Artikelbron: Artikel verskaf
Kanaal 7 is die privaat radiostasie van Media Netwerk vir Christus. Die doel van die radiostasie is om die Evangelie van Jesus Christus deur middel van die moderne media oral in Namibië en oor landsgrense heen uit te dra, en hoop in Christus te bring.
Kanaal 7 was op 6 Desember 2023, 30 jaar oud. Hierdie geleentheid is met diep dankbaarheid teen oor die lewende God herdenk.
Kanaal 7 is op verskeie fronte uniek. Die feit dat daar 35 FM-senders in Namibië die uitsendings van Kanaal 7 dra, is op sigself al uiters uniek. Hierdie senders word nie soos in baie ander lande gehuur nie, maar behoort aan Kanaal 7. Dit beteken alle kostes om die radiostasie op die lug te hou, herstelwerk aan senders asook die onderhoud daarvan, word deur die stasie self gedra.
Ondersteuning vir die stasie kom van skenkers, borge en advertensies.
’n Unieke eienskap van die stasie se ondersteuning is die senderkomiteestelsel wat al baie jare lank bestaan. Daarsonder sou dit waarskynlik nie moontlik wees om die stasie al vir soveel jaar suksesvol te laat uitsaai nie.
Senderkomitees is groepe vrywilligers van twee tot vele meer wat in hulle omgewing die belange van Kanaal 7 en sy luisteraars, personeel, bestuur, direksie en finansies ernstig op die hart dra en dit as hulle roeping beskou om Kanaal 7 op die een of ander wyse te ondersteun en by te staan
Die radiostasie beskou hierdie individue as deel van Kanaal 7 en probeer soveel moontlik direkte kontak met hulle behou. Kanaal 7 het slegs een direkte fondsinsamelingsaksie vir die bediening self. Daar is verskeie ander aksies en projekte spesifiek vir ander organisasie en individue. Die radiothon is 29 jaar lank Kanaal 7 se grootste fondsinsamelingsprojek. Die senderkomitees is grootliks verantwoordelik vir die sukses van die radiothon. Die afgelope jaar het die radiothon bykans vier miljoen Namibiese dollar ingebring (gelykstaande aan die rand). ’n Tiende hiervan word weer na elke dorp teruggeploeg ter ondersteunings van behoeftes wat deur hulle self bepaal word.
Om elkeen van Kanaal 7 se personeel se onbeperkte dankbaarheid beter te verstaan is dit nodig op perspektief te hê oor die Namibiese omgewing. Dit is belangrik om te besef dat die Namibiese bevolking sleg 2,5 miljoen beloop teenoor Suid-Afrika se 60 miljoen.
Om die uitdagings ten opsigte van afstande te verstaan is, dit belangrik om te besef dat Namibië byna 70% die grootte van Suid Afrika is.
Senders wat in stand gehou moet word, is byvoorbeeld Outapi in die noorde en is 800 km van Windhoek af. Oranjemund is 820 km van Windhoek af en dan al die ander senders tussenin.
’n Verdere unieke aspek van Kanaal 7 is dat daar drie uitsaai-ateljees is. Een in Windhoek, een in Swakopmund en een in Oshakati. Die ateljee in Oshakati saai elke aand van 18:00 tot 22:00 in die Oshiwambo-taal op nege van die gewone Kanaal 7 sender uit deur middel van ʼn alternatiewe satelietkanaal.
Die roeping en passie van die 30 voltydse en deeltydse personeel laat hierdie stasie al 30 jaar lank die Evangelie van Jesus Christus suksesvol uit te saai.
Kanaal 7 kan op die 35 FM-senders in Namibië gehoor word, sowel as op Kanaal 825 op DSTV en ook op die internet by www.k7.com.na. Daar is verskeie internetstrome, onder meer die Bybel in Afrikaans en in Engels.
Gaan na die Kanaal 7-toep en kies die spesifieke stroom daar.
Bid saam met ons vir Kanaal 7, bid vir die daaglikse uitdagings, bid vir sy personeel, vir die nodige finansies, maar bid veral vir die Boodskap van hoop en verlossing wat Kanaal 7 se passie en roeping is.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto: Voor: Magda Schlechter, Esme Lubbe, André Henning, Rhona Gouws en Nanti van Aswegen.
Agter: Alinda LuMar, Luton Koorts, Elmero Strauss, Theoline Damens, Carike van Vuuren, Ina van Tonder en Alba Pearson
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.