Geskryf deur: Johan van Niekerk

Lente, met sy vars bloeisels, warmer dae en die belofte van nuwe lewe, bied ’n pragtige metafoor vir ons geestelike groei in Jesus. Net soos die natuur deur ’n seisoen van vernuwing gaan, kan ons verhouding met Jesus ook hernu word en verdiep in hierdie tyd. Lente is ’n tyd van hoop en transformasie, dit weerspieël die proses waardeur ons geloof versterk, vernuwe en groei in die teenwoordigheid van Christus.

 Lente is ’n tyd van hernuwing
Ek is altyd bly wanneer die kaal bome begin bot, blomme weer blom, en diere uit hulle winterslaap ontwaak. Hierdie vernuwing simboliseer die versterking van ons geloof en ons liefdevolle verhouding met Jesus. Vir Christene bied geloof in Jesus Christus ’n vars, nuwe begin – ongeag die foute en mislukkings van die verlede. Soos Paulus skryf: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17). Net soos die aarde in Lentetyd vernuwe word, bied ons geloof in Jesus Christus vir ons ’n geleentheid vir ’n nuwe begin. Wanneer ons God in geloof volg en Hom liefhet met ons hele hart, siel, krag en verstand – en ons naaste soos onsself – gee God aan ons daagliks ’n tweede kans. Jy kan Hom vandag vra om jou te help om hierdie nuwe lewe in Hom te leef.

Hoe ons geloof groei en ontwikkel
Ons geloof in Jesus Christus begin soos ’n saadjie – klein en broos – maar met die regte voeding en sorg, kan dit groei. Die Bybel gebruik dikwels landboubeelde om geloof te verduidelik. Jesus sê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak” (Mat 13:31-32). Net so begin ons geloof klein, maar deur daaglikse gebed, Bybellees, aanbidding, gemeenskap met medegelowiges en om alles in liefde te doen, begin dit groei. Wanneer ons die Heilige Gees toelaat om ons te lei, groei ons vertroue in God en sy beloftes. Lente herinner ons dat groei tyd en geduld verg. ’n Tuin blom nie oornag nie – dieselfde geld vir geloof. Daar is tye van sukkel, droogte en snoei, maar God is altyd besig om in ons te werk. Moenie moed opgee as jy in ’n moeilike seisoen is nie – hou aan snoei, water gee en beweeg vorentoe.

Die belangrikheid om ons geloof te voed en te Koester
Net soos ’n tuinier sy tuin versorg, moet ons ook doelbewus ons geloof koester en onderhou. In die Lentetyd verwyder tuiniers die onkruid, berei die grond voor en plant nuwe saadjies. In ons geestelike lewe moet ons alles verwyder wat ons geloofsgroei kan verhinder – afleidings, sondes en gewoontes wat ons stuit. Soos Hebreërs 12:1 ons aanmoedig: “Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en met volharding die wedloop hardloop wat vir ons voorlê.”

Gereelde gebed, Bybelstudie, lofprysing en aanbidding is noodsaaklik vir geestelike groei. Soos ’n plant water, sonlig en die regte grond nodig het om te floreer, het ons geloof ’n geestelike voedingsbron nodig. Wanneer ons daagliks tyd maak vir God, laat ons toe dat sy “lentereëns” van genade op ons neerdaal – dit versterk ons en laat ons geloof groei. Ons moet doelgerig wees in ons geestelike groei – diep gewortel in God se Woord – en voluit lewe vir God en sy Koninkryk.

 Die roeping om vrug te dra
Soos plante groei, dra hulle uiteindelik vrugte. Net so behoort ons groei in geloof te lei tot geestelike vrug – goeie werke, liefde vir ander, en ’n lewe wat die karakter van Jesus Christus weerspieël. Jesus sê: “Ek is die wingerdstok; julle is die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5). Ons geloof is nie bedoel om te stagneer nie – dit moet groei en vrug dra. Net soos ’n gesonde plant in Lentetyd blom en vrugte oplewer, moet ons geloof lei tot dade wat God verheerlik en ander dien. Vrug dra is die natuurlike gevolg van ’n lewe verbind aan Christus deur sy Heilige Gees. Hoe meer ons die Gees toelaat om in ons te werk, hoe meer sal ons God se liefde en genade weerspieël teenoor ander. Of dit deur dade van omgee, barmhartigheid, liefdadigheid, die deel van die Evangelie of ondersteuning aan ons gemeenskap is – ons geloof moet sigbaar word deur liefde en diensbaarheid.

 Die hoop van die ewige lewe
Met Paasfees vier ons die opstanding van Jesus Christus – ’n wonderlike herinnering dat sonde en dood oorwin is! Ons hoop rus op hierdie opstanding, want omdat Jesus leef, sal ons ook vir ewig lewe. Ons geloof is gegrond op die versekering dat Jesus Christus die dood oorwin het, en dat ons deur Hom en sy Heilige Gees reeds nou die volheid van lewe kan ervaar – nou én tot in ewigheid. Die skoonheid en lewenskrag van die Lentetyd dien as ’n tasbare herinnering van die hoop wat ons in Christus het. Net soos blomme oopgaan en bome nuwe blare dra, ontvang ons nuwe lewe in Hom. Soos ons in geloof groei, sien ons met vreugde uit na die ewige lewe wat vir ons gereed is by sy wederkoms.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 01/09/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here