganisasies in die Midde-Ooste en die Golf, Broer Andrew het daarop aangedring om met hulle te vergader. Hy sou hulle van Jesus vertel, vir hulle ’n Bybel gee en vir hulle bid. Soos hy daarvan gehou het om te sê: “Eerder ’n Bybel as ’n bom.”

Die een individu wat hy regtig wou ontmoet, maar nooit kon vermag nie, was Osama bin Laden, die berugte leier van die Islamitiese ekstremistiese groep Al-Kaïda. Andrew het egter elke dag vir hom gebid – en ander uitgedaag om dieselfde te doen, met ’n eenvoudige vraag: “Het jy vandag al vir Osama bin Laden gebid?”

Hoewel bin Laden in 2011 vermoor is, en Broer Andrew in 2022 oorlede is, moet hierdie vraag ons steeds uitdaag om te bid vir diegene wat ons as ons vyande beskou. Dit eggo immers Jesus se opdrag in Matteus 5:44: “Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg.”

As ons daardie opdrag en Broer Andrew se vraag ernstig opneem, vir wie sou ons vandag bid? Hoe gaan dit met Kim Jong-un, die wrede leier van Noord-Korea, nommer 1 op die 2023- Wêreldwaarnemingslys?

Kim Jong-un is die derde heerser van Noord-Korea wat uit die Kim-dinastie kom. Sy pa, Kim Jong-il, het Noord-Korea van 1994 tot 2011 gelei en Kim Jong-un se oupa, Kim Il-sung, het die moderne Noord-Korea in 1948 gestig. Hy het ’n persoonlikheidskultus rondom die Kim-familie opgebou tydens sy byna 60-jarige bewind. Dit sal jou dalk verbaas om uit te vind dat hierdie deel van die Koreaanse skiereiland nie altyd bekend was vir gewelddadigheid teenoor Christene nie. In die 17de en 18de eeu het die Christendom gefloreer. In die eerste helfte van die 20ste eeu is dit selfs die “Jerusalem van die Ooste” genoem.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Korea in twee verdeel: die noorde is deur die Sowjetunie beset, en die suide is deur die Westerse Geallieerdes beset. Uiteindelik het dit gelei tot die skepping van die twee-nasie-skiereiland wat voortduur: ’n kommunistiese Noorde wat deur die Kim-familie regeer word en ’n demokratiese Suide wat met ’n groot deel van die Weste verbonde is.

Toe Kim Il-sung in 1948 beheer oor Noord-Korea oorgeneem het, het hy met ‘n verrassende agtergrond gekom. Albei sy ouers was glo Christene – sy ma was ’n Presbiteriaanse diakones en Kim Il-sung het eintlik ’n Christelike skool bygewoon waar hy die orrel gespeel het. Tog, toe Kim begin regeer het, het die vervolging van Christene onmiddellik begin – en dit was wreed. Baie Noord-Koreaanse priesters is tereggestel en daardie Protestantse leiers wat nie na die Suide gevlug het nie, is tereggestel of tot die laagste sosiale status gedwing. Die meeste Christene wat dit kon doen, het tydens die begin van die Kim-dinastie na Suid-Korea gevlug.

Sedertdien duur die vervolging van Christene in Noord-Korea voort. Die geweld is verstommend – met Bybelverspreiding wat lei tot openbare teregstelling en gruwelike gevangenisstrawwe in Noord-Korea se sadistiese stelsel van arbeidskampe. Kim Jong-il en Kim Jong-un het die vervolging van Christene verskerp met strenger grensbeheer en meer spioene wat na China gestuur is om netwerke van sendelinge te infiltreer. Die regime het meer lukrake huisklopjagte uitgevoer en swaarder strawwe ingestel.

Die tweeledige doelwit het dieselfde gebly: om enige godsdiensbeweging uit te roei wat die heerskappy van die Kim-familie kan bedreig en om die Christelike teenwoordigheid in Noord-Korea uit te wis.

Ondanks Noord-Korea se harde strawwe, bestaan ’n ondergrondse Kerk in Noord-Korea steeds. Geopende Deure skat daar is ongeveer 400 000 Noord-Koreaanse Christene wat in die geheim lewe en aanbid.

“Dit is ’n wonderwerk,” sê broer Simon*, die koördineerder vir Geopende Deure se bediening aan Noord-Koreane. “God waak oor die Noord-Koreaanse Kerk, maar ons moet nooit die hoë prys vergeet wat die Christene betaal nie. Noord-Korea is waarlik die plek waar geloof die meeste kos.”

Broer Andrew se uitdaging aan ons is steeds: Sal ons bid vir hierdie heerser wat verantwoordelik is vir die bloedstorting van so baie Christene? En natuurlik is die antwoord ’n hartlike “ja”. Christene het van die begin af vir hul vervolgers gebid, en Kim Jong-un is nie die eerste (en sal nie die laaste) persoon wees wat probeer het om God se kinders te vernietig nie.

Ses maniere om vir Noord-Korea te bid

Wat moet ons dus bid?

  1. Bid vir die hart, verstand en siel van Kim Jong-un. Dit is selde dat die ergste vervolgers gelowig word, maar dit gebeur. Bid dat Kim uiteindelik die waarheid sal sien.
  2. Bid vir Kim se familie, vrou, drie kinders en broer en susters. Bid dat hulle van hulle weë sal afsien en op God sal vertrou vir hulle redding. Bid ook vir hul beskerming. Bid teen die indoktrinasie van Kim se kinders. Bid dat God hulle gedagtes, harte en siele sal beskerm.
  3. Bid dat Noord-Korea binnekort sy bose beleid sal laat vaar. Bid vir die beskerming van die Christene en ander burgers van Noord-Korea.
  4. Bid dat Noord-Korea se elite gered sal word of dat hulle uit hulle posisies sal tree.
  5. Bid vir die gebedsbeweging binne en buite Noord-Korea. Bid dat God se Gees Noord-Koreaanse Christene sal motiveer en krag gee sodat hulle vir hul regering en hul land kan bid. Bid vir genesing.
  6. Bid ook dat God miljoene Jesus-volgelinge wêreldwyd sal inspireer om vir Kim Jong-un, sy familie en sy regime te bid.

Broer Andrew het gesê: “Ons gebede kan gaan waar ons nie kan nie … daar is geen grense, geen tronkmure, geen deure wat vir ons gesluit is wanneer ons bid nie.” As ons as Christene dit werklik glo, watter keuse het ons dan as om op ons knieë te val en vir Kim Jong-un en die land Noord-Korea te bid?

*Naam verander vir sekuriteitsredes.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 05/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit pixabay.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here