Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

“Ek rig ’n uitdaging aan elkeen van julle: Vind jou berg om te klim, jou eindstreep om oor te steek. Of dit nou is om ’n marathon te hardloop, ’n nuwe fiksheidsprogram aan te pak, of bloot daarna te streef om ’n gesonder lewenstyl te hê, weet dat die enigste perke wat bestaan, dié is wat jy jouself oplê.”

Francois Janse van Rensburg het onlangs ’n epiese staptog ten bate van liefdadigheid aangepak. Dit is sprekend van sy liefde vir avontuur en sy medemens.

Aptyt vir uitdagings
Francois, gebore in 1963 in Riversdal in die Suidwes-Kaap, het van jongs af ’n onbedwingbare gees geopenbaar. Sy aptyt vir uitdagings was onversadigbaar en duidelik te sien in die verskeie prestasies wat hy in sy lewe behaal het.

Hierdie voorliefde vir ’n uitdaging is byvoorbeeld gedemonstreer toe hy as negejarige op die dominee se uitdaging gereageer het deur al die boeke van die Bybel se name binne een aand te memoriseer en die volgende oggend vlot op te sê om die reuseplak sjokolade sy eie te maak. Hierdie vasberadenheid het die grondslag gelê vir sy talle toekomstige pogings en prestasies.

Hoe groter die toets van sy kragte, hoe beter
Francois het deurgaans in sy jeug voortgegaan om uitdagings met oorgawe aan te pak. In graad 10 het hy ’n solostaptog van Swellendam na Riversdal aangepak en die 80 km afgelê om fondse vir sy skool in te samel – ’n prestasie wat hom ’n borgskap van R 8 000 besorg het. As 16-jarige het hy sy eerste marathon (42,2 km) voltooi, gevolg deur die Twee Oseane-ultramarathon (56 km) in graad 12. Selfs tydens sy nasionale diensplig het Francois voortgegaan met sy groot liefde vir langafstandwedrenne en het hy sy eerste Comrades (90 km) voltooi.

Toewyding aan fiksheid en avontuur
Sy toewyding aan fiksheid en avontuur het onwrikbaar gebly selfs nadat hy sy kwalifikasie as omgewingsgesondheidsbeampte verwerf en begin werk het. Hy het byvoorbeeld aan die uitmergelende Washie-wedloop (161 km) in die Oos-Kaap deelgeneem en voortgegaan om uit te blink in uithousport.

Kilimanjaro en gorillas in Uganda: ’n lewenslange droom verwesenlik
In 2012 het Francois besluit om uit mededingende wedrenne te tree, maar sy dors na avontuur het gebly. Hy het sy 50ste verjaardag in Tanzanië op Kilimanjaro gevier en dit opgevolg met ’n vermoeiende drie dae lange resies in die Drakensberge.

Selfs die diagnose van ’n harttoestand het Francois nie afgeskrik nie. Hy het voortgegaan om die grense van sy fisiese vermoëns te toets en het die Kaapstad-fietstoer aangepak asook ’n ekspedisie om saam met sy vrou, Mariana, in die voetspore van gorillas in Uganda te volg.

900 km vir fondsinsameling
Met sy aftrede in die Strand, het Francois weer eens ’n verdienstelike uitdaging aangepak deur kragte saam te snoer met pastoor Jo Swart, die voorsitter van die Somerset-Wes Nag- en Gesinskuiling. Hy het ’n solostaptog van meer as 900 km van die Strand na Gqeberha aangepak om fondse vir die nagskuiling in te samel.

Francois se uitdaging aan jou
Francois het sy ervarings in ’n lopende dagboek gedokumenteer en insigte gedeel oor die beproewinge en triomfe van sy reis. “Waar ek op die punt staan om hierdie monumentale uitdaging te voltooi, kan ek nie anders as om my te verwonder oor die reis wat my hierheen gebring het nie,” het hy geskryf. “Ek is niemand spesiaal nie; ek beskik ook nie oor enige buitengewone talente nie. Ek het wel ’n onversetlike vasberadenheid, ’n hardnekkige streek wat weier om terug te deins in die aangesig van teëspoed… Ek rig ’n uitdaging aan elkeen van julle: Vind jou berg om te klim, jou eindstreep om oor te steek. Of dit nou is om ’n marathon te hardloop, ’n nuwe fiksheidsprogram aan te pak, of bloot daarna te streef om ’n gesonder lewenstyl te hê, weet dat die enigste perke wat bestaan, dié is wat jy jouself oplê.”

Vat hande met die nagskuiling
Die Somerset-Wes Nag- en Gesinskuiling is die eerste en enigste gesinskuiling in die Wes-Kaap en kan ’n veilige hawe bied aan gesinne wat haweloos is. Die skuiling kan tot 30 gesinne op een slag huisves.

As jy saam met Francois ’n bydrae wil maak om hierdie verdienstelike nagskuiling te ondersteun, gaan na: l.ead.me.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 24/06/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here