Geskryf deur Frontline Fellowship
“Beproef alles; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad.” – 1 Tessalonisense 5:21-22
’n Fees van kwaad
Halloween is ’n godsdienstige dag, maar nie ’n Christelike een nie. Tom Sanguinet, ’n voormalige hoëpriester in Wicca, het gesê: “Die moderne fees wat ons Halloween noem, het sy oorsprong by die volmaan naaste aan 1 November, die hekse se nuwe jaar. Dit is ’n tyd wanneer die geeste (demone) glo op hul sterkste is en weer die aarde besoek … Halloween is suiwer en absoluut boos, en daar is niks wat ons ooit gedoen het, of sal doen, wat dit aanvaarbaar vir die Here Jesus sou kon maak nie.”
Dag van die dood
Halloween het sterk wortels in heidendom en towery. Dit het begin as die Druïdefees van Samhain. Die Keltes het 1 November as die dag van die dood beskou, omdat dit in die Noordelike Halfrond die begin van die winter was: die blare het geval, dit het vroeër donker geword, en temperature het gedaal. Hulle het geglo dat hulle sondod krag verloor en Samhain, die heer van die dood, die sondod oorweldig. Die druïde het ook geleer dat Samhain op 31 Oktober, die vooraand van die fees, die geeste van almal wat in die voorafgaande jaar gesterf het, byeenbring om na hul voormalige huise terug te keer en die lewendes te besoek.
Mens- en diereoffers
Op Halloween het druïde-priesters, oor duisende jare heen, duiwelse aanbiddingsrituele gehou waarin katte, perde, skape, osse, mense en ander offers bymekaargebring, in wicca-hokke gestop en lewend verbrand is. Hierdie mens- en diereoffers was blykbaar nodig om Samhain te paai en te keer dat die geeste hulle skade aandoen.
Lekker of lastig (trick or treat)
Om hierdie offers te bekom, het druïde-priesters van huis tot huis gegaan en vir vetgemaakte kalwers, swart skape en mense gevra. Aan die wat gegee het, is voorspoed belowe; die wat geweier het, is gedreig en vervloek. Dit is die oorsprong van “trick or treat”.
Jack‑o’-lantern
Die jack‑o’-lantern het sy oorsprong in die kersverligte pampoen – of skedel – wat as ’n teken gedien het om die plase en huise te merk wat die druïde se godsdiens gesteun het, en so die “traktement” gesoek het wanneer die skrik van Halloween begin het. Die Wêreldboek-ensiklopedie sê: “Die skynbaar onskadelike, verligte pampoengesig van die jack‑o’-lantern is ’n antieke simbool van ’n verdoemde siel.”
Dans van die dood
Terwyl mense en diere in pyn geskree het terwyl hulle lewend verbrand is, het die druïde en hulle volgelinge klere van dierevelle en –koppe aangetrek. Hulle het gedans, gesing en deur die vlamme gespring in die hoop om bose geeste af te weer.
Huis van gruwels
Een van Halloween se gewilde “helde”, Graaf Dracula (oftewel Vlad die Deurboorder), was ook ’n werklike persoon. Dracula het van 1431 tot 1476 geleef. Tydens sy sesjarige bewind het Graaf Dracula meer as 100 000 mans, vroue en kinders op afgryslike maniere om die lewe gebring. Hy het ’n plan beraam om sy land te “verlos” van die las van bedelaars, gestremdes, siekes en bejaardes deur hulle na ’n feesmaal in een van sy paleise te nooi. Hy het hulle goed gevoed en dronk gevoer. Toe het hy gevra: “Wil julle sonder sorge wees en aan niks in die wêreld gebrek hê nie?” Toe sy gaste “Ja!” skree, het Dracula beveel dat die paleis toegespyker en aan die brand gesteek word. Niemand het hierdie oorspronklike “huis van gruwels” ontkom nie.
Die Woord van God
“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie. Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ’n besweerder by jou wees nie en ook nie ’n towenaar of iemand wat voortekens lees of ’n goëlaar of ’n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. Die Here het ’n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf. Jy moet opreg wees voor die Here jou God. Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.” (Deut 18:9-14)
Deelname aan heidendom
In plaas daarvan om aan heidense praktyke deel te neem, met Wicca saam te loop, in pas met Halloween te wees, ons kinders wreedheid te laat vier en met ’n dag van die dood te flankeer, behoort ons ons gesin en gemeente te fokus op die viering van Hervormingsdag.
Hervormingsdag teenoor Halloween
Dit was op 31 Oktober 1517 dat dr. Martin Luther die 95 Stellings op die deur van die slotkerk (Schlosskirche) in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het. Sy dapper uitdaging teen die onbybelse praktyke van die middeleeuse Rooms-Katolieke pousdom het die Protestantse Hervorming aangevuur. Alle Bybelgelowige kerke behoort die grootste herlewing van geloof en vryheid ooit te vier. Die Hervorming was een van die belangrikste draaipunte in die wêreldgeskiedenis. Die energie wat vrygestel is deur die herontdekking van die Bybel in die volkstaal het tot die mees merkwaardige geestelike herlewing in die geskiedenis gelei. Die Hervorming het Christene in Noord-Europa bevry van die dekadensie van Renaissance-heidendom en het tot die grootste vryhede en wetenskaplike ontdekkings in die geskiedenis gelei.
Elke Bybelgelowige Christen behoort die Hervorming te vier. Geen Christen behoort deel te hê aan die viering van die okkultiese Halloween nie.
Ons is in ’n geestelike wêreldoorlog. Wreedheid teenoor diere, vandalisme en moorde kom met veel groter frekwensie tydens Halloween voor. Elke Halloween word duisende diere, en selfs mense, in sataniese rituele wêreldwyd geoffer, terwyl miljoene ander mense – insluitend goedbedoelende Christene – aan Halloween-vieringe deelneem. Halloween is ’n primêre werwingsgeleentheid vir hekse en sataniste. Baie mense het getuig dat hulle by ’n Halloween-partytjie aan die okkulte bekendgestel is. Halloween is baie godsdienstig, maar dit is nie Christelik nie. “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom 12:21)
Kies die lewe
Neem op 31 Oktober ’n standpunt in teen Halloween deur jou gesin en gemeente te mobiliseer om die Hervorming te vier, en om hulle toe te wy aan geestelike stryd, ernsige gebed, die bid van die Psalms, en die deel van die Evangelie met ons vriende en bure – veral dié wat dalk onbedag deelneem aan hierdie okkultiese viering van waarsêery, nekromansie, mense-offer en wreedheid teenoor diere.
“Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God; doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees, en wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” (Ef 6:10-18)
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 31/10/2025
Foto slegs ter illustrasie. www.freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








