Geskryf deur: Karlien van der Merwe
Dit was Paastyd en ek was saam met my gesin by ’n skou toe ek skielik hewige pyn in my voete kry en swaar begin loop het. My dogter was op daardie stadium in graad 3 en my seun in graad 6. Ek het pynmedikasie gekry, maar dit het nie gehelp nie.
Karlien saam met haar man, David, haar seun David en haar dogter Belindi.
Sistemiese lupus eritematose
Ek is na ’n rumatoloog verwys, en bloedtoetse het bevestig dat ek sistemiese lupus eritematose (SLE) het. Dit is ’n chroniese outo-immuunsiekte wat verskeie organe en weefsel in die liggaam kan aantas. Gesonde selle teiken die liggaam se immuunstelsel wat tot inflammasie lei. My simptome was onder andere uitputting en pyn in my gewrigte. Elke dag was die inflammasie in ’n ander gewrig. Dit het gewissel tussen my vingers, polsgewrigte, heupe, knieë, arms en voete. Sommige dae was dit so erg dat dit ’n uitdaging was om selfs net te loop. Ek kon met tye nie eers self uit die bad klim nie, my man moes my uithelp.
Behandeling
Die behandeling waarmee ek begin het, het bestaan uit immuunstelselonderdrukking, simptomatiese medisyne vir die pyn, en lewenstylverandering. Ek het met ander mense wat ook die siekte het begin kommunikeer en almal het raad gegee. Onder andere is die uitsny van stysel voorgestel om pyn minder te maak, maar niks het gehelp nie. Ek het 10 kg verloor en my hare het begin uitval. Ek het ook kort-kort sekondêre infeksies gekry as gevolg van die immuunonderdrukking, soos ooginfeksies, gordelroos, urienweginfeksies, en meer.
Tydens haar stryd teen lupus het sy aanhou oefen en ten spyte van uiterste pyn gereeld 60 km-uithouritte op Peppi, haar perd, aangedurf.
Siekte sal nie my vreugde steel nie
Toe ek aanvanklik gediagnoseer is, was my stokperdjie om 60 km-uithouritte met my perd te ry. Dit het beteken dat ek ten minste drie tot vier dae per week moes oefen, bo en behalwe die uithouritte self. Toe ek met lupus gediagnoseer is, het ek egter besluit ek sal nie dat die siekte my vreugde steel nie. Ek het aanhou oefen, deelgeneem aan ten minste drie uithouritte per seisoen, ek was ‘n voltydse ma vir my kinders terwyl ek ook my eie huiswerk behartig het.
’n Wil om positief te bly en volharding in gebed
By sommige uithouritte kon ek skaars loop van die pyn, maar ek het opgeklim en gery, en almal suksesvol voltooi. Een so ‘n uithourit het ek aangedurf met gordelroos ook. My wil om positief te bly en elke uitdaging voluit aan te pak het my gedra. Maar die belangrikste was my gebede en geloof dat die Here my sal genees. Sommige dae was moeiliker as ander; ja, ek het dae gehad wat alles vir my te veel was – dit is menslik.
Totsiens medikasie
Op ’n dag het ek besluit om al die medikasie wat my immuunstelsel onderdruk weg te gooi. Ek het my dokter gevra vir slegs een pynpil wat ek oordeelkundig gebruik het, net vir die dae wat die pyn te veel was. Wanneer ons met vakansie gegaan het, het my dokter vir my medikasie voorgeskryf wat my pynvry sou hou vir die week of twee wat ons weg was.
Die Here het my genees!
Nadat ek vier jaar met die siekte geworstel het, het ons gesin een Desember vir ’n paar dae met vakansie gegaan. Ek was toe op die “pynvrye medikasie”. Wanneer ‘n mens klaar is met die kursus, moet jy jouself daarvan speen. Met ander woorde, elke dag drink jy een pilletjie minder as die vorige dag totdat die kursus voltooi is. Ek het dit so gedoen, soos menige keer vantevore, en my simptome het nooit weer teruggekom nie. Ek het sommer dadelik geweet die Here het my genees!
Bloedtoetse bevestig die wonderwerk
Ek het my rumatoloog laat weet dat ek simptoomvry is, en hy het aanbeveel dat ek bloedtoetse ondergaan om dit te bevestig. Ek het na my huisdokter toe gegaan vir bloedtoetse en sowaar, daar was daar geen teken van die lupus nie! Dit terwyl my dokter destyds vir my gesê het ek moet vrede maak met die feit dat ek vir die res van my lewe lupus sou hê.
Ek is vas oortuig dat my genesing te danke was aan my ware geloof in genesing en volharding in gebed. Ek het ook positief probeer bly, elke dag voluit aangepak, en ek het nie toegelaat dat die siekte in my gedagtes “klim” nie. Dit was in my liggaam, maar nie in my wil nie.
Hou aan glo!
Dit was moeilik vir my gesin. My dogtertjie moes by die skool vertel wat in haar lewe vir haar die ergste was en haar antwoord aan haar juffrou was: “Mamma se siekte!” Ons hele gesin is baie dankbaar teenoor die Here vir sy goedheid en die wonderwerk wat Hy vir ons gebring het. Ek sal nooit ophou om vir Hom dankie te sê nie.
My boodskap aan die persoon wat hierdie lees en dalk self worstel met ’n ongeneeslike siekte of omstandigheid, is om positief te bly, te volhard in gebed en te glo in die krag van gebed!
KARLIEN VAN DER MERWE – JUIG!-leser van Pretoria
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 19/09/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.