Deur Jackie de Lange
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

In ’n wêreld wat dikwels deur konflik en twis verdeel word, is daar oomblikke wat ons herinner aan die mensheid wat ons gemeen het. Dit was die geval tydens ’n onlangse feitesending na Israel en die Gaza Envelope (’n gebied wat aan die Gasa-strook in Suid-Israel grens). South African Friends of Israel (SAFI), die Internasionale Christen-ambassade Jerusalem (ICEJ) en Diploact was gasheer vir ’n groep politici en Christen-leiers.

’n Feitesending vir vrede
Hierdie reis is gebore uit ’n begeerte van die Christen-gemeenskap om solidariteit met die burgers van Israel en die slagoffers van 7 Oktober te bewys – ondanks ons regering se vyandige standpunt. Ons het ’n reis aangepak wat nie net perspektiewe sou verhelder en inligting verskaf nie, maar ons ook diep ontroer toe ons die gesinne van die gyselaars ontmoet het, met Israelse diplomate vergader en met gewone burgers gesels het. Wat in die loop van ons reis ontvou het, was ’n tapisserie van ervarings wat ’n onuitwisbare indruk op elkeen van ons gemaak het.

Voetsoolvlakontmoetings
Ons het op die eerste dag na Judea en Samaria gereis (wat deur anti-Israel-kritici as “die besette Wesoewer” bestempel word). Hier het ons Shiloh besoek, die antieke Bybelse terrein van die eerste tabernakel en die godsdienstige en militêre hoofstad van Israel gedurende die tye van die Rigters. Ons het vir die land en die mense van Israel gebid en na ’n veiligheidsbeampte geluister wat die “setlaarsgeweld”, waarvan ’n mens in die sekulêre media hoor, akkuraat en getrou aan die waarheid aan ons verduidelik het. Natuurlik werp sy eerstehandse verslae lig op die uiters onsekere posisie waarin Joodse inwoners hulle daagliks bevind met Moslem-ekstremiste wat geweld aanhits en eiendom vernietig.


ONDER: Uitgebrande motors naby die Nova-feesterrein.

Daardie aand het ons ’n Sabbat-ete saam met ’n plaaslike gesin in Jerusalem genuttig – ’n roerende ervaring vir almal. Dit het die gesin verras dat ons in vrede gekom het, in skrille kontras met die anti-Semitiese ingesteldheid van ons pro-Hamas-regering.

Besoek die streek aangrensend aan die Gasa-strook
Halfpad deur die toer het ons die Gaza Envelope besoek wat die terrein van die Nova-fees en verskeie kibboetse insluit wat op daardie noodlottige dag geterroriseer is. Ons het vroegoggend van ons hotel af vertrek en eers aangedoen by die stortingsterrein vol uitgebrande motors wat deur Hamas vernietig is. Dit was skrikwekkend om die uitgebrande motors en ambulanse te sien, vol koeëlgate. Ons was sprakeloos en het besef dat die roet waarskynlik ook die as bevat van slagoffers wat onthoof en verbrand is. (Sommige slagoffers is lewend verbrand.)


Die uitgebrande huise en kinderspeelgronde by Kibboets Nir Oz was hartverskeurend om te aanskou.

Verlate maar nie vergete nie
’n Bus vol jong soldate het aangekom (hulle word na hierdie terreine gebring om hulle te motiveer vir hul taak en dapperheid aan te wakker). Verskeie lede van ons groep het met die dienspligtiges gesels en mussies wat liefdevol deur Suid-Afrikaners gemaak is, aan hulle oorhandig. Die trane het gevloei toe die soldate die geskenke ontvang en ons groep vir hulle gebid het.

Ons het daarna by die terrein van die Nova-musiekfees (minder as 6 km van Gasa af) gestop. Dit is waar meer as 360 hoofsaaklik jong mense vermoor en talle ander ontvoer is. Om die plakkate met hierdie jong gesigte daarop te sien het sommige lede van die groep oorweldig. Een pastoor het in trane uitgebars toe hy hom die chaos voorgestel het met die terroriste wat die terrein omsingel het en hoe bang die slagoffers moes wees toe hulle op motorfietse ontvoer is.


Die Nova-terrein-gedenkteken

Ondanks mense se menings oor die Palestyns-Israelse konflik, moet almal besorgd wees oor die gyselaars – bid en pleit dat hulle kan terugkeer huis toe. Ongelukkig is die 130+ wat nog in aanhouding is, grootliks deur die media (en wêreld) vergeet.

Ons durf nie swyg nie
Ons laaste stop was Kibboets Nir Oz, ’n terrein wat deur Hamas vernietig is. Ons het tussen uitgebrande huise deur geloop en die verhale van inwoners gehoor (wat oorleef het omdat hulle daardie noodlottige dag nie tuis was nie). Terwyl ons na hulle geluister en in hul leed gedeel het, is ons diep ontroer deur die berekende gruwels wat die slagoffers moes verduur.


Gyselaarsplein


’n Replika van ’n Hamas-terreurtonnel


’n Pastoor wat bid en speel vir vrede!

Op pad huis toe het ons by Gyselaarsplein in Tel Aviv aangedoen, ’n informele gedenkterrein waar voorspraak vir die gyselaars gedoen word. Ons het van ’n gyselaarsgesin gehoor en saam met die oupa gehuil terwyl hy ons vertel het van die nagmerrie wat hulle verduur met hul seun wat steeds in gevangenskap is.

In die vliegtuig op pad huis toe was ons beswaard oor alles wat ons gesien het, maar te midde van die hartseer was daar ook ’n sprankie hoop en ’n vasbeslotenheid – ’n oortuiging dat die goeie wel deur ons kollektiewe pogings die bose sal oorwin (maar nie as ons swyg nie)! Dankie aan SAFI en ICEJ vir julle noodsaaklike pogings.


—deur Jackie de Lange, direkteur van JOY! Travel

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 19/05/2024
Foto: Ons afvaardiging by die Israelse parlement.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here