Artikelbron: premierchristian.news en religionnews.com
Die vooraanstaande Christen-leier en kampvegter vir menseregte, pastoor Hkalam Samson, is kort ná sy vrylating weer in Mianmar in hegtenis geneem. Hy was net ’n paar uur uit die tronk toe hy weer in hegtenis geneem is.
Die leraar was een van meer as 3 000 gevangenes wat in Mianmar vrygelaat is vir die Thingyan Nuwejaarsviering. Dit is die gebruik in die land om op daardie dag amnestie aan ’n groot aantal gevangenes toe te staan. Samson is die voormalige hoof van die Kachin Baptiste Konvensie en voorsitter van die Kachin Nasionale Raadgewende Vergadering.
Die leraar is ’n bekende kampvegter vir die regte van etniese en godsdiensminderhede in Mianmar, wat hom outomaties ’n teiken vir militêre owerhede maak. In 2019 was hy deel van ’n afvaardiging wat president Donald Trump by die Amerikaanse Withuis ontmoet het om die weermag se misdade in Mianmar te bespreek. In 2022 is hy in sy eie land gearresteer. Hy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir opruiing en terrorisme.
Danksy die tradisionele amnestie is hy binne twee jaar vrygelaat. Dit was egter van korte duur. Nadat hy vrygelaat is, het veiligheidsmagte dieselfde aand na sy huis gekom om hom weer in aanhouding te plaas. Die amptelike verduideliking van die owerhede is dat hulle dit vir sy eie veiligheid gedoen het.
Christene en ander minderhede in Mianmar staar voortdurende vervolging in die gesig. Sedert die militêre staatsgreep in 2021 het die situasie vir godsdiensminderhede in die land selfs verder versleg. In totaal is sowat ses persent van die bevolking in Mianmar Christene. Daardie persentasie is baie hoër in Kachin-staat, waar Samson woon (34%).
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 06/05/2024
Foto: facebook.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.