Deur Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Verskaf

Bakkies Botha, Adam Tas en Appel het reeds hul gewig by HelpJag ingegooi. Nou sluit nog ’n bekende Suid-Afrikaner by hulle aan en saam word honger die teiken.

Solidariteit Helpende Hand is trots en opgewonde om Jo Black by HelpJag se ambassadeurspan te verwelkom. Met sy aanstelling snoer vier uiteenlopende, maar eensgesinde stemme kragte saam om praktiese hulp en hoop na gemeenskappe regoor Suid-Afrika te bring.

Jo Black, wat bekend is vir sy groot liefde vir mense en sy passie om ’n verskil te maak, sê sy betrokkenheid by HelpJag was vir hom ’n natuurlike besluit.

“Toe ek genader is deur ’n organisasie wat ek reeds ondersteun, was dit ’n ‘no-brainer’. Hier wil ek hand bysit om ’n verskil te maak,” sê Black. “Ons almal wil iets goeds doen. Daar is altyd iets wat iemand kan gee. Dit strek van tyd, vaardighede tot hulpbronne.”

Volgens Black spruit sy besluit om by HelpJag betrokke te raak uit ’n diep oortuiging dat mens nie onbetrokke kan bly wanneer ander swaarkry nie.

“Swaarkry kry vrye teuels wanneer goeie mense toekyk en niks doen nie,” sê hy. “Ek kies om my platform te gebruik om bewusmaking te bring en dalk ’n klein verskil te maak. Stilte is ook ’n keuse en ek glo nie dis ’n keuse wat iemand kan bekostig nie. Daarom is dit vir my ’n voorreg om deel van die HelpJag-span te vorm.”

Jo Black is vandeesweek as ’n amptelike ambassadeur van HelpJag aangewys.

Vir hom bly hoop die kern van alles wat hy doen. “Ek staan vir hoop, en hoop is iets wat iemand laat uitsien na môre.”

Volgens Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand, beteken Jo Black se betrokkenheid veel meer as net groter sigbaarheid vir die projek.

“HelpJag is trots om Jo Black as een van die projek se nuwe ambassadeurs te verwelkom,” sê Riekert. “Sy opregte liefde vir mense, sy geloofsgedrewe waardes en sy hart vir gemeenskappe sluit naatloos aan by dit waarvoor HelpJag staan. Om ’n bekende kunstenaar saam met Bakkies Botha, Adam Tas en Appel aan boord te hê, versterk nie net die projek se geloofwaardigheid nie, maar gee ook ’n kragtige stem aan HelpJag se boodskap van hoop, samewerking en omgee.”

HelpJag is Solidariteit Helpende Hand se nasionale wildsvleis- en voedselhulpinisiatief en een van die organisasie se vlagskipprojekte. Sedert die projek bykans nege jaar gelede van stapel gestuur is, is al sowat 280 ton wildsvleis ingesamel en versprei. Die projek dien as ’n aanvullende ondersteuning vir Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat tans ongeveer 8 000 kleuters in 130 skole landwyd voed.

“HelpJag het ontstaan toe ons besef het hoe groot die behoefte aan proteïen in skole is en hoe hoog vleispryse gestyg het,” verduidelik Riekert. “Deur jagters te nooi om wild te skenk, kan ons vleis verwerk en versprei na skole en gemeenskappe waar dit die nodigste is.”

Jo Black saam met Margolé Riekert, Helpende Hand se hoof van projekte, en Hannes Noëth, uitvoerende van direkteur van Helpende Hand, by ’n gholfdag ten bate HelpJag

Sy sê mense kan op verskeie maniere by HelpJag betrokke raak. Jagters kan oortollige karkasse skenk, terwyl individue en ondernemings ook finansieel kan bydra om die verwerking en verspreiding van die vleis moontlik te maak.

Met vier ambassadeurs wat nou doelbewus kragte saam snoer, glo HelpJag dat die projek se impak en bereik in 2026 betekenisvol gaan groei.

Vir meer inligting oor HelpJag en hoe om betrokke te raak, besoek www.helpjag.co.za.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 07/02/2026
Foto’s verskaf deur Solidariteit

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here