Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf 

Vroue in Beweging, ‘n inisiatief van die Solidariteit Beweging wat deur Solidariteit Helpende Hand gedryf word, het Vrydag tydens ‘n merkwaardige geleentheid meer as R6 miljoen toegestaan om vroue te bemagtig.

Vroue in Beweging het ‘n gholfdag spesiaal net vir vroue aangebied om vrouekrag te vier. Hierdie geleentheid, die eerste van sy soort, was nie net ‘n viering van vroue se bydrae tot sport en die gemeenskap nie, maar ook ‘n fondsinsamelingsinisiatief met ‘n kragtige impak.


René Roux kondig aan dat R6 miljoen aan vrouebemagtiging toegestaan gaan word

Die dag is by die Copperleaf Golf Estate in Centurion gehou en het ‘n veiling ingesluit om fondse in te samel vir twee sleutelprojekte: rentevrye studielenings vir vrouestudente vir tersiêre onderrig, en die HelpHetta-projek wat sanitêre ware verskaf aan 3 500 meisies in Afrikaanse gemeenskappe wat dit nie kan bekostig nie.

‘n Besondere hoogtepunt van die dag was die aankondiging dat ‘n weldoener, wyle me. Stella Maria Laredo, R6 miljoen in haar testament nagelaat het vir die bemagtiging van vroue en studiefondse wat deur Solidariteit Helpende Hand se Studietrust bestuur gaan word.


Rhona Erasmus en René Roux

“Hierdie ongelooflike gebaar beklemtoon die gemeenskap se toewyding aan die ondersteuning van vroue en die belangrikheid van vroue se rol in die samelewing,” sê René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van media en woordvoering.

Die geleentheid het verder gesorg dat elke vrou wat dit bygewoon het, lekker bederf is. Die aandfunksie het vermaak ingesluit met ‘n optrede deur Jan Jan Jan. Die veiling is deur Jaco van Wyk van Woes TV behartig en Rika Niewoudt van Toks en Tjops was die aanbieder.


Jan Jan Jan tree op

Bekendes soos Rhona Erasmus, Monique Steyn, Carma, CheraLee, Elme Churr en Rene du Preez van attooh! het ook die dag bygewoon, wat die geleentheid ‘n glansryke atmosfeer gegee het.

“Vroue in Beweging bly toegewyd aan die bemagtiging van vroue deur hul werk, welstand, opleiding, geloof, kultuur, en gemeenskap te bevorder. ‘n Gemeenskap kan slegs bevorder word as die gemeenskap self intree om die verskil te maak. Dus wil hierdie inisiatief vroue motiveer om ook mekaar se belange op die hart te dra. Met die ondersteuning van borge soos Mercedes Centurion, AfriForum Sport, Real Skin, en The Marketing Zoo was die gholfdag ‘n reusesukses en ‘n bewys van wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan vir ‘n edele saak,” sê Roux.

Vir meer inligting oor die HelpHetta-projek en om bydraes te maak, besoek www.helphetta.co.za. Besoek www.ondersteunons.co.za om deel te word van die Solidariteit Helpende Hand-familie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 11/03/2024
Foto: Vroue in Beweging het ‘n gholfdag spesiaal net vir vroue aangebied

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here