Artikelbron: Internasionale Christen-ambassade Jerusalem
Israel staan op die punt om binne die volgende paar weke sy 75ste bestaansjaar te vier. Die nasie staar ’n ernstige interne krisis in die gesig sedert die stigting van die staat Israel in 1948.
Die nasionale debat oor geregtelike hervormings het sedert vroeg in Januarie tot betogings landswyd gelei. Die betogings het in getal en intensiteit gegroei, wat veroorsaak het dat groot hoofweë versper is en honderde Israelse reserviste geweier het om vir hulle jaarlikse diensplig aan te meld.
Hoëtegnologieleiers het ook honderde miljoene dollars uit hulle Israelse rekeninge disinvesteer en in buitelandse banke belê. Volgens sommige bankiers tot $4 biljoen is landuit, deels uit protes en deels weens vrese oor Israel se ekonomiese toekoms.
Vandeesweek het die nasionale onrus ’n gevaarlike hoogtepunt bereik toe Israel se nasionale werkersvakbond ’n beroep gedoen het op verlammende landswye stakings om die geregtelike hervormings te stop.
Die oorgrote meerderheid van Israeli’s sal oor die algemeen geregtelike hervormings verwelkom. ’n Toenemende aantal burgers, insluitend dié van premier Netanyahu se Likud-party, is gekant teen die hoeveelheid mag wat die hooggeregshof besit en hoe regters aangestel word. Baie glo dat die onverkose regters te veel mag het oor wette, selfs dié wat deur die demokraties verkose Knesset goedgekeur is. Dit moet nou verander.
Daar is egter ook vrees dat die voorgestelde hervormings mag sal gee aan die mees godsdienstige, regse regering wat Israel nog gehad het, wat sal lei tot afdwing van godsdienstige wette en die verlies van vryhede.
Daar kan nuwe godsdienstige beperkings wees op wie na Israel kan immigreer en gedwonge nakoming van Sabbat- en Kashrut-regulasies. Vroue kan tronkstraf opgelê word omdat hulle hul elmboë by die Klaagmuur ontbloot het. Die doodstraf kan weer ingestel word vir sekere misdade en Israelse dokters kan aangemoedig word om voorkeur aan Jode bo nie-Jode te gee.
Dan is daar ook nog die gevaarlike antisendingwet (wat gestuit is) wat daartoe kon lei dat gelowiges in Jesus gevange geneem kon word bloot omdat hulle hul geloof met ander deel. Ons kan die Here dank dat baie van hierdie wette reeds verwerp is, maar dit weerspieël wel die neigings van die huidige regering.
Die groot debat gaan egter oor die toekoms van die Joodse staat, veral die mate van ‘Joodsheid’ wat op burgers afgedwing word en die vlak van vryheid wat hulle sou hê om uitdrukking aan hulle eie Joodsheid te gee. Demografie speel ook ’n rol, met die ultra-Ortodokse gemeenskap wat groei
Sommige vrees dat Israel ’n godsdienstige teokrasie kan word. Die meeste Israeli’s wil individuele vryhede behou, maar hulle respekteer ook die ultra-Ortodokse gemeenskap as die bewakers van die Joodse godsdienstige tradisies. Die vrees is dat die geregtelike hervormings die ultra-godsdienstige regses sal bemagtig om gewone Israelse burgers van hulle vryhede te beroof waarvoor baie Israeli’s in ontelbare oorloë geveg en gesterf het.
Daarom bevind Israel hom vandag op ’n kritieke en komplekse tydstip met sy naderende 75ste verjaardag. Die land het ons gebede nou meer as ooit tevore nodig, aangesien hierdie tyd werklik die toekoms van Israel sal bepaal.
Om die volledige artikel te lees en ook gebedspunte vir die land te ontvang, klik hier joynews.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 31/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.