Geskryf deur Radio Tygerberg; Waves Foundation
Oorspronklik gepubliseer in die November uitgawe van JUIG! Tydskrif
Vir een gesin was dit ’n kospakkie. Vir iemand anders ’n brood toe daar min in die huis was. En vir ’n ma wat haar seun aan die dood moes afstaan, was dit iemand wat gesê het: “Ons sien jou. Jy hoef nie alleen hierdeur te gaan nie.” Ons ry elke dag by mense verby wie se stories ons nie ken nie. ’n Ma wat nie weet hoe sy hierdie maand kos op die tafel gaan sit nie. ’n Kind wat ’n bekommernis dra wat te groot is vir klein skouers. Iemand wat glimlag wanneer jy groet, maar agter daardie glimlag ’n verlies dra waarvan jy niks weet nie.
Maak God se woord prakties sigbaar
Dit is maklik om oorweldig te voel deur die nood rondom ons. Wat kan één mens tog doen? Waves Foundation glo die antwoord is: meer as wat jy dink. Waves Foundation is ’n inisiatief van Radio Tygerberg 104FM wat uit ’n eenvoudige droom ontstaan het – om God se liefde nie net met woorde te verkondig nie, maar dit prakties sigbaar te maak. In die eerste maand het gewone mense reeds gewys wat moontlik is. Met die ondersteuning van Wave Makers kon 12 gesinne genoeg kruideniersware vir ’n maand ontvang en is 400 brode aan mense in nood uitgedeel. Maar die mooiste deel van die storie kan nie altyd getel word nie.
Een van die mense wat Waves kon help, was ’n ma wie se seun vermoor is. Te midde van haar trauma en verlies kon Waves traumaberading vir haar moontlik maak.
“Ons kon nie haar verlies wegneem nie, maar ons kon langs haar kom staan,” vertel Benescke Janse van Rensburg van Waves. “Soms is dit waar verandering begin – wanneer iemand in ’n moeilike oomblik ontdek: Ons sien jou. God sien jou. Jy is nie alleen nie.”
Wanneer klein golwe saamkom
Waves wil dáár wees waar mense hulp en hoop nodig het – deur voedselhulp, skole- en gemeenskapsuitreike en spontane dade van goedheid. Agter hierdie werk staan die #wavemakersclub. Vanaf R100 per maand kan enigiemand ’n Wave Maker word. Lede ontvang daaglikse WhatsApp-dagstukkies en maandelikse terugvoer oor wat hul bydraes help moontlik maak. Hulle kry ook eerste koopgeleentheid vir uitgesoekte Radio Tygerberg-geleenthede soos TygerRun en Sisters, asook geleenthede om by Waves-uitreike betrokke te raak. Maar miskien is die grootste voorreg om aan die einde van ’n maand na ’n storie te kyk en te kan sê: Ek het gehelp om dit moontlik te maak.
Jou bydrae verander lewens
Jy het dalk nie self die kospakkie oorhandig of die brood uitgedeel nie. Jy het dalk nooit die ma ontmoet wat berading ontvang het nie. Maar jou klein golf het haar bereik. Want jy hoef nie die hele wêreld te verander nie. Jy kan net help om iemand anders s’n te verander.
Gewone mense. Buitengewone verandering.


Hierdie artikel verskyn in die November 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verkry vanaf oorspronklike artikel geplaas in die November 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 21/10/2026
VRYWARING: JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








